Dit is ’n tipiese Vrydagmiddag by Hoërskool Stutterheim. Die klaskamers lawaai met studente wat hulle planne vir die naweek deel. Die klok lui presies eenuur. Die wetenskap-onderwyser herinner sy graad tiens aan hulle projek wat die volgende week in moet wees. “ En Blignaut, onthou, jy het die punte nodig,” sê mnr. Untiedt ernstig. “Moenie bekommerd wees nie, Meneer, ek sal goeie punte behaal.”
Daardie aand het Marko sy pa gevra om hom met sy projek te help. “Marko, ek het nie tyd om skoolprojekte te doen nie!” sê dr J Blignaut, ’n neuroloog. “Help tog die kind, Johan!” smeek Marko se ma. “Hy vra nooit jou hulp nie.” “Ek weet, Marian, dis hoekom hy altyd so sleg doen. Sy brein moet gestimuleer word.” “Dis nie snaaks nie,” sê Marko se ma. “Ek is jammer. Marko, jy kan my laboratorium gebruik, maar moet aan niks in die kantoor raak nie – verstaan ons mekaar?” sê sy pa streng. “ Ja, dankie Pa.”
Die volgende dag was Marko vroeg in sy pa se lab. Hy sit sy lêer op sy pa se werkbank neer en haal sy projek uit. Bo-aan die papier staan “Vergelykings”, wat die verhouding tussen afstand, tyd en snelheid verduidelik. Hy het geen idee wat die titel beteken nie en begin in die laboratorium rondloop. Hy sluip sy pa se kantoor binne en kyk rond. Op die lessenaar is ’n dik lêer met die woorde “TOP SECRET” in rooi geskryf en onder staan “UNEBSP”. Marko sit die lêer terug op die tafel en tel iets op wat soos ’n motorfietshelm lyk. Die helm het drade wat aan ’n skootrekanaar gekoppel is. Marko sit die helm op en maak die skootrekenaar oop. Die helm begin lawaai en hy kan ’n trilling deur sy kop voel. Die helm het skielik styf om sy kop gesit en het hom begin skok. Hy’t probeer om die helm af te haal, maar hy kon nie. Vinnig maak hy die skootrekenaar toe. Hy verwyder die helm en voel duiselig. Hy het na sy kamer gehardloop en het daar gebly vir die res van die naweek, bekommerd dat sy pa sou besef dat hy in die kantoor was.
Maandagoggend het Marko die eerste periode wetenskap. “Marko, hoe ver is jy met jou taak?” “Wel, om eerlik te wees, Meneer, ek het nog nie daarmee begin nie.” Mnr Untiedt het net sy kop geskud en voortgegaan: “Vir dié van julle wat al begin het, kan julle asseblief vir my sê wat die vergelyking vir snelheid is?” Tot almal se verbasing skree Marko uit: “Gemiddelde snelheid is gelyk aan die verplasing gedeel deur tyd!”. “Dis reg ja, Blignaut. Ek dog jy’t gesê jy het nie met jou taak begin nie?” sê ’n beïndrukte mnr Untiedt.
Daardie aand tydens aandete het sy pa sy projek op die tafel gesit. “Jy’t dié in die laboratorium gelos. Ek het jou ’n bietjie gehelp, maar ek het die vergelyking vir snelheid vergeet ...” “Gemiddelde snelheid is gelyk aan die verplasing gedeel deur tyd,” sê Marko. “Dit klink reg! Hoe het jy dit geweet?” het sy pa gevra. “Dit is mos algemene kennis, Pa.” “Nie vir jou nie, seun! Nie om lelik te wees nie, maar jy’s nie goed met wetenskap nie.” “Sê wie? Vandag het ek ’n maklike vraag beantwoord in die klas en almal was verbaas.” “Probeer jy vir my sê dat jy die antwoord geken het en geeneen van die ander kinders het dit geweet nie?” “Ja. Hoekom is dit so moeilik om te glo?”
“Marko, was jy in my kantoor?” Marko het dit gou ontken, maar sy pa het hom nie geglo nie. Toe staan hy op en loop uit die eetkamer. Met sy terugkoms het hy papiere en ’n pen by hom gehad. Op die papiere was die nege-kolletjies-legkaart. Toe sê hy vir Marko hy moet die kolletjies met mekaar verbind met vier lyne sonder om die pen van die papier af te lig. Marko het ’n bietjie daaroor gedink, toe doen hy dit. Daarna het sy pa vir Marko ’n bladsy met ’n valse vergelyking in Romeinse syfers gegee en hom gevra om dit waar te maak deur net een van die lyne te skuif. Marko het ’n bietjie gedink; toe wys hy sy pa die lyn. Sy pa het vir ’n oomblik na hom gestaar. Toe sê hy rustig: “Jy’t die helm opgesit – is dit reg?” “Ja, Pa, maar ...” Sy pa lig sy hand om hom te keer. “Goed, nou gaan jy my alles vertel wat gebeur het vandat jy die helm opgesit het.” “Ja, Pa ...”
Toe verduidelik Marko alles vir sy pa en toe hy klaar is, het sy pa hom na sy kamer toe gestuur. Na ’n uur het sy pa hom geroep. “Marko, ek glo nie ons moet dit vir jou vertel nie, maar jou ma voel jy moet dit weet. Ek werk saam met die Verenigde Nasies aan ’n geheime opdrag wat Uniform November Echo Bravo Sierra Papa genoem word, of United Nations Electric Brain Stimulation Project. Die idee was blykbaar Allan Snyder, ’n neuroloog, s’n. Ek gaan nie alles vir jou verduidelik nie, maar die toestel is nog in die toetsfase, so môre gaan jy Amerika toe vlieg en vir ’n week in die John Hopkins Hospitaal bly vir waarneming. Ek en jou ma gaan hier bly. Een van die ouens van die werk sal saam met jou gaan, en Marko, ons gaan nie hieroor stry nie, hoor jy?”
Marko was so geskok hy kon niks sê nie. Die volgende week het gou verbygegaan en hy was terug in Suid-Afika. Toe hy by die lughawe kom, was sy pa se vriend, Chris, daar. In die kar het hy gesê: “Seun, ek het slegte nuus.”
Marko se ouers is vermoor deur terroriste wat hul huis aangeval het op soek na die toestel. Die verlies was te veel vir Marko. Na die begrafnis het hy verhuis na ’n geïsoleerde kothuis in die Klein-Karoo wat sy ouers besit het. Marko Blignaut bly nou in isolasie van die res van die wêreld en werk aan ’n projek met die kodenaam DJBP, of die Dr J Blignaut-projek.

