Venus het ook ’n "aandster" — nogal ’n tweeling! En dit is die nimlike aarde en sy maan, wat tans baie helder en laag bo die oostelike horison van Venus hang. Sou dit nie vir Venus se digte wolkbedekking wees nie sou die aarde en die maan vanaf Venus, ook baie helderder wees as wat Venus tans vanaf die aarde af vertoon. Die verligte kant van Venus is op hierdie stadium byna ten volle van die aarde af weggekeer terwyl die ten volle verligte kante van die aarde en die maan daarenteen in die rigting van Venus gekeer is. Die verskil in helderheid is vergelykbaar met ’n sekelmaan en ’n volmaan hier by ons.
Volgende week, op 6 Junie, beweeg Venus op ’n afstand van net meer as 43 milj km van die aarde af, tussen die aarde en die son deur en sterrekundiges verwys na die gebeurtenis, soos vanaf die aarde gesien, as inferieure konjunksie, met Venus en die son aan dieselfde kant van die aarde se horison (wes) terwyl vanaf Venus gesien die aarde en die son weer in opposisie is omdat hulle aan teenoorgestelde kante van Venus se horison sit — die son wes en die aarde oos.
Omdat Venus, anders as die ander planete in die sonnestelsel, van oos na wes roteer kom alle hemelliggame daar in die weste op en sak in die ooste. Venus roteer baie stadig (243 dae een keer om sy as) sodat die beweging van die aarde en die maan duidelik teen die agtergrond van die sterre tydens een lang sessie waargeneem sou kon word.
In die meegaande simulasie stel ek in een aaneenlopende sessie van 44 dae, wat in enkele sekondes vasgevang is, die oostelike horison van Venus op die voorgrond en die konstellasie van Scorpius op die agtergrond voor met die aarde en die maan wat om die aarde wentel en saam met die sterre stadig aan die oostelike horison van Venus sak.
Teen ongeveer middel Junie sal Venus weer sy verskyning as die môrester maak, waar dit vir Jupiter ’n ruk geselskap sal hou.
Groete
Panda


Kommentaar
Kwaai, Panda! Dankie!