Vroom of regsinnig? – Kerkhistorikus Deon Thom antwoord

  • 0

Met hierdie interessante publikasie lewer Brümmer – ’n internasionaal-erkende godsdiensfilosoof van die Universiteit van Utrecht – ’n baie belangrike bydrae tot die NG Kerk-historiografie. Sy besondere vaardigheid in sy vakgebied, sy uitstaande analitiese vermoëns, sy grondige kennis van beide die Suid-Afrikaanse en die Nederlandse teologiese agtergrond, sowel as sy familiebande met belangrike rolspelers, maak dit ’n unieke werk. Beide sy vader (NJ Brümmer, filosofie, US) en sy grootvader (JI Marais, teologie en eerste kanselier, US) was by sommige van hierdie debatte betrokke en J du Plessis was ’n huisvriend van die Marais-familie. Brümmer se uiteensetting is ewewigtig, goed gedokumenteer en baie leesbaar.

Die skrywer probeer nie om ’n volledige geskiedenis van die teologie van die NG Kerk te gee nie. Die eerste helfte van die boek het die stryd teen die “liberalisme” of “modernisme” in die Kaapse Kerk as agtergrond (1850–1870) en die tweede gedeelte kulmineer in die “Du Plessis-stryd”, wat in 1932 tot ’n einde gekom het. Laasgenoemde is natuurlik vandag veral belangrik omdat daar ’n subtiele verband was tussen die rigting wat daar ingeslaan is en die rigting waarin die “Afrikaner-politiek” daarna beweeg het.

Soos die titel aandui, sluit Brümmer aan by die vindingryke vergelyking van GK Chesterton waarin hy “vroomheid” beskryf as “a love affair [with God]” terwyl ’n strewe na teologiese korrektheid (“regsinnigheid”) gesien word as “something like a theory”. Die “regsinniges” beklemtoon dan die gesag van die kerklike belydenisskrifte teoreties-intellektualisties teenoor die “mistici” wat ’n persoonlike verhouding met God beoefen. Brümmer ondervang potensiële misverstand deur te benadruk dat hy nie van ’n panteïstiese mistiek – waarin ’n gewaande eenheid met “die goddelike” belewe word – praat nie (bl 26).

Vir sommiges suggereer “vroomheid” natuurlik ’n oppervlakkige anti-intellektuele godsdiens, en ’n “liefdesverhouding” ’n oneerbiedige sentimentele vrypostigheid. Die geskrifte van die twee hoofkarakters (Andrew Murray en NJ Hofmeyr) getuig egter van hulle uitnemende intellektuele vermoëns sowel as die diepte van hulle godsdiens, waarin die persoon en middelaarswerk van Jesus van Nasaret ’n sentrale en deurslaggewende rol gespeel. Hulle “vroomheid” het dus op ’n sterk “regsinnige” basis gerus!

In die eerste helfte van die boek speel bogenoemde “mistici” (AM en NH) die hoofrol. (Hofmeyr was van 1859 saam met Murray se broer John, pionierdosent aan die Kweekskool). Andrew se godsdiens was “’n intieme persoonlike gemeenskap met ’n persoonlike God wat sy lewe bepaal het en sy dade gemotiveer het” (26). Sy reusebydrae (oa) tot die oprigting van hoërskole, ook vir meisies, bewys dat hy geen “passiewe piëtis” was nie. Hofmeyr was “een van die oorspronklikste en skerpsinnigste teoloë (...) wat die NG Kerk ooit voortgebring het” (29). Die “sentrale hoofwaarheid” van sy teologie was dat die verhouding tussen die gelowige en God een is van “kindskap”, in teenstelling tot “knegskap”.

Die derde hoofstuk handel oor die liberalisme in Nederland, beter gedefinieer as ’n “rasionalistiese panteïsme”. Die plaaslike invloed van hierdie denkrigting word bondig, informatief en ewewigtig beskryf. Daarna volg ’n bespreking van Hofmeyr se “getuienis teen die moderne dwaling”. Vir hom, wat op ’n stadium sterk aangetrokke was tot die panenteïsme van CW Opzoomer, was die groot probleem dat hulle “wêreldbeeld … geen ruimte gelaat het vir ’n persoonlike verhouding tussen gelowiges en hulle hemelse Vader nie”. Daarmee word gebed onmoontlik gemaak en word “die kinders van hulle brood” beroof. “As die God van die Modernes my God was,” sê Hofmeyr, “het ek lankal vergaan” (72–3).

Hoofstuk 5 word gewy aan Andrew Murray se polemiek met DP Faure oor laasgenoemde se “de moderne theologie”. Sy boek (Die Moderne Ongeloof) is nog steeds lesenswaardig.

Daarna word aandag gegee aan die “teenaanval” van die “modernes” toe Murray beskuldig is van onregsinnigheid.

Brümmer kom tot die gevolgtrekking dat beide Murray en Hofmeyr “op gespanne voet” gestaan het “met die teologie van Calvyn en die Dordtse Leerreëls” (126). Ten spyte daarvan, en ten spyte van die feit dat die Sinode die modernes nie kon skors nie, is hulle invloed in die NG Kerk effektief gestuit. Een rede daarvoor was sekerlik dat die lidmate die boodskap van Murray, Hofmeyr en hulle geesgenote skriftuurlik gevind het. (Dit lyk ook of Hofmeyr en John Murray se beklemtoning van Jesus se ware mensheid – “God-as-ware-mens” – die wind uit die seile van die modernes geneem het, sodat hulle invloed geleidelik verswak het.

In die sewende hoofstuk behandel Brümmer Murray en Hofmeyr se verhouding met die teologiese “rigtings” in Nederland. Hy plaas Hofmeyr binne die “etiese rigting”, maar hy was veel meer Bybels en Christosentries as sommige van die latere “etiese” voorstanders. Die hoofstuk word afgesluit met die veelseggende woorde van Abraham Kuyper aan Hofmeyr se seun Nico: “U vader is alles behalwe ortodoks.”

Hoofstukke 8–10 handel oor die invloed van Kuyper, van die “etiese skool” en van die “Bybels-apologetiese skool” aan die Kaap. Hier vind ons waardevolle inligting vir die verstaan van die latere “Du Plessisstryd” – oa die rol wat die begaafde en omstrede SJ du Toit gespeel het as interpreteerder (en informant?) van Abraham Kuyper. Vir Brümmer is Kuyper die klassieke voorbeeld van ’n regsinnige, vir wie geloof primêr ’n verstandelike saak is, naamlik as “die aanvaarding van onfeilbare openbaringswaarhede” (144).

Die laaste twee hoofstukke gaan oor die inspirasie, die aard en die gesag van die Bybel na aanleiding van die “Du Plessisstryd”. Onder andere kom die probleem van Jesus se beperkte kennis as ware mens, veral tov die ontstaan van die Ou Testament, ter sprake. Brümmer maak ’n sterk saak daarvoor uit dat Du Plessis se standpunte basies gestrook het met dié van Hofmeyr, JI Marais en Herman Bavinck, asook tot ’n groot mate met dié van Andrew Murray. Sy afsetting het dus ’n baie nadelige uitwerking op die ontwikkeling van die NG teologie gehad.

Hierdie oorsig kan natuurlik nie reg laat geskied aan die ryk inhoud van Brümmer se meesterlike uiteensettings nie. Ek probeer my beperk tot enkele verdere opmerkings:


1. Die “Onbekende Hofmeyr”

Dit is ’n baie groot wins vir die NG Kerk dat ons uiteindelik – meer as ’n eeu na sy dood – ’n gesaghebbende boek het wat die unieke bydrae wat Hofmeyr tot die teologie gemaak het, onder die aandag bring. In sy eie tyd is hy hoog waardeer deur bekwame mense en soos Brümmer aantoon, het hy ook ’n diep indruk gemaak in Nederland tydens sy besoek aldaar in 1884 (160). Soos die vroeë kerkvaders wat in die Griekse filosofie geskool is, was Hofmeyr steeds verwonderd oor die verstommende feit dat die historiese Jesus die Mensgeworde Ewige Seun van God was (en steeds is).

Brümmer sê tereg dat die verhouding tussen God en die gelowige vir hom een van ’n liefdevolle Vader en sy kind was. Ek sou wou beklemtoon dat die verhouding tussen die historiese Jesus en die Vader vir Hofmeyr die basis en die prototipe van die verhouding van elke gelowige met God was – ’n verhouding gedra deur die Heilige Gees en gevoed deur die geloof in die beloftes van die Vader, maar wat ook daagliks deur ’n verskeidenheid versoekings en beproewings bedreig word.

Daarom was die versoekings van Jesus, soos opgeteken in die evangelies, vir Hofmeyr (sowel as vir John Murray) belangrike sleutels tot die verstaan van Jesus se ware mensheid. As ware mens, die tweede Adam, moes Jesus versoek word voordat Hy sy roeping kon uitvoer as ons Verteenwoordiger en ons Voorbeeld.

Anders as die meeste Gereformeerde teoloë, wat dikwels níks van Jesus se geloof sê nie, het Hofmeyr ’n merkwaardig realistiese beeld van sy geloof gehad: “Hy het steeds gewandel met sy hand in die hand van die Vader … Nooit het ’n swak kind sterker aan die hand van sy aardse vader vasgehou, as wat Jesus die hand van sy hemelse Vader vasgehou het nie.” Die dieptepunt van Jesus se geloofslewe was toe Hy aan die kruis die onbeskryflike Godverlatenheid ervaar het – maar tog steeds in die duisternis vasgehou het aan die beloftes van die Vader aan die Messias (vgl Jes 53:11; Hebr 2:13).

Klaarblyklik het die briljante vroeggestorwe Tobie Muller waardering vir Hofmeyr se teologie gehad. Hy verwys na die geskrifte van beide Hofmeyr en John Murray en sê dan: “Dit alles moet net nog ruimer vertolking en samevatting vind om ook ’n teologie te produseer wat ’n afsonderlike stempel sal dra en invloed sal kan uitoefen ook buite ons eie land. In die geskrifte van prof Hofmeyr, kom dit my voor, lê al veel meer dan die kieme hiervan” (Keet en Tomlinson, bl 141).

Mag God gee dat daar ’n nuwe verwondering in die teologie sal ontstaan, ’n verwondering oor die onbegryplike genadewonder van die Menswording van die Ewige Seun.


2. Du Plessis en die teologiese vernuwing in die NGK?

Brümmer slaag uitnemend daarin om Du Plessis geloofwaardig binne sy historiese konteks te plaas. In die NG tradisie is die volledige erkenning dat Jesus se menslike kennis beperk was (die “kenosisleer”), beskou as ’n ontkenning van sy ware Godheid. Dit was ’n verkeerde afleiding – die “kenotici” wou juis die ware Menswording van die ewige Woord of Seun van God (Joh 1:14) bely. Sommige het wel te ver gegaan in hulle pogings om die misterie van die Menswording te verklaar, maar hulle het skerp teenoor die modernes gestaan wat die “Menswording van God” as belaglik afgemaak het. Selfs vandag nog glo te veel “regsinniges” dat dit ’n verwerping van Jesus se Godheid impliseer. Du Plessis het hom dus heeltemal tereg op Hofmeyr se standpunt oor Jesus se beperkte kennis beroep. Ek is egter nie daarvan oortuig nie dat hy dieselfde verwondering gehad het oor die Menswording as Hofmeyr nie (Jesus, “God-as-mens”).

Brümmer toon verder aan dat Du Plessis duidelik onderskei het tussen die metodes van die “Hoër Kritiek” en die resultate daarvan, en dat hy nie al die resultate daarvan aanvaar het nie. Du Plessis was beslis geen “moderne” nie. Maar, soos JI Marais gesê het, die groot vraag is nie of Jesus se menslike kennis beperk was nie,maar of Hy die Ou Testament reg verstaan het. En of Hy die leringe van die OT aanvaar het as ’n Goddelike openbaring of, aan die ander kant, as ’n eeue lange proses van menslike (priesterlike of profetiese) religieuse vindingrykheid of intuïsie. Vir Marais was al die gedeeltes wat die Pentateug self aan Moses toegeskryf het, wel van Moses afkomstig. Du Plessis het egter geglo dat “sekere dele lank na die tyd van Moses ontstaan het”. Op daardie punt kon hy hom dus nie op Marais beroep nie, en sekerlik ook nie op Murray, Hofmeyr en Bavinck nie.

Volgens Brümmer het Bavinck die geloof gedefinieer as “’n band van die siel aan die persoon van die Christus van die Skrifte, en aan die Skrifte as die Woord van Christus” (151). Dit is soos Hofmeyr dit ook gesien het. Vandag is daar waarskynlik geen OT-departement in ons land wat sal erken dat Jesus die Ou Testament reg verstaan het nie. Gevolglik is sekere aannames van die hoër kritiek (en sekere dogmas van die heersende evolusieleer) steeds omstrede sake in kerke wat graag effektiewe oplossings vir die diepste nood van die moderne samelewing wil bied.

In die lig daarvan kan ’n mens nie sê dat Du Plessis sou kon meegehelp het om die vernuwing in die NG Kerk te bring nie. Sy skorsing het egter wel grootliks bygedra tot die “verkramping” van die NG teologie en kultuur, maar dit is onwaarskynlik dat sy voortgesette diens sou kon meegehelp het om “apartheid” in die kiem te smoor. DF Malan was self ’n oortuigde “etiese teoloog”, en blykbaar (teologies) meer “liberaal” as Du Plessis. As die NG Kerk die hoër kritiek in 1930 reeds in beginsel aanvaar het, sou die teologiese anargie wat vandag in die kerk heers, heel waarskynlik net gouer op die toneel verskyn het.

Dit is bitter jammer dat aspekte van die teologie van Kuyper eerder as dié van Bavinck so sterk opgang in die NG Kerk gemaak het, ten spyte van die teenwoordigheid van BB Keet (wat Du Plessis ondersteun het). Brümmer wys tereg daarop dat Du Plessis Bavinck ten onregte te nou met Kuyper geassosieer het. Dit is nietemin ’n feit dat die Kweekskool akademies baie verswak het as gevolg van die skorsing van Du Plessis, ’n internasionaal-erkende sendingwetenskaplike en sendinghistorikus.

Die vernuwing wat toe wel (vir ’n tyd?) in die NG teologie gekom het, het gekom deur middel van mense wat direk of indirek deur Karl Barth en GC Berkouwer beïnvloed is. Van hulle is wyle Willie Jonker seker die mees noemenswaardige voorbeeld – soos Nico Koopman ons in sy Voorwoord herinner het.


3. Die predikant van Calvinia

Op twee punte was Brümmer nie baie ewewigtig nie. Ek verwys na sy noue vereenselwiging van Abraham Kuyper met die Dordtse Leerreëls en van Calvyn met die determinisme. Hy erken wel in ’n voetnoot (bl 119) “dat dit soms lyk asof Calvyn die vrye wil van die mens verdedig”. THL Parker het gesê dat ’n mens nie oor Calvyn moet praat as jy nie eers ’n studie van sy kommentare en sy preke gemaak het nie. Ons weet dat hy in die latere uitgawes van die Institusie die Verkiesingsleer “verskuif” het van die afdeling oor die Godsleer na die Verlossingsleer (in die derde boek). Ons weet ook dat Beza, Calvyn se opvolger in Genève, die Verkiesingsleer weer “teruggeskuif” het na die Godsleer (en ook teruggekeer het na die Aristoteliaanse filosofie as “hulpmiddel” in die teologie). Sover ek weet, het Arminius (en waarskynlik ook Amyraldus van Frankryk) veral in opstand gekom teen Beza se benadering en beklemtonings. By die beoordeling van Calvyn moet ’n mens ook onthou dat die ander Hervormers, soos Luther, Bucer en Zwingli, ook die leer van die onvoorwaardelike verkiesing uit vrye genade alleen aanvaar het.

Soos Luther in sy kommentaar op Romeine, het Calvyn dit beklemtoon dat een doel van die Verkiesingsleer juis is om die gelowiges te verseker van die getroue liefde van God te midde van die grootste versoekings en die ergste vervolgings en aanvegtings denkbaar. In dieselfde kommentaar beklemtoon Luther dit ook dat die Verkiesingsleer bedoel is om die eiegeregtigheid van die gelowige heeltemal af te breek, sodat hy/sy geheel en al alleen op God se ryke genade in die gekruisigde Christus sal vertrou.

Ongelukkig ignoreer my vriend Vincent ook die groot skare “Evangeliese Calviniste” in die Engelssprekende wêreld vir wie die verhouding kind/Vader uiters kosbaar was, en wat dit juis gesien het as gewortel en gegrond alleen in die onvoorwaardelike en onverdiende verkiesende liefde van die barmhartige God en Vader van die Here Jesus. ’n Mens dink byvoorbeeld aan Samuel Rutherford van St Andrews, die onvergelyklike evangelis George Whitefield, die geniale Jonathan Edwards, die sendelinge William Carey en Henry Martyn, die Bonar-broers van Skotland, Robert Haldane (die Skotse Baptis en menslike inisieerder van die Switserse Reveil), die groot Baptisteprediker Charles Spurgeon en, nader aan ons tyd, Martyn Lloyd-Jones van Londen en die Amerikaanse Baptis John Piper.

En dit is nie asof bogenoemdes nie van die leerstellings van Dordrecht bewus was nie. Gedeeltes van die “Skotse” (Westminster-) Konfessie is baie nou verwant aan die Leerreëls. ’n Nederige aanvaarding van die “skerp kante” van die Leerreëls is dus nie noodwendig die oorsaak van ’n negatiewe regsinnigheid nie.

Hierdie mense het juis geglo dat die evangelie in staat is om die arrogantste sondaar denkbaar te red, omdat Jesus gesê het “Almal wat die Vader My gegee het, sal na My toe kom; en Ek sal hom wat na My toe kom, nooit verwerp nie” (Joh 6:37). En dit het mense soos Carey, Martyn en honderde ander gemotiveer om uit te gaan na lande waar die evangelie totaal onbekend was om daar die “dwaasheid van die kruis” te gaan verkondig.

Maar kom ons keer terug na Hofmeyr. Dit is inderdaad merkwaardig dat hy hom – sover ek kon vasstel – nooit op die belydenisskrifte beroep het nie. Maar dit beteken nie dat die inhoud van sy teologie nie Bybels was of dat hy Calvyn se teologie verwerp het nie. Inteendeel, hy het Calvyn se naam in die naam van sy eerste gemeente verewig. In die besonder het hy voortgebou op Calvyn se beklemtoning van die ware mensheid van Jesus, ook ná sy Opstanding en Verheerliking. Calvyn het hom verset teen die Lutherse (en Roomse) leer dat Jesus se mensheid nou, ná die hemelvaart, alomteenwoordig is. Vir hom was (is) Jesus nog steeds ook ware mens, wel verheerlikte mens, waar Hy as groot Hoëpriester sy kerk by die Vader verteenwoordig, as Koning oor sy kerk regeer, en van waar Hy ook sy Gees oor ons uitgiet.

Soos ek Hofmeyr se Verkiesingsleer verstaan, het hy geweier om die Arminiaanse “kortsluiting” tussen die soewereiniteit van God en die vryheid/verantwoordelikheid van die mens te kies. Reeds in sy “Teenstellinge” beklemtoon hy albei werklikhede. Hy behandel dit ook in sy “Niet Knecht maar Kind” (1896) en in sy lesings oor Efesiërs (1905). Sy hoofbeklemtoning is dat die verkiesing ’n vrug is van die ongelooflike liefde en vrye genade van God. Dit verstaan die “kinders”, maar sodra die “kneg” met ’n “slawementaliteit” oor die verkiesing begin teologiseer, hou dit op om die waarheid te wees, want “hy bring dit noodwendig af na sy vlak”. Die “kneg” sien dit dan nie as die vrug van God se liefde nie, maar as staande in verband met die “koue wil” van God “soos hy die wil verstaan”. Daarom is dit vir hom duister en arbitrêr en daarom laat dit ook die kneg koud as hy dit bedink – of hy verhef homself daaroor, soos Israel gemaak het.

Hofmeyr het inderdaad geworstel met die groot misterie waarom God, in Sy verkiesende liefde, nie almal red na wie Hy die evangelie stuur nie. “Die kind erken eerlik dat ons hier ’n angswekkende misterie het, wat God nie aan ons verduidelik het nie” (1896:222 v). Omdat hy God se liefde ken, huil die kind wanneer mense die liefde van God verwerp, soos Jesus geween het oor Jerusalem. Hofmeyr se besondere beklemtoning was dat God, ook in sy oordeel oor die onbekeerlikes, steeds die God van liefde bly, soos wat ons Hom sien in Jesus, die Geliefde Seun, die Uitverkorene aan die kruis. Natuurlik het hy ook, net soos Murray, baie klem gelê op die verkiesing “tot gelykvormigheid aan die beeld van Christus” en tot “ywerigheid in goeie werke”.


4. Die ander Murray

Volledigheidshalwe moet miskien genoem word dat professor Murray, net soos Hofmeyr, ’n kenotikus was, en dat hy, anders as Hofmeyr, ’n meer uitgesproke Calvinis was. Dit blyk uit sy gepubliseerde gebedeboek sowel as die feit dat hy sy eie kinders in die “Skotse Kategismus” onderrig het. By geleentheid het hy ook ’n goeie artikel oor die Dordtse Leerreëls geskryf wat minstens een keer ná sy dood herdruk is.

Baie hartlik geluk en dank aan Vincent Brümmer vir hierdie baie deeglike en insiggewende liefdeswerk.

ERRATA: Daar is enkele klein foutjies wat ek opgemerk het. Tobie Muller is nie op Smithfield begrawe nie, maar op Philippolis, waar hy predikant was. En dit was nie Kuyper wat die Anti-Revolusionêre Party in Nederland gestig het nie, maar die edelman, Groen van Prinsterer, wat ook ’n leidende figuur in die Reveil-herlewing was. Voetnoot 529 op p 268 moet lees hoofstuk 9 en nie hoofstuk 10 nie.


Lees ander bydraes in die seminaar.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top