Wenners van US Woordfees se WOORDtroFEES in samewerking met die ATKV

  • 0

Die ATKV WOORDtroFEES, wat jaarliks toegeken word vir uitnemende aanbiedings op die US Woordfees, is op 3 Mei 2012 tydens ’n spoggerige geleentheid op Bon Esperance buite Stellenbosch toegeken. Dit is die derde keer wat dié spogtoekennings gemaak word.

Twee romansiers het weggestap met die louere as Woordfees 2012 se uitstaande Woordkunstenaars. Sonja Loots, skrywer van Sirkusboere, en Theo Kemp, wat in 2011 gedebuteer het met Skool, is onderskeidelik as gevestigde en debuutskrywer bekroon vir hul feesgesprekke oor hul romans. Verlede jaar het Elsa Joubert en Deborah Steinmair met dié gesogte toekennings weggestap.

Volgens prof Ronel Foster, sameroeper van die beoordelaars, is dié twee Woordfeespryse nie literêre pryse nie wat die bekroning van ’n gepubliseerde teks as doel het nie. “Dit is feespryse, dit wil sê dit gaan om die gesprek met die skrywer wat by die Woordfees plaasvind – hoe informatief, verhelderend, diepsinnig, substansieel, ensovoorts is die gesprek?” Naas Foster, was Marita van der Vyver en Steward van Wyk beoordelaars in hierdie kategorie.

Wessel Pretorius se Ont het die trofee as beste dramaproduksie ontvang. Pretorius is skrywer, regisseur en akteur van dié eenmanstuk wat Woordfees-gehore gaande gehad het.

Amanda Strydom ontvang die ATKV se gesogte beeldjie in die kategorie kontemporêre musiek. Strydom was op die Sanlam Musiekfees saam met Janine Neethling te sien in Hertzogprys-wenner Deon Opperman se Binnekamer. Dit is die beoordelaars se keuse of hulle die kunstenaar of die produksie wil bekroon. Met Strydom se uitstekende vertoning het die keuse op die kunstenaar geval.

Cape Consort is aangewys as beste klassiekemusiekkunstenaars vir hul uitvoering van Italiaanse madrigale in die Endler-saal.

Willem Strydom, wie se aanskoulike marmerbeelde tydens die Woordfees uitgestal is in die Rupert Kunsmuseum, is aangewys as hoogstaande visuele kunstenaar. Die Woordfees se feeskunstenaar (vanjaar Paul Emsley) kom nie vir die WOORDtroFEE in aanmerking nie omdat die feeskunstenaarskap reeds ’n uitsonderlike ereposisie is.

Twee Woordtrofees, gekoppel aan die fees se WOW (Woorde Open Wêrelde)-projek, is aan presteerders in die onderwys toegeken. Mnr America van der Merwe van Hoër Tegniese Skool Proteus is bekroon vir sy bydrae ter bevordering van Afrikaans in die gemeenskap.

Volgens die WOW-projekbestuurder, Fiona van Kerwel, is Van der Merwe sedert 2005 ’n entoesiastiese koördineerder van sy leerders se deelname aan WOW-projek-aksies. “Hy stap die ekstra myl met sy leerders en maak elke ervaring in die klaskamer ’n wow-ervaring,” sê sy. “Hy skep op uitnemende wyse by sy leerders ’n gevoel van trots vir Afrikaans en beklemtoon die funksionaliteit daarvan in hul alledaagse lewens.”

Mnr Ivor Fortuin, Afrikaans-vakhoof van New Orleans Sekondêr, het namens New Orleans Sekondêr in Paarl ’n WOW-trofee ontvang vir dié skool se uitsonderlike bydrae tot die bevordering van Afrikaans.

Volgens Fiona van Kerwel neem dié skool inisiatief met WOW-projek-aksies wat in die Wes-Kaap aangebied word. “New Orleans se betrokkenheid by WOW-aktiwiteite en uitreik-aksies van die Universiteit Stellenbosch, is inspirerend.”

Die WOW-projek bied jaarliks sowat 30 projek-aksies gerig op leesbevordering by skole regoor die Wes-Kaap aan. New Orleans dien dikwels as wegspringplek vir nuwe WOW-projek-aksies wat geloods word.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top