Etiek, oordeel en kommodifisering: enkele opmerkings aan die hand van twee onlangse tekste

  • 0

Etiek in fokus

Vanaf beskerming van die omgewing tot verskeie regte aan mense en dinge toegeken, van die kleinste mediese prosedure tot die eise van militêre konflik: etiek is steeds op die tafel. Dit kan die hede omvorm en die oordeel oor die verlede verander, maar kan ook bloot help om te bepaal waar ons prioriteite oor die Kerstyd lê. Etiek is oënskynlik alomteenwoordig.

Een aspek staan egter sentraal binne etiek – dié van die fel van ’n oordeel. Gaan kyk mens na definisies en gebruik van etiek of etiese konsepte, is die kwessie van die maak van ’n oordeel/keuse in baie gevalle implisiet. In hulle omskrywing van besigheidsetiek stel Rossouw en Van Vuuren voor dat ’n definisie van etiek (en dan ook waarskynlik etiese oordeel) die konsepte van die Goeie, die Self en die Andermoet insluit. Etiese optrede gebeur volgens hulle wanneer iemand nie net doen wat goed is vir hom/haarself nie, maar ook die “ander” in ag neem (Rossouw en Van Vuuren 2010:4). Wat volg, wil hierop kommentaar lewer aan die hand van twee onlangs-gepubliseerde tekste van buite die veld van formele etiese teorie, en wil ook wys op ’n nuwe dimensie in die debat: dié van “kommodifisering” van ons moderne bestaan en die waardes wat dit onderlê.

Hoe ons dink: Daniel Kahneman se Thinking, Fast and Slow

Daniel Kahneman wen in 2002 die Nobelprys vir ekonomie vir sy studie (saam met sy oorlede navorsingsgenoot Amos Tversky) oor rasionaliteit en die wyse waarop mense dink, oordeel en keuses maak. Die boek is een van die mees omvattende onlangse studies oor die wyse waarop die menslike bewussyn funksioneer, en Kahneman stel sy doel soos volg:

… improve the ability to identify and understand errors of judgement and choice, in others and eventually in ourselves, by providing a richer and more precise language to discuss them. In at least some cases, an accurate diagnosis may suggest an intervention to limit the damage that bad judgements and choices often cause. (Kahneman 2012:4)

Kahneman het ten doel ’n sielkundige ontleding van ons oordeelsvermoë en dinamiek van denke, en hy voeg by tot die navorsing van mense soos Max Bazerman by Harvard wat werk oor gedragsetiek en onlangs navorsing gepubliseer het oor mense se etiese “blinde kolle”.

Kahneman dokumenteer in sy studie ’n aantal eksperimente oor die dinamika van hoe ons dink, oordeel en tot gevolgtrekkings kom. Hy identifiseer twee stelsels in ons bewuste denke (stelsels 1 en 2), waar stelsel 1 outomaties funksioneer en die meer intuïtiewe, vinnige denke verteenwoordig en stelsel 2 die meer reflektiewe, beoordelende en stadiger denke is wat meer inspanning verg. Stelsel 1 genereer indrukke en gevoelens, wat dan die basis word van stelsel 2 se oortuigings en keuses. Indien ’n anomalie deur stelsel 1 raakgesien word, word stelsel 2 gebruik om sin te probeer maak van die probleem.

Hy beskryf die twee stelsels in meer besonderhede, en sy aanduidings van hoe hierdie stelsels funksioneer, is boeiende leesstof. Die kern van sy argument kom daarop neer dat alhoewel ons glo dat ons rasionele wesens is met ’n gebalanseerde oordeelsvermoë, hierdie oortuiging nie die toets van die tyd deurstaan nie. Stelsel 1 is, anders as wat ons glo, die held van die verhaal van ons denke (2012:21). Hierdie opvatting word omvattend deur Kahneman geïllustreer aan die hand van verskeie praktiese voorbeelde. ’n Beskrywing van hierdie voorbeelde vorm die grondslag van die boek, en die uiteinde is ’n minder rooskleurige prentjie van hoe ons dink en die gevolgtrekkings waartoe ons kom.

Etiek en oordeel

 As dit waar is dat etiek veral te doen het met die vorming van oordele, is dit waarskynlik so dat hierdie oordele ly aan dieselfde denkfoute as wat Kahneman identifiseer. Uit sy ontleding van denkvooroordele, illusies en foute in redenasie en die maak van gevolgtrekkings, oormoed in besluitneming, die aard van keuses en die dinamika van geheue en intuïsie, blyk dit dat logika, goeie argumentasievermoë en noukeurige intellektuele ontleding nie noodwendig beteken dat ons nader kom aan die waarheid nie. Van belang is nie net goedgekonstrueerde argumente nie, maar ook ’n ontleding van die oordelebínne hierdie argumente, aangesien ons hierin met verskeie probleme te kampe het wat die argumente se geldigheid kan beïnvloed.

Kahneman se ontleding is baanbrekerswerk en noodsaaklike leeswerk binne alle dissiplines.

Daar is egter aspekte wat minder aandag ontvang en wat die studie dalk nog meer relevant sou maak. Een daarvan is opmerkings oor die moontlike rol van tradisie en kultuurinvloede in besluitneming en beoordeling. Nogtans bied Kahneman deur sy navorsing hier ’n addisionele stuk gereedskap om ook die konsepte van die Goeie, die Self en die Ander, asook ons denke en oordele oor die algemeen, te ontleed. En terwyl Kahneman ons hiertoe aanmoedig, stel Michael Sandel in aansluiting hierby ’n nuwe etiese probleem aan die orde, hierdie keer vanuit die breër gemeenskapsomgewing. Dit is die etiese kwessie om feitlik alles in ons moderne bestaan te omskep in een of ander vorm van verhandelbare kommoditeit.

Etiek as kommoditeit: Michael Sandel se What Money Can’t Buy – the Moral Limits of Markets

Daniel Kahneman se navorsing het direkte implikasies vir ekonomie en vir etiek, veral waar dit enigsins te doen het met die fel van oordele en die maak van keuses. Maar ekonomie en etiek het ’n plek nodig om te gebeur: die samelewing, of dan, vanuit ’n spesifieke hoek gesien, die “mark”. En die mark bied sy eie uitdagings. Wanneer etiek die mark binnedring, is ons in ’n mynveld.

Hierdie feit word aanskoulik gedemonstreer deur die huidige debat, nie net in die klaskamer of in direksievergaderings nie, maar ook in die strate, rakende die dinamiek en werking van kapitalisme. Net soos kritiese refleksie nodig is oor die wyse waarop mense dink en oordeel, so ook is dit nodig oor hoe ons besigheid doen.

Michael Sandel bied ’n ontleding van hoe omvattend die mark geword het in gemeenskappe vandag – só omvattend dat hy praat van ons huidige era as een van “market triumphalism”. Dit is ’n situasie hierdie waar ons beweeg het vanaf ’n mark-ekonomie na ’n mark-samelewing (2013:10). Sandel het dit oor die wenslikheid al dan nie van hierdie situasie. Hy sê: “There are some things money can’t buy, but these days, not many. Today, almost everything is up for sale” (2013:3).

Dit is nie noodwendig ’n nuwe insig nie. Onlangse studies en gevolgtrekkings, byvoorbeeld dat “the market determines changes in the cultural and societal environments” (Crane & Matten2010: 551) en kommentaar in die pers in ’n onlangse uitgawe van Le Monde diplomatique dat “the Nobel Prize for Economics promotes market fundamentalism”, steun hierdie standpunt (Hasan 2014). Selfs iemand soos die skrywer-filosoof Michel Houellebecq lewer sterk uitsprake in dié verband wanneer hy in sy opstelle beskrywings gebruik soos dat die samelewing ’n “markgemeenskap ... met rakruimtes van die sosiale hipermark” is; dat die moderne individu ’n “handelswaarde” het en dat eietydse argitektuur op sy beurt die “kasregisterestetika” dien (Houellebecq 2012).

Sandel bespreek ’n hele aantal voorbeelde van waar die mark die samelewing binnegedring het, en die prentjie wat hy skets, is somber. Van betalings deur gevangenes vir beter geriewe in die tronk tot die verkoop van plekke in toue om toegangskaartjies te koop, betaling vir die reg om beskermde wild te jag (’n voorbeeld uit Suid-Afrika), asook die verkoop van bloed en advertensies in klaskamers, dui sy argumente aan dat die moderne bestaan self grootliks ’n verhandelbare kommoditeit geword het – iets om te koop en te verkoop en, nog meer skokkend, dat hierdie toedrag van sake blykbaar sonder probleem deur die gemeenskap aanvaar word – ’n etiese kwessie op sigself.

Die meeste van Sandel se voorbeelde kom vanuit ’n Amerikaanse konteks, maar nie almal nie. Die beskrywings is universeel relevant, gegee die globale rol en invloed van geld. Sandel vra ’n dringende openbare debat oor die kwessie van kommodifisering (2013:13). Hy het dit dus veral oor etiek vir sover dit die uitbreidende invloed van die mark raak. Waar Kahneman wil aandui hóé ons dink en oordeel, het Sandel dit veral oor van die resultate van ons sogenaamde rasionele denke. Hy verwys na die ekonoom Kenneth Arrow se geloof in die inherente goedheid van die mark (“ethical behaviour is a commodity that needs to be economized”), en noem dat dit maklik is om te sien hoe só ’n ekonomistiese siening van waarde aanleiding kan gee tot verdere indringing van die mark in die gemeenskap, selfs daar waar die mark vroeër nie die deurslag gegee het nie (2013:126–7).

Sommige outeurs verskil met Sandel en sien kommodifisering as iets positief, alhoewel binne perke. Hulle noem byvoorbeeld dat verbruikers soms self produkte en dienste kommodifiseer en argumenteer dat om kommodifisering te beperk, deelname aan die kulturele lewe kan belemmer (Pröschel 2012:23–6). Ander stem met hom saam en sien ’n direkte skakel tussen kommodifisering in kapitalisme en kulturele agteruitgang (Pröschel 2012:24). Sandel wil egter ook aandui dat ons moet besluit of dit toepaslik is vir alles in die samelewing om ’n prys te dra en wys die implikasies hiervan uit.

Nuwe vrae en moeilike antwoorde

Die twee tekste waarna hier bo verwys is, bied nuwe perspektiewe op toegepaste etiek, hetsy in ’n persoonlike, besigheids- of breër samelewingsopset. Nie meer net die uitkomstes van etiese besluite is ter sake nie, maar ook die proses van hoe ons daartoe gekom het.

Hoe lyk ons prognose? Nie Sandel of Kahneman is baie positief nie. Kahneman is onseker of ons enigsins menslike rasionaliteit verder kan verbeter, terwyl Sandel noem dat ons gekonfronteer word met ernstige vrae oor hoe ons wil leef in ’n samelewing waar die mark al meer dikteer. Albei skrywers vra kritiese vrae oor ons oordeelsvermoë, helder denke en etiese oorwegings by die maak van gevolgtrekkings. Kahneman wil debat stimuleer en vat as volg saam oor wanneer ons in moeilike omstandighede ’n oordeel moet maak: “(R)ecognize the signs that you are in a cognitive minefield, slow down, and ask for reinforcement from system 2” (2012:417). Oor toenemende kommodifisering sê Sandel: “(T)he question is really a question about how we want to live together. Do we want a society where everything is up for sale?” (2013:203).

Om terug te keer tot die baie bruikbare beskrywing hier bo deur Rossouw & Van Vuuren van wat etiek is: hierdie omskrywing kan ook op die argumente van Kahneman en Sandel toegepas word. Wat die Self betref, wil Kahneman aandui dat ons denke en oordeelsvermoë verdag is en dat ons hiervan bewus moet wees. Sandel vra in sy gevolgtrekkings dat ons ’n persoonlike standpunt moet formuleer oor hoe ons wil lewe en hoe ons gemeenskap moet lyk, asook oor wat dit as waardevol ag.

Oor die Goeie, die kwaliteit van interaksie tussen ons en ander, wil Kahneman ’n pleidooi lewer dat ons ’n verantwoordelikheid het hieroor deur ons oordeelsvermoë te skool. Ons moet stadiger en versigtiger tot gevolgtrekkings kom. Sandel vra op sy beurt dat ons weer moet dink oor die gemeenskap en wat die goeie daar verteenwoordig, terwyl hy waarsku dat sommige van die samelewing se prosesse baie maklik ’n lewe van hulle eie kan ontwikkel wat nie noodwendig tot voordeel van die gemeenskap is nie.

Wat die Ander betref, wil Kahneman aandui dat ander mense ook ly aan die vooroordele en foute wat ons in ons denke en oordele maak en dat ons bewus moet wees hiervan. Saam met Sandel is die strekking van die argument dat ons die vermoë en verantwoordelikheid het om openlik en in die openbaar te gesels en te besluit oor die kwessies wat hier bo aangeroer is. Moontlik sal só ’n groter openheid en eerlikheid meer gebalanseerde resultate hê.

Daar sal waarskynlik uit verskeie dissiplines met Kahneman en Sandel kritiese gesprek gevoer kan word. Mens sou veral ook meer eksplisiet hulle standpunt wou hoor oor kwessies soos “morele verbeelding”, omskryf as ’n gevoel vir die verskeidenheid moontlikhede en morele gevolge van iemand se besluite en die vermoë om ’n wye spektrum verbandhoudende aangeleenthede, gevolge en oplossings te bedink (Crane & Matten 2010:159).

Beide hierdie tekste bied egter ’n oorspronklike en nuwe inset in ’n veld (etiek) wat soms geyk, die resultaat van konsensus en bloot polities korrek geword het.

Meer spesifiek lê die bydae op twee terreine: dat ons onsself nie moet bluf oor die korrektheid, geldigheid en nougesette omskrywing van ons akademiese (en ander) gesprekke en gevolgtrekkings nie, en dat ons terselfdertyd bewus moet wees van die verband tussen hierdie gevolgtrekkings, die omgewing waarbinne dit geformuleer word en waarbinne dit funksioneer. Dalk beteken dit dat ander waardes, benewens dit wat tradisioneel gesien word as die bepalende faktore vir goeie besluite en suksesvolle samelewings, onopgemerk die lewe binnegesluip het. Dit op sigself maak ’n sterk saak uit vir ’n herwaardering van eerlikheid en integriteit in ’n samelewing waar ons soms ly aan onhelder denke en ’n onkunde oor die toenemende ekonomisering van kennis, etiek en kultuur. Bekyk ons oor die algemeen die opset vandag, is die belang van hierdie tipe ontledings en pleidooie eintlik vanselfsprekend, indien nie onontbeerlik nie.

Bibliografie

Crane, A en D Matten. 2010. Business Ethics. Managing corporate citizenship and sustainability in the age of globalization. 3de uitgawe. New York: Oxford University Press.

Hasan, R. 2014. Rename the Nobel for Economics. In Le Monde diplomatique, 7 Maart, Engelse uitgawe. http://mondediplo.com/blogs/rename-the-nobel-for-economics.

Houellebecq, M. 2012. Vertaal deur Catherine du Toit. Tagtig gedigte en twee essays. Stellenbosch: Hond Uitgewers.

Kahneman, D. 2012. Thinking, Fast and Slow. Londen: Penguin Books.

Pröschel, N. 2012. Commodification and Culture. How can culture be economically used without selling it out? Vienna: BBA-tesis, Modul-universiteit.

Rossouw, D en L van Vuuren, L. 2010. 4de uitgawe. Business Ethics. Kaapstad: Oxford University Press.

Sandel, MJ. 2013. What Money Can’t Buy. The Moral Limits of Markets. Londen: Penguin Books.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top