Dit is die eerste keer in ’n jaar wat ek eintlik op ’n behoorlike vakansie is. Ek is so opgewonde, want ek gaan tyd kry om ’n bietjie te ontspan. Dit gebeur nooit nie. As ondersoekende dierkundige werk ek snags tot laat en het ek omtrent nooit vrye tyd nie; daarom is ek baie dankbaar oor die vakansie wat ek nou het.
Ek het twee weke gelede my vakansie in Madagaskar bespreek. Dit was nog altyd een van my drome om op Madagaskar vakansie te hou. Ek wou nie vlieg nie, al is die prys van ’n vliegtuigkaartjie net R50. Daar is so baie ander opsies, maar ek het besluit om die nuwe ondergrondse seeroete te vat. Jy word binne ’n uur in ’n bal ondergronds na Madagaskar vervoer. Ek is baie nuuskierig om die nuwe vervoerstelsel te toets.
Op pad na die ondergrondse vervoerstelsel luister ek na die nuus op die radio. Ek kan my ore nie glo nie. Ek weet nie of ek opgewonde of teleurgesteld moet wees nie. Daar is blykbaar ’n massiewe kompetisie in Madagaskar vir al die ondersoekende dierkundiges in die wêreld en dit begin vandag. Groot pryse is ter sprake, waarvan die eerste prys ’n miljoen rand is.
Daar gaan my vakansie. Ek sal aan die kompetisie moet deelneem. Almal moet ’n ondersoek aflê en probeer om die interessantste ding van diere uit te vind.
Na die ondergrondse rit kom ek in Madagaskar aan. Dit is pragtig, maar daar is baie min mense. Die eiland is vol robotte; dit voel amper soos Litsostad, waar daar net so min mense was. Ek moet in elk geval werk, so daar gaan nie te veel tyd wees vir kommunikeer nie. Die robotte sal my nie pla nie.
Die eerste ding wat ek op die ondergrondse seeroetestasie sien, is die inskrywingstalletjie vir die kompetisie. Ek skryf dadelik in en sien dat die inligting en bewyse van jou uitvindsel al die volgende oggend tienuur in moet wees; so ek sal dadelik moet begin met my ondersoek.
Daar is so baie woude, bosse en perfekte habitats vir diere om te lewe. Ek begin my ekspedisie in die digte woude van Madagaskar. Die dag voel al so lank vir my en ek het nog niks gevind nie. Die woud is vol diere, maar ek kry nie kans om hulle te ondersoek nie. Die paadjies is asemrowend mooi en al vorder ek nie veel met my ondersoek nie, is die uitsig absoluut pragtig.
Die woud is tjoepstil. Ek loop nog rustig en toe hoor ek ’n sagte, dringende stemmetjie wat skree: “Hardloop, die skoen gaan jou plattrap! Vinnig!” Ek kyk om, maar niemand is te siene nie. Dit is baie vreemd. My oë soek deur die woud, maar daar is nie ’n enkele siel nie. Ek staan botsil en luister. Ek hoor weer die sagte stemmetjie, maar die stemmetjie huil nou. Ek luister mooi en besef dat die klank van onder af kom. Kan dit wees? Miere staan in ’n sirkel en dit klink asof die klank uit hulle liggaam uit kom. Dit kan tog nie waar wees nie. Miere kan nie praat nie? “Mense gee niks om nie! Hulle maak ons net dood asof ons niks voel nie. Ons sal weer huise moet binnevaar en kos moet steel om wraak te neem.” Die stemmetjie praat weer. Dit moet verseker die beste ding wees wat ek al ooit ontdek het in my tien jaar van werk.
“Ekskuus tog ... um. Miere? Ek hoor dat julle baie ontsteld is oor ’n sekere situasie en ek het dalk ’n oplossing.” In geskokte stemme antwoord die miere: “Nee! Hy het gehoor ons kan praat. Die geheim is uit. Hoe gaan die res van die mierwêreld ons ooit vergewe? Ons het die geheim laat uitlek. Wat gaan ons doen, ouens?” “Luister na my, ek het ’n idee,” het ek toe vir die miere gesê.
Ek het met die plan in my kop gekom dat ek dalk ’n program kan stig om regoor die wêreld mense bewus te maak daarvan om miere te respekteer en nie dood te maak nie. So sal die miere nie meer ons huise kom aanval nie en die miere sal ook nie meer familielede verloor nie. Ek het dit aan die miere vertel, maar het gesê dat ek hulle sal moet gebruik vir my kompetisie en aan die beoordelaars sal moet bewys dat miere kan praat – dan eers sal ek die program aan die gang sit. Aangesien die miere daagliks honderde van hulle familie en vriende verloor, het hulle ingestem om met die beoordelaars te praat.
Die volgende oggend het ek die miere gevat en al die ander deelnemers het met ongelooflike uitvindsels gekom, maar dit was niks in vergelyking met miere wat kan praat nie. Ek het my uitvindsel voorgelê aan die beoordelaars en elke mens in die gehoor was histeries. Hulle kon dit nie glo nie. Hulle het my dadelik gekroon as die wenner van die miljoen rand.
Ek was so bly oor die prys, maar ek het geweet dat ek dadelik aan die mierprojek sou moes begin werk, want anders sou hulle my huis kom ruïneer.

