Twee vriende

  • 1

Party insidente het die manier om mens by te bly – die Engelse sê so mooi: “to linger”.

Vandag het daar weer iets gebeur wat in my geheue sal vassit.

In ons kinders se kleedkamer is hangplek vir klere. Rita het ook ’n paar onderbaadjies daar opgehang.

En vandag sien Sihle dit raak. Hy beduie vir my dat hy dit wil aantrek, en dat Rita dan ’n foto van hom moet neem. Soos altyd is Karabo byderhand en die twee se oë blink soos hulle beduie van die klere en foto. Wel, dan moet julle self vra, beduie ek terug.

Hulle gaan toe na haar klas toe en “vra” of hulle asseblief die klere (daar is nie ’n gebarewoord vir “onderbaadjie” nie – klere is klere, vir hulle in elk geval) kan aantrek en of sy ’n foto sal neem.

Dankie tog vir hulle: Rita se kamera is by die skool, en sy sê nie sommer nee nie.

Later in die dag kry die twee hulle beurt. Hulle trek elkeen ’n onderbaadjie aan. Die een wat Karabo kies, is silwer; Sihle s’n is van donkerblou blokkiesmateriaal. Dit word sorgvuldig toegeknoop. Die wit hempies wat altyd uithang, word netjies ingesteek.

Rita haal twee strikdasse uit. Hulle kom staan stil dat ek die strikdasse moet aanspeld.

Nou vir die modelwerk. Sihle se arm om Karabo. Voor die gordyn. Karabo se arm om Sihle.

Dan weer op die stoel – een sit en die ander staan. Ruil om. Glimlag. Kyk vir die kamera.

Nou moet Juffrou ook saam afgeneem word.

Twee blinkoog-, vrolike, dowe knape, in stemmige hofknapie-onderbaadjies en prettige blou strikdasse, se dag is gemaak.

En Juffrou s’n? Hoe dan nou anders?

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 1

Kommentaar

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top