Ek hoor die rot. Stadig en saggies gaan ek nader. Vinnig het ek die rot tussen my pote. Mushka en Albina gaan bly wees.
Ek ruik ons sloot soos ek nader kom. Albina kom groet my. Ek laat val die rot. Mushka en Albina staan stil. Hoekom is hulle nie bly nie?
Die voetstappe is skielik hard en voor ek kan weghardloop, het die mense my. My mond is toe; my pote is vasgemaak. Los my! Los my uit!
Die ligte is so helder. Ek lê en wil opstaan. Ek kan nie. My pote is nog steeds vasgebind. Ek is moeg. Die mense het my in ’n hok gesit terwyl ek in ’n groot dier gery het.
Ek is skoon. Die mense het my met water gespuit. Ek haat water. Hulle het my vasgehou en ek kon hulle nie byt nie.
Ek kan niemand sien nie. Daar is net stilte. Ek is honger en dors. Waar ís Mushka en Albina?
Ek is weer in ’n hok. Albina tjank langs my. Ek is so bly om haar te sien! Ek lek haar neus deur die hok. Ek word stil toe ek my hok se deur hoor oopgaan. Die hand gee kos en ek wil dit byt. Voor ek kan, is die deur weer toe. Dit stink en proe nie lekker nie. Ek het nog nooit sulke kos geëet nie. Dit is waterig en proe sleg. Ek wil dit nie hê nie.
Ek gaan lê teen die kant van die hok langs Albina.
Die mense het my uit die hok kom haal. Ek is weer in ’n wit kamer. Daar is ’n harde geluid oor ’n interkom. Die mense praat met mekaar.
“Maak die onderwerp vas. Toets 1, maak reg vir aksie.”
Ek is in ’n jas, vasgemaak deur die mense. Hulle het my in ’n ronde pyp gesit; dit lyk amper soos die groot dier waarin ek gery het. Daar is baie glas en ek kan nêrens uitkom nie. Die groot pyp ruk en daar is baie geraas. Dit maak my ore seer! Ek weet nie wat gebeur nie; die pyp ruk en ruk. Ek is bang dit skud my uit die pyp uit.
Die geruk het opgehou. Die mense praat weer oor die interkom: “Neem onderwerp na kamer 241. Gaan die onderwerp se interne organe na. Berei voor vir toets 2.”
Hierdie kamer is beter as die kamer met die skerp ligte. Ek ruik iets hier. My rug! Die mense het iets op my rug gegooi. Dit laat my pels taai voel. Ek probeer dit aflek. Dis sleg!
“Onderwerp is met jodium behandel oor die rug-area. Interne organe het goed gereageer in vibrasie- en gehoortoets.”
Ek wens hierdie mense wil my net uitlos!
Die mense is baie opgewonde vandag. Ek kan dit aanvoel.
Daar is so baie mense wat met mekaar praat in hierdie kamer.
“Leika hier is nou al deur so baie toetse; sy behoort heel gemaklik te wees wanneer sy in die ruimte is.”
“O ja, dié drie straatbrakke het goed vertoon in al die oefeninge en toetse. Leika is die een wat die hoogste punte behaal het.”
“Die Sowjet is weereens voor. Sputnik 2 stuur die eerste hond na die ruimte!”
“Die media gaan ’n groot dag hê volgende week.”
“Sy gaan die bekendste hond in die wêreld wees.”
Ek het nou al vir ’n paar dae nie kos gehad nie. Net water. Ek dink die mense gaan my iewers heen vat.
Vanoggend is ek baie vroeg wakker gemaak. Die mense het vir my weer die jas aangetrek wat my hele lyf toemaak.
Ek is in ’n masjien. Die mense het dit styf toegemaak en dit het weer begin vibreer. Ek is nie meer bang vir die masjien nie.
“3 ... 2 .... 1 ... Sputnik 2 is op pad na die ruimte!”
Ek gaan op in die lug soos die voëls wat ek altyd vang. Die masjien skud baie erg. Ek hou nie hiervan nie. Die masjien maak ’n groot lawaai. Ek kry warm en ek’s benoud.
Ek weet nie waar ek is nie.
Skielik is dit donker. Ek kan by die venster uit sien dat dit baie donker oral om my is. Ek ken nie hierdie plek nie.
Die mense het gesê ek gaan na die “ruimte” toe.
Ek gaan nooit weer vir Mushka en Albina sien nie. Ek weet, want ek kan voel dat my hart baie vinnig klop.
Ek gaan lê by die venster sodat ek na die “ruimte” kan kyk en maak my oë toe.

