Elke mens het sy plek en doel hier op aarde. Dit is so bestem. Sommige vind dit, ander mis dit.
Ons debatteer oor Godsdiens, Politiek en Afrikaner. Ek geniet al hierdie skrywes op SêNet. Soms skaterlag ek vir Hans die vrouehater, Angus die agnostikus en Dolf se “sug” nou die dag nadat hy KdK se skrywes gelees het. In my verbeelding sien ek hulle sit voor hul ‘tikkenaars.’ Ek wonder hoe tik hulle, met 2 of 10 vingers?
Op hierdie stadium waag ek dit nie om hulle aan te vat in teenskrywe nie. Hulle glibstellinge en seepagtige skryfredenasies is nog bo my vuurmaakplek. Maar KdK is deur God aangestel om hulle te weerlê. Nie dat hy hulle gaan oortuig hier op SêNet nie, maar word hy as instrument gebruik vir ’n veel groter doel. Om lou, twyfelagtige Christene wat op monde sit en nie vir God kan opstaan, te wys hoe dit gedoen word. Sy skrywes verbreed my Woordkennis. Skielik weet ek ook hoe die agnostikus redenaar die Evolusionis argumenteer, hoekom die ateïs ’n versaker is. Die verskillende sieninge, dogmas en gelowe. Hoe interessant is die wêreld net nie om my!
Ons almal het ons plekkie in die son en werk op verskillende plekke in die ry. As KdK ’n vooros is, is ek ’n agteros. Hy veg voor om die Waarheid van die woord oop te breek, terwyl ek heelagter by die bloeiendes moet sit. Hierdie stukkendes is gebreek omrede hul nie die waarhede van die bybel wat in die voorrye verkondig word, hul eie wou maak. Nou is selfmoord ’n laaste uitweg. Van hulle het hul eie babas vermoor omrede wetgewing dit goedkeur. Verwerping van ma of pa, is ’n sterk doodswortel. Homoseksualisme. AIDS. Bitterheid en haat omrede van gebroke huwelike of as kind deur pa gemolesteer. Daarom haat ek drank, drugs, sonde en hoerery. Dit vernietig mense. Breek lewens in stukke! Verhoudings aan skerwe. Ontlont vrees, depressie en haat. Uit wanhoop hardloop van hulle na die dokters wat medikasie voorskryf om emosionele simptome te onderdruk. Naderhand raak hulle so gewoond aan hierdie slaappille en anti-depressante. Dit vererger net die toestand. Nou sit hulle nie net met emosionele probleme nie, en siektes, maar ook met verslawing! Kosbare lewens opgemors.
Dit, terwyl die bybel ons duidelik voorskryf hoe om gesond te lewe. Maar ons luister nie na God. Minag sy wette en verag bybelse waardes en standaarde. Wie betaal op die einde daarvoor? Die mens self!
Daar bly net een hoop oor op hierdie stadium – Jesus. ’n Wonderwerk. Net hy kan ’n nuwe hart skenk. Genees. Emosionele wonde en verhoudinge herstel.
Hoeveel makliker sou dit nie gewees het as mense die voorskrifte en waarhede van die Bybel wou vat en daarvolgens politiekewaardes, godsdienswaardes en leefwaardes opstel.
(Sug.) Maar nou ja – dit is nogal vervullend om ’n God te dien wat in wonderwerke spesialiseer. Ons huil baie saam stukkende vroue maar wanneer wonderwerke plaasvind, is ons maar te bly daar is ’n Hemelse Vader en ’n Jesus wat nie verniet aan die kruishout gesterf het vir al ons gebroke harte, emosionele tronke, vrese en siektes.
Die mooiste geskenk wat jy jouself kan gee, is ’n nuwe begin in Hom.
Trienie


Kommentaar
Trienie
Jy sê: "Maar KdK is deur God aangestel om hulle te weerlê." Carl Sagan het gesê uitsonderlike aansprake vereis uitsonderlike bewyse. KdK se goddelike aanstelling klink vir my na ’n uitsonderlike aanspraak – nou kort ons net jou uitsonderlike bewys.
Thomas
Pragtige, kragtige getuienis, Trienie – soos altyd. Baie dankie daarvoor. Jy het die manier om die kern van die saak kort en bondig raak te vat. Jy gee ook beproefde baie goeie raad. As die agnostici soos Chris jou daaroor beledig, is dit omdat jou sagte benadering hom diep tref en hy nie weet wat om te maak nie, want sy hart is ongelukkig baie koud.
Ek het lekker geglimlag waar jy skrywe Dolf sug oor my briewe – en dink jy verwar dalk vir Dolf met ongelowige Thomas. Dolf is een van ons moedige staatmakers en ’n wafferse voorlinie vegter vir die Woord in Waarheid van ons HERE.
Mag jy ook van krag tot Krag gaan in jou kosbare nasorgwerk – daar waar die HERE se goedertierenheid en wonderwerke so dikwels sigbaar is.
En so rig die HERE gelowige en gewillige mense op, op elke denkbare plek en gebied.
Groete en seënwense,
Kobus de Klerk
Die skynheiligheid van die agteros.
Die viering van onkunde.
Die slaan van ’n basdrom in die agtergrond wat alles oordonder.
Trienie met die intellektuele vermoë van ’n kleuter en die morele standaarde van ’n fanatikus verkoop haar "liefde" sonder om ooit ’n vraag te vra.
Die uiterste voorbeeld van slaaf moraliteit beskryf deur Nietzsche.