Die produksie Op dees aarde, wat by die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees in Potchefstroom aangebied is as huldeblyk aan dramaturg Reza de Wet wat vroeër vanjaar oorlede is, het met twee groot pryse weggestap.

Op dees aarde het sowel die AngloGold Ashanti Fyngoud-prys vir die beste Afrikaanse aanbieding en die Clover Soveel Beter-prys vir die beste algehele aanbieding gewen. Die prysgeld is onderskeidelik R15 000 en R60 000. Regisseur Marthinus Basson se ontwerp en regie is ’n ode aan De Wet, ondersteun deur voortreflike vertolkings. Op dees aarde is veerlig, dog aards en Basson het aandag gegee aan die fynste besonderhede.
Die dramaturg Schalk Schoombie het die AngloGold Ashanti/Aardklop-Smeltkroesprys (R30 000) gewen vir die beste nuwe Afrikaanse teks wat by Aardklop debuteer. Schoombie is geloof vir die slim manier waarop hy daarin slaag om in Liefde, Anna – wat handel oor die teaterlegende Anna Neethling-Pohl – die dokumentêre stofgegewe drama te maak. Louis van Niekerk as regisseur van die produksie kry ook R30 000, uit erkenning vir die simbiose tussen teks en regie, terwyl Schoombie ’n verdere R28 000 kry om ’n nuwe teks vir Clover Aardklop te skep.

Christiaan Olwagen het as veelsydige teaterskepper die Beeld-Aartvarkprys vir grensverskuiwende werk ingepalm – ’n verfrissende nuwe talent wat gehore kan skok en laat skater. Die prysgeld beloop R20 000 en die wenner het ook ’n beeld van Sanna Swart, wat spesiaal vir die prys geskep is, gewen.
Sandra Prinsloo het weggestap met die R15 000 vir die Clover Soveel Beter-prys vir beste aktrise. Sy kry dit vir sowel Liefde, Anna en Oskar en die pienk tannie. In albei lewer sy uitstaande vertolkings en die verskillende karakters wat sy uitbeeld getuig van haar besondere veelsydigheid.

Die Clover Soveel Beter-prys vir beste akteur is toegeken aan Wessel Pretorius vir Ont-, maar een van die verskeie produksies waarby hy by die fees betrokke was. Sy spel in dié solovertoning, wat hy ook geskryf het, is aangrypend en onthutsend.
Henry Mylne het die OFM-prys vir beste regisseur gekry vir Huis toe. Harold Pinter se The Homecoming word suksesvol na Suid-Afrika verplaas, maar met behoud van die Pintereske aanslag. Dit is duidelik dat Mylne elke aspek in die fynste detail uitgewerk het.

Die Clover Mama Afrika-prys van R5 000 vir die beste gemeenskapskunstenaar of -groep is toegeken aan Nadia Jansen van Vuuren (16) van Fochville – ’n jong, belowende sangeres.
Die Burgemeesterprys vir die gewildste produksie ter waarde van R6 000 is gewen deur Die vrou vantevore.
Die totale bedrag aan prysgeld wat vanjaar by die Clover Aardklop Nasionale Kunstefees toegeken is, beloop R239 000.
Benoemdes vir die Beeld Aartvark-prys vir grensverskuiwende werk:
Christiaan Olwagen as teaterskepper met sy verfrissende en uitdagende kreatiwiteit – wat gehore kan skok en laat skater.
Marthinus Basson vir die konsep van Kind Hamlet, wat teatergangers ’n blik op die skeppingsproses van teater bied – die skoonheid en die stryd. As’t ware realiteitsteater.
AngloGold Ashanti/Smeltkroesprys:
Schalk Schoombie vir die teks van Liefde, Anna (R30 000)
Louis van Niekerk vir sy regie (R30 000)
Schalk Schoombie vir ontwikkeling van ’n nuwe teks vir Clover Aardklop (R28 000)
Benoemdes vir die AngloGold Ashanti Fyngoud-prys vir die beste Afrikaanse aanbieding:
Huis toe
Liefde, Anna
Op dees aarde
Benoemdes vir die Clover Soveel Beter-prys vir die beste aanbieding:
Huis toe
Liefde, Anna
Op dees aarde
Woza Andries?!
Benoemdes vir die Clover Soveel Beter-prys vir beste aktrise:
Sandra Prinsloo vir Oskar en die pienk tannie/Liefde, Anna
Alida Theron vir Op dees aarde
Nicola Hanekom vir Hol
Bettie Kemp vir TaMiem van Swellendam
Benoemdes vir die Clover Soveel Beter-prys vir beste akteur:
Wessel Pretorius vir Ont-
De Klerk Oelofse vir Woza Andries?!
Deon Coetzee vir Huis toe
Benoemdes vir die OFM-prys vir beste regisseur:
Henry Mylne vir Huis toe
Marthinus Basson vir Op dees aarde
Christiaan Olwagen vir Woza Andries?!

