Wat staan Afrikaanssprekendes te doen met die Wetsontwerp op Suid-Afrikaanse Tale

  • 0

Wat staan Afrikaanssprekendes te doen om die voorgestelde Wetsontwerp op Suid-Afrikaanse Tale so te laat verander dat dit nie tot die amptelike afskaffing van Afrikaans sal lei nie?

Daar is tans ’n ontmeetbare bekommernis onder sommige Afrikaanssprekendes oor wat die tragiese gevolge sal wees indien dié wet in sy huidige vorm in die parlement aanvaar word.

Die wetsontwerp in sy huidige vorm vereis van die regering om drie amptelike tale te gebruik, waarvan twee inheemse (swart) tale moet wees en die ander een van die “voorheen bevoordeelde tale”, Engels of Afrikaans.

Wel, ons almal weet dat Afrikaans sedert 1994 nie meer ’n regeringstaal is nie. Vra my, Afrikaans word onderling deur Afrikaanssprekendes in die staatsdiens met mekaar gepraat. In vergaderings of in amptelike dokumente bestaan Afrikaans nie meer nie, behalwe in die hof of miskien in staatsdepartemente in provinsies soos die Wes- en Noord-Kaap.

Afrikaans is veral in die Oos-Kaap ’n vreemde verskynsel in staatsdepartemente. Engels is dus die dominerende staatsdienstaal.

So what? Waaroor gaan hierdie bekommernis oor die moontlike wetlike afskaffing van ’n taal wat – soos Anton van Niekerk onlangs in Die Burger geskryf het – “die eerste keer in die (bruin) Moslemgemeenskap aan die Kaap geskryf is”, en ook “waarvan die meeste eerstetaalsprekers vandag nog steeds nie wit is nie”?

So what? Dit kan gesê word dat Afrikaans in die vorige bedeling misbruik was om swart en bruin te verdruk en sodoende is die skeiding tussen wit en bruin Afrikaanssprekendes vergroot.

So what? Nie so maklik nie.

Enige taal is nie net ’n kommunikasiemiddel nie. Dit verskaf aan enigiemand ’n bepaalde identiteit en karakter. ’n Taal verteenwoordig dus die diepste menswees van enige mens.

Sonder ’n taal, en spesifiek ’n persoon se moedertaal, word die menswaardigheid van ’n persoon weggekalwe en word so ’n persoon se voortbestaan en produktiewe deelname aan die ekonomie bedreig.

Suid-Afrika met sy pynlike geskiedenis ken die gevolge van die 1976-Soweto-opstande toe die apartheidsregering Afrikaans in swart studente se kele wou afdwing.

Daar is dus genoeg pynlike bewyse om van te leer om ons op ’n vreedsame pad te plaas wat gestalte sal gee aan die kernbeginsel van die vryheidsmanifes – naamlik dat Suid-Afrika aan almal behoort: swart en wit.

Daar word ’n versoek aan lede van die portefeuljekomitee oor kuns en kultuur gerig om die belange van die sprekers van al 11 die amptelike tale in ag te neem wanneer die wetsontwerp goedgekeur word.

Daar word egter ook van alle Afrikaanssprekendes verantwoordelike optrede verwag en om veral sensitief te wees teenoor die agterstande wat onder inheemse tale heers.

Ook moet Afrikaanssprekendes op ’n verantwoordelike manier vennootskappe met inheemse tale sluit. Sulke eerlike en opregte vennootskappe kan meehelp dat negatiewe gevoelens jeens Afrikaans produktief teengewerk word.

Dit is dus nodig dat Afrikaanssprekendes medemenslik en konstruktief aan die debat oor die toekoms van Afrikaans en ook al die ander inheemse tale moet deelneem.

’n Balans tussen emosie en rasionaliteit moet seëvier.  

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top