Vriendskap en ander klein jakkalsies

  • 0

Wat is anders aan die Nederlandse Boekenweek 2012 (14 tot 24 Maart) in vergelyking met ander jare? Die tema vanjaar is Vriendschap en andere ongemakke. Dit geld vir vriendskappe in die literêre wêreld, maar ook vir vriendskappe daarbuite. Verder word die Boekenweekgeskenk deur ’n Vlaamse skrywer geskryf. Tom Lanoye het die novelle Heldere hemel geskryf. ’n Oplaag van 894 000 eksemplare sal versprei word, bietjie minder as die 951 000 eksemplare van 2011. Lanoye is in Suid-Afrika bekend in literêre kringe. Hy woon en werk om die beurt in Antwerpen en in Kaapstad. Geografies brei die Nederlandse Boekenweek dus uit na Vlaandere (die noordelik Vlaamssprekende deel van België). Daar word dit die Literaire Lente genoem en dit duur ’n bietjie langer, tot 31 Maart.

Die Nederlandse Taalunie verleen finansiële steun aan hierdie uitbreiding. Dit is ’n gesamentlike inisiatief van die CPNB van Nederland en Boek.be van België. Taalvriendskap. Albei organisasies bestaan uit boekverkopers- en uitgewersverenigings. Boek.be betrek by hulle verkopers en uitgewers ook invoerders en skep ICT-platforms, terwyl die CPNB (Collectieve Propaganda van het Nederlandse Boek) alle openbare biblioteke in Nederland insluit. Die CPNB is vir 80% van alle boekverkope in Nederland verantwoordelik. Ten tyde van die eurokrisis brei die Nederlandse belange uit in die vorm van ’n uitgebreider Boekenweek oor landsgrense heen.

Dit beteken dat alle treinryers wat die boek Heldere hemel aan die kondukteur kan wys, op Sondag 18 Maart dwarsdeur Nederland daarmee kan reis. Bykomend tot hulle moontlike bestemmings kan ook nou gekies word om na Brussel of Antwerpen te reis. En in België kan die Vlaminge met die Boekenweekgeskenk gratis tussen Antwerpen en Brussel reis. Verlede jaar het 200 000 Nederlanders van die Boekenweekgeskenk as treinkaartjie gebruik gemaak. Nou behoort daar dus meer reisigers te wees met die twee groot Belgiese stede wat as bestemmings bygekom het. Reisvriendskap. Maar die oplaag is minder. Wat sou die bedoeling hiervan wees? Is dit ’n sjarme-offensief om die aansien van die Boekenweekgeskenk te verhoog deur dit ’n bietjie minder beskikbaar te maak? Of verwag die organiseerders dat Lanoye nie so goed gaan verkoop nie? Agterdog teenoor die buurman? Heldere Hemel is in Nederland en in België te koop teen €12,50.

In 1985 het Lanoye se debuut verskyn: Een slagerzoon met een brilletje. Dit was ’n semi-outobiografiese roman. Daarna was hy ’n bekende Vlaming. Op al die foto’s wat die afgelope week in die Nederlandse pers verskyn het, dra Lanoye steeds ’n opvallende brilletjie. Dit het so bietjie sy handelsmerk geword. In De Luxe, ’n uitgawe van die NRC-Handelsblad, gesels Lanoye met sy boesemvriend en uitgewer Vic van de Reijt. Hulle deel ’n liefde vir Willem Elsschot en vertel hoe hulle hom vroeër in kroeë aangehaal het.

Tom: “We delen de liefde voor Willem Elsschot … We citeerden zijn gedichten in de kroeg.”
Vic: “Toen hij bespeurde hoe de nevel van de tijd in d’ogen van zijn vrouw de vonken uit kwam doven …”
Tom: “… haar de wangen had verweerd, haar voorhoofd had doorkloven toen wendde hij zich af en vrat zich op van spijt.”
Vic: “En dan zingen we daarna de smartlap: ‘Aloha, mijn bruine Madonna …’”

’n Legendariese vriendskap in die Nederlandse letterkunde was die vriendskap tussen Gerhard Reve en WF Hermans in die vyftigerjare. Tog geld dieselfde voorwaarde vir hulle vriendskap as vir dié tussen alle ander skrywers: die letterkunde – wat geskryf word. Hulle persoonlikhede het nogal verskil, maar hulle het mekaar se werk ondersteun. Tot op ’n punt.

’n Groepie Afrikaanse skrywers uit die sestigerjare wat mekaar ook so ondersteun het, was Uys Krige, Jan Rabie en André P Brink. Hulle strandpieknieks aan die pragtige Wes-Kaapse kus staan menige letterkundestudent helder voor die geestesoog.

Skrywers kan mekaar se oë uitkrap as dinge skeefloop. Lewenslange vyandskap is nie vreemd in die skrywerswêreldjie nie en dis ook nie nét onder mans die geval nie. Jaap Goedegebuure maak in Trouw van 10 Maart so ’n vyandskapslysie. Maaike Meijer het byvoorbeeld in haar proefskrif, De lust tot lezen (1988), beweer dat die digwerk van Neeltje Maria Min oor bloedskande gaan. Aanvanklik het Min nie daarop gereageer nie, totdat haar pa daarmee gekonfronteer is. Die vyandskap duur vandag nog voort.   

Hierdie Boekenweek fokus dus op die klein jakkalsies wat die vriendskapswingerd verniel; daardie vriende oor wie jy skuldig voel of vir wie jy woedend is; daardie vriende van wie jy voorlopig moet wegbly om jouself te beskerm of om hulle te beskerm; daardie vriend oor wie jy in die stilligheid wonder: Is dit ’n vriend? Hoe raak jy van ’n lastige vriendskap ontslae? As mens net afstandsvriende het, soos op Facebook, is die probleem met die druk van ’n knoppie opgelos. Mens noem dit “defriend”. 

Die werklikheid werk bietjie anders. Verskille kan lelik en lank skaaf. Maar of dit nou ’n gewone vriend of ’n skrywersvriend is, ’n taalvriend, ’n reisvriend of ’n buurmanvriend … in tye van nood moet mens probeer om saam te staan. Dis in elk geval die les wat ’n mens uit die tien dae van Boekenweek 2012 kan aflei.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top