WF 2012: Fantasie

  • 0

“Koop ’n droom.”  Die helderblou advertensiebord vang dadelik my oog.  Die enigste spikkeltjie kleur in ’n waas van vaal.  In die verte sien ek die ashoop, net-net sigbaar deur die stink, grys laag wolke wat soos ’n kombers oor alles lê.  Ek wonder hoe dit gelyk het toe hulle dit nog Tafelberg genoem het, maar dit was lank terug.  “Elize!” Chantelle se dringende roep bring my terug na die hede.  “Kom, jy het uiteindelik genoeg geld. Wil jy regtig nóg langer wag vir jou fantasie?”  Ek onthou skielik hoekom ek hier is.  Fantasieë.  Wetenskaplikes het begin om dit in 2204 te ontwikkel, toe die aarde nie meer gered kón word nie.  ’n Ontsnapping van die vuil wêreld.  ’n Langer en gelukkiger lewe.  Koop ’n droom.  Chantelle is al by die winkel in.  Ek hardloop agter haar aan.  Die klop- klop van my skoene op die teer oorverdowend hard in die onnatuurlike stilte.

Binne is dit soos ’n ander wêreld, pragtig.  Al my bedenkinge oor of ek regtig ’n fantasie wil hê, verdwyn onmiddellik.  Al die gerugte, die onderlangse gepraat dat fantasieë nie heeltemal so fantasties is nie, sypel stadig uit my gedagtes.  Al wat ek onthou, is dat mense met fantasieë die enigstes is wat nog glimlag.  Dat fantasieë jou eie wêreld is.  Letterlik.  Jy kan die res van die wêreld, die toksiese besoedeling, die vervalle stede, die moeë mense, alles, agterlaat.  Ek soek ’n fantasie.  “Goeiedag.”  Die man agter die toonbank groet vriendelik.  “So, ek hoor jy is in die mark vir ’n fantasie?  Wat wil jy hê?  Woestyn?  Woud?  See?”  “Umm …”  Ek kyk na die prente wat hy my wys. Was die wêreld regtig so mooi?  “Woud,” besluit ek uiteindelik.  Ek kan nie onthou wanneer laas ek iets so groen gesien het nie.  Nadat ek ’n hele paar vorms ingevul het, lig die man (wat die heeltyd, nes Chantelle, sy onnatuurlike groot tande in ’n enorme glimlag uitgestal het) my in:  “Jou fantasie is nou aan jou huis gekoppel. Maak die deur oop en jou droom begin.”  Net voor ek by die winkel uitloop, kyk ek terug na die verkoopsman. Hy staar na niks, steeds met die glimlag op sy gesig.

Dit is al amper donker toe ons by my huis aankom.  Ek het stadig gestap.  Vir Chantelle het ek gesê dit is omdat ek moeg is, maar eintlik is dit omdat ek bang is.  Ons het die hele pad in stilte geloop: sy met ’n glimlag op haar gesig wat net as hartseer beskryf kan word, en ek met honderde vrae.  Die oomblik toe ons buite die winkel was, het al my vrese teruggekom.  Wat presies wag vir my by die huis?  Die ding wat my egter die meeste pla, al is ek nie seker hoekom nie, is Chantelle se skielike verskyning.  Ek weet ek behoort bly te wees, maar ons het mekaar vier jaar laas gesien en toe het sy gister, ewe skielik en totaal uit die bloute, op my voorstoep opgedaag en amper … amper dringend versoek dat ek ’n fantasie koop.  Uiteindelik het ek ingestem. Sy bly al vir vier jaar in haar eie een en sy ís my suster.  Dit is met dít in gedagte wat ek my voordeur oopsluit, met ongeloof die mooiste toneel wat ek nog ooit gesien het, waarneem en die laaste twyfel in my hart stilmaak.  Ek draai om om vir Chantelle dankie te sê, maar sy is nie daar nie.  Al wat ek onthou, is die vrolike geraas van die voëls voor alles swart word.

Die eerste ding waarvan ek bewus word, is ’n ongelooflike pyn in my agterkop. Die tweede is dat ek steeds in my woud is en die derde ding is dat ek besig is om van oor tot oor te glimlag, ’n aksie wat beslis nie by my gemoedstoestand pas nie.  Ek probeer om op te hou, maar die onnatuurlike glimlag bly sit.  Skielik hoor ek die onheilspellende geritsel van iemand wat oor die blare aangestap kom.  Te bang om te kyk, bly ek lê, my oë styf toegeknyp.  “Staan op.” Die stem is yskoud.  My liggaam reageer sonder toestemming op die bevel.  My oë vlieg oop, vas in die aakligste gesig wat ek nog ooit gesien het.  Alien.  Dit is wat die gedrog voor my is.  Ek het prente gesien van die invalling in 2189.  Hulle het amper alle mense uitgewis, maar genadiglik het hulle en ons gou agtergekom hulle kan slegs vir ’n paar uur in ons atmosfeer oorleef, en hulle is toe verdryf.  Die bonuspuntvraag is egter: Hoekom is daar een in my fantasie en hoekom het ek dit gehoorsaam?  “Welkom in die program.”  My vel slaan in hoendervleis uit.  “Jy is ons nuutste rekruut. Die nodige inliging sal aan jou gegee word, dan begin jou werk.  Soos jy weet, kan my spesie nie vir langer as ’n paar uur op jul planeet oorleef nie. Gelukkig het ons ’n oplossing gevind: ’n parallelle heelal.  Een wat grens aan julle wêreld, maar waarin ons kan oorleef.  Goeie propaganda en mense staan tou om ’n ‘fantasie’ te koop.”  Hy lag op ’n manier wat my binneste laat saamtrek.  “Ongelukkig het die energievereiste van so ’n eksperiment ons almal swakker gelaat en kan ons glad nie meer julle wêreld binnetree nie.  Soos jy ook weet, is ons afhanklik van mense vir kos.”  Ek besef skielik aan wie die hoop bene wat deur die hele gesprek nog langs my lê, behoort.  “Ons is dus afhanklik van mense om mense in te bring.  Jou opdrag is om twintig mense in dié wêreld in te bring – jy moet twintig fantasieë verkoop.  As jy klaar is, wel … Mense het net twee doele: slawe of kos.”  My lyf staan teen my wil op. My wange is al klaar seer van die glimlag; die plek op my agterkop, waar die mikroskyfie ingeplant is, is pure pyn.  Twintig mense, dan is ek kos. 

“Meneer!”  roep ek die man wat voor my in die straat loop. 

Negentien.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top