Wanpraktyk
Andries Samuel
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 9780798152822
Prys: R 123.25
Slapband, 70 pp
Nou onlangs het ek ’n onderhoud wat dame Edna Everage met Liza Minelli gevoer het, gekyk. Dame Edna het dadelik opgemerk: “Ek praat nie nou oor jou beroemde ma Judy Garland nie. Ek praat nou met jou en oor jou.”
Dit is seker iets waarmee Andries Samuel ook gekonfronteer gaan word, want met ’n formidabele skrywer-ma soos Antjie Krog gaan noodwendig sulke tipes vergelykings getref of opmerkings gemaak word. Namate Samuel se digkuns vorder, sal dit interessant wees om hierdie moeder-seun-gesprek na te gaan, nes byvoorbeeld gedoen word in die geval van Dot Serfontein en Antjie Krog.
Soos die voorbladontwerp en die sketse binne-in aandui, het die leser hier met ’n argitek as digter te make en verwag mens ’n intellektuele en matematiesgerigte inslag in die verse. Uit die inhoudsgawe lei die leser dan ook af dat ons hier met etlike wanpraktyke te doen gaan kry. As subtitel noem die digter dit “’n sak vol bedrieglike uitweegsels”.
Bedrieglik eenvoudig is die verse nie, want van hulle is besonder hermeties en oop.
Die wanpraktyke word verdeel in drie: “stukke van my sleep met haar mee”, “wellustige en ingewikkelde geheime” en “in vreemde hoeke teen mekaar”.
Uit die motto’s voorin lei die leser ook af dat weemoed, en in verband gebring met ’n slapende kind, in die bundel ’n rol gaan speel. Daar is etlike “psalms vir die verste kind” in die bundel wat handel oor die spreker se dogtertjie wat in Israel woon. Die bundel word ook aan Anouk, sy dogtertjie, opgedra (lees Cari Coetzee se onderhoud op LitNet). In die gedig “my dogtertjie” word sy direk aangespreek. Met onder meer die insluiting van die Hebreeuse skrif en die verwysingsraamwerk uit Israel sit Samuel die gesprek voort wat destyds deur Olga Kirsch begin is met die Heilige Land.
Die openingsgedig se subtitel, “uit die pentateug, met bietjie proverb en profeet”, verklap al iets van die inslag van die bundel. Intellektuele inslag, maar terselfdertyd ook ’n bewuswees van die eietydse kultuur. Ook die vermenging van die register wat deurgaans in die bundel plaasvind, word daardeur geaktiveer.
Deurgaans is daar ’n elegiese toon in die bundel en word “blues” in titels gebruik. In “blues in yk” (25) word op ’n slim wyse die dip-dip-klank van die blues nageboots, terwyl “blues in W” (45) weer as heeltemal liries-poëties beskryf kan word.
Opvallend is ook die gestrooptheid van die meeste verse: min, maar suiwer woorde, soos in die gedig “tere minnaars ons” (58).
Te midde van ’n bewuste spel met woorde soos “soekmaar”, is daar die guitige gedig “styf” (52) waarin die manlike spreker masturbeer. Goeie gedig, alhoewel ’n reël soos “al pols dit van verdriet” die res van die gedig bederf. (En hier, liewe leser, moet ek bieg: hier het ek dadelik gedink, die seun troef die moeder met hierdie vers.)
Hinderlik is soms die digter se neologismes en die gebruik van woorde soos “ballisteer” (17), “dooiend” en “trokkend” (26), “werbereer” (28), “teugde”, “bilg” en “uitskuinsend” (30), “juigte” (48) en “beminning” (60) wat, saam met van die reëls soos “ek sit geteister in dryfhout” (38) of “elkeen met vlerke rag gloeiend/ aan ons erns en ons ingekeerdheid” (54) vir my bietjie te veel na ’n poëtiese wanpraktyk klink en self as mooiskryf afgemaak kan word. Dit is my groot beswaar teen die bundel.
Maar, soos Samuel in “ykgedig” skryf:
elke weg van ’n mens is reg in sy eie oë
maar woorde is die toets vir harte. (11)
Die uiteindelike toets is om te kyk hoe hierdie woorde van hom tot die lesers se harte spreek.

