Reality is not a thing which is knowable by the mind, because the mind is the result of the known, of the past; therefore the mind must understand itself and its functioning, its truth, and only then is it possible for the unknown to be. (The Reader – Krishnamurti)
In the beginner's mind there are many possibilities, in the expert's mind there are few. (Zen Mind, Beginner's Mind – Shunryu Suzuki)
Two is the mystical figure. Man and woman, you and I, the I and its double. (Memory of Snow and of Dust – Breyten Breytenbach)
Web-wals
ek: die gedig wat kuberkraak
‘n selfportret van my maar ook van jou,
Jan Alleman wêreldwyd,
asook die oë nou gerig op my
ek sien jou vir die eerste keer in eenvoud voor my staan
jou tegnologiese landskap brand my bol-eiers wit
terwyl ek self die vuurblaser is
wat reisend swerf van skakel tot skakel
hier kliek-kliek
daar kliek-kliek
woerts gesigsboekie:
dis mooiweer in Kaapstad
Malema sê die myne is myne
jy het drie nuwe posstukke
installeer asseblief my opdateringskossies ek is honger
PC Jonker wil vriende wees met jou. Wat sê jy?
ek herinner myself aan die gisters wat alreeds volbring is
dit wat nog voor jou koms ‘n kraak gemaak het in my mondering
voorouers en geeste van ‘n verre verlede
nou kraakvars in jou webbe vertroetel soos ‘n vis wat mens word
en soos ‘n Jona uitgespoeg word
sodat die kennis van Nineve bewaar kan word
tot die koms van die wurm
wat komkommer-koel die webruimte sal uitwis tot ‘n onverganklike herhaling
want sterwe gee mos nuwe lewe of hoe sê ek Google?
dit is die tyd van die wurm:
landburgers vermoor hulle konings;
daar is oorloë en gerugte van oorloë;
dier en mens vrek aan nuwe siektes;
aardbewings skud die aarde
en webwerwe verkondig die koms van die antichrist
dit is dan dat ek my hand na jou sal uitsteek
terwyl my selfportret my nabootsing sal volg
jy sal deur my are begin vloei soos ‘n e-pos deur die kuberruimte
jou tegnologiese hartklop sal in my begin tok en
ons sal in die eg verbind word voor die god van tegnologie
ons sal een word soos man en vrou
ek: maar bloot net die ander kant en ander self van jou
en jy: die leser, wat oor ‘n jaar of twee sal wals met ‘n botmens
terwyl die gedig in die gevangenis vir kuberkrakers opgesluit word
en my selfportret van ouds kuberseks het met ‘n onbekende internetgebruiker
om die ekwilibrium van ouds weer reg te stel

