In hierdie rubriek skryf advokaat Gustaf Pienaar oor hofsake wat hierdie betrokke week in die nuus was. Die jaartal maak nie saak nie. Hierdie almanak is ’n tydmasjien wat heen en weer deur die regsgeskiedenis wip.

Gedurende die herfs van 1959 het ene Van der Mescht en sy vriend Arie Groesbeek in Groesbeek se huis ’n verbinding van goud en kwik op ’n stoof tot kookpunt verhit met die doel om die goud daaruit af te skei. As gevolg van die verhitting het die verbinding kwikgas afgegee wat almal in die huis siek gemaak het. Aanvanklik is daar gedink dat dit voedselvergiftiging was en eers nadat Groesbeek en sy dogter Hester oorlede is, het die dokter wat hulle behandel het, op die spoor van kwikgasvergiftiging gekom. Uiteindelik het drie ander kinders ook gesterf.
Van der Mescht het by ’n goudmyn aan die Rand gewerk, en dit is stellig daar waar hy die goudamalgaam in die hande gekry het. Hy was onwettig in besit daarvan: daar was ’n Transvaalse proklamasie van krag wat die besit en smelt van goudbevattende stof sonder ’n juwelierspermit ’n misdryf gemaak het. Daarvoor is hy in ’n latere hofsaak skuldig bevind en gestraf.
Van der Mescht is ook van strafbare manslag aangekla. Strafbare manslag, sal jy onthou, is die misdaad wat gepleeg word wanneer iemand ’n medemens se dood op ’n nalatige wyse veroorsaak. Die toets vir nalatigheid is, eenvoudig gestel, hoe die redelike mens onder dieselfde omstandighede sou opgetree het. As die beskuldigde nagelaat het om aan die standaard van die redelike mens te voldoen, was hy nalatig en kan hy aan ’n misdryf – soos strafbare manslag – skuldig bevind word.
Die hooggeregshof van Johannesburg het beslis dat die redelike mens in Van der Mescht se posisie die vyf mense se dood kon en moes voorsien het. Omdat hy nagelaat het om doeltreffende maatreëls teen kwikgasvergiftiging te tref, was hy aan strafbare manslag skuldig. Hy is tot 12 maande gevangenisstraf veroordeel.
Maar daar was ’n tweede rede waarom die hof beslis het dat Van der Mescht skuldig was. Ook omdat hy hom met ’n onwettige daad besig gehou het – die smelt van goudamalgaam sonder ’n permit – was hy, volgens die hof, ook aan die gevolge van sy onwettige daad, naamlik die dood van die vyf mense, skuldig.
Van der Mescht het teen sy skuldigbevinding en vonnis geappelleer. Die saak het op 15 Junie 1961 voor hoofregter LC Steyn en vier ander appèlregters gedien.1 Die hof het beslis dat die staat nie bewys het dat Van der Mescht bewus was of moes gewees het van die gevaarlike eienskappe van kwikgas nie, en dat hy gevolglik nie nalatig was toe hy versuim het om maatreëls teen vergiftiging te tref nie.
Met die redenasie dat Van der Mescht ook skuldig was omdat hy met ’n onwettige praktyk besig was, het die appèlhof groot fout gevind. Dié argument was gebaseer op die Middeleeuse leerstuk van versari in re illicita, wat daarop neerkom dat as ’n mens jou besig hou met ’n ongeoorloofde bedrywigheid, jy strafregtelik aanspreeklik is vir al die gevolge daarvan. Daar is dus nie gekyk na die dader se gesindheid, sy skuld, nie; hy is aanspreeklik gehou bloot omdat hy hom in die eerste plek met iets ongeoorloofs besig gehou het.
Hoofregter Steyn het ons gemenereg oor die versari-leerstuk deeglik ondersoek en beslis dat dit geensins algemeen deur die ou skrywers aanvaar is nie. Dit was, volgens die hoofregter, ’n primitiewe leerstuk wat uit ons reg geweer moes word. Die grondslag vir strafregtelike aanspreeklikheid is skuld in een van sy twee vorme: opset of nalatigheid. As die staat dit nie kan bewys nie, is ’n beskuldigde op sy vryspraak en ontslag geregtig. Van der Mescht se skuldigbevinding en vonnis is dus ter syde gestel, en die versari-leerstuk is "finaal deur die appèlhof ter ruste gelê", soos iemand dit treffend gestel het.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

