The King's Speech: 'n Pragtige, menslike drama

  • 0

The King’s Speech
Regisseur: Tom Hooper
Kamerawerk: Danny Cohen
Rolverdeling: Colin Firth, Geoffrey Rush and Helena Bonham Carter
Looptyd: 118 mins

Agter die baie bekende historiese gebeure van die abdikasie van koning Edward VIII in 1936 en die uitbreek van die Tweede Wêreldoorlog in 1939 lê ’n stukkie pynlike, persoonlike koninklike geskiedenis: die spraakgebrek waaraan koning George VI sedert kindsdag gely het. Ná sy streng, onversetlike vader, koning George V, was hy die tweede troonopvolger, maar sy ouer broer se infatuasie met ’n geskeide Amerikaner het hom in 1937 (onwillig) die koningskap besorg. En uiteraard is openbare toesprake deel van ’n koning se daaglikse werk. Daarmee saam die gevreesde radio-opnames vir “addressing the people”, want dié nuwe tegnologie het beteken ’n koning kan nie meer net op ’n balkon staan en wuif nie.

George (gespeel deur Colin Firth) se spraakgebrek was ’n bitter probleem, en nadat geen dokter of kundige hom kon help nie, het hy moed opgegee. Maar nie sy vrou Elizabeth (Helena Bonham Carter) nie. In die kleinadvertensies snuffel sy die Australiese spraakterapeut Lionel Logue (Geoffrey Rush) uit, ’n man met ’n onkonvensionele benadering – maar hy kry resultate. Die res is, soos hulle sê, geskiedenis, met die nuwe koning George se belangrike toespraak aan die volk ná die uitbreek van die oorlog.
Met Colin Firth en Geoffrey Rush is dit ongeveer die beste van Brittanje wat die beste van Australië ontmoet, terwyl Helena Bonham Carter skitter in ’n (vir haar) konvensionele rol. Die beste kameevertolking is deur Timothy Spall as die ou bulhond Winston Churchill.

’n Pragtige, menslike drama – dit word hoog aanbeveel!

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top