’n behoefte aan iets onbekend
brand soos grasdakhuise
waar almal gesels …
en ek buite staan en luister.
’n brandende behoefte
spoel oor my soos ’n brander
waar almal kan speel …
en ek van ver af alles dophou.
’n brandende, spoelende behoefte
boikot alles nes ’n staking
waar mense saam veg …
teen my.
brandende, spoelende, stakende behoeftes
is in oorlog met mekaar
waar almal kant kies ...
en ek staan besluitloos.
brandende, spoelende, stakende, oorloggedrewe behoeftes
laat sink enigeen se moed,
want almal stry sy eie unieke stryd ...
en juis dit het ons almal gemeen.

