Kultuur. Natuur. Plesier. Dit is die Afrikaanse Taalmuseum en -monument se tema vir hulle 2013/2014-somerpiekniekprogram. Vriende, kollegas, ondersteuners en lede van die media het bymekaargekom om die opening van die nuwe Taalmonument se besoekersentrum en museum in die Paarl te vier.
Die gebou spog nou met 'n splinternuwe uitstalling wat die ontwikkeling van Afrikaans van toeka tot nou uitbeeld. Die uitstalling is 'n kleurvolle reeks van drie panele in Engels, Afrikaans en isiXhosa. Dit spoor breedweg die geskiedenis van Afrikaans na, beginnende by sy Nederlandse/Europese wortels en die Khoekhoe- en slawe-invloede daarop – ’n geskiedenis wat daartoe gelei het dat verskeie taalkundiges Afrikaans as ’n semikreooltaal bestempel. Die uitstalling weerspieël die Britse koloniale owerhede se verwerping van Nederlands en Afrikaans, Afrikaans as sendingtaal, die opkoms van Afrikaans as ’n instrument van Afrikanernasionalisme in die vroeë 20ste eeu, en die opbloei van die taal in die veranderde sosiale en kultuurlandskap van Suid-Afrika ná 1994.
Isabeau Botha, bemarking- en kommunikasiebestuurder, het die gaste genooi om as toergidse vir die Taalmonument op te tree deur vriende en familie te nooi en die monument gereeld te besoek. "Ons wil mense help om anders na die Taalmonument te kyk," sê sy.
Hulle beplan boonop baie meer as begeleide toere. "Die Taalmonument is een van die gewildste en mees bekostigbare piekniekplekke in die Boland," sê Isabeau. Hierdie somer kan gesinne onder die volmaan kom piekniek hou en opelug-musiekkonserte, kindervermaak en fotografiewerkswinkels kom bywoon. Jy kan jou eie piekniekmandjie bring en die toegangsgeld beloop tussen R5 en R20. Kinders jonger as ses jaar kry gratis toegang.
Kliek hier om die kalender af te laai
Musieklegendes soos The Rockets, Elvis Blue en Springbok se eie Boeremusiekorkes sal hierdie somer onder die sterre optree. Daar sal ook 'n geleentheid vir sterrekyk wees.
"Toe die argitek, Jan van Wyk, hierdie monument ontwerp het, was sy bedoeling dat dit 'n lewende monument moes wees," sê sy.
Daarom is die Vriende van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument vandeesmaand op die been gebring om as ondersteuningsraamwerk te dien en so met algemene aktiwiteite en bemarking te help.
"Hierdie is 'n plek vir almal – nie net toeriste nie," sê Xania van der Merwe, voorsitter van die groep. Xania was verantwoordelik vir die kleurvolle dekor en piekniektema by die geleentheid.
Enigiemand kan by hierdie groep aansluit en met so min as R2 (die toegangsgeld vir skoliere) 'n verskil maak. "Een van ons grootste uitdagings is om meer skoliere na die monument te bring, aangesien daar nie bekostigbare en publieke vervoer na die monument is nie." Daarom vra die groep mense om deur skenkings te help, asook om te help dink aan oplossings om groepe na die monument te bring.

Van links: Jack Louw (direkteur), Xania van der Merwe (voorsitter: Vriende van die Afrikaanse Taalmuseum en -monument), Isabeau Botha (bestuurder: bemarking en kommunikasie), Amira Clayton (geleentheidskoördineerder) en Verinque Hendriks (gids).
Die Besoekersentrum is daagliks oop vanaf 08:00 tot 16:45. Vir meer inligting oor die uitstalling in die Taalmonument Besoekersentrum skakel 021 863 4809/0543/2 of e-pos admin@taalmuseum.co.za.

Gaste is bederf met 'n spesiale geskenkpakkie.

Xania van der Merwe het gesorg vir die mooi tafels.

Kultuur, plesier en natuur in elke geskenkpakkie.


Belangstellendes kan die Vriende se aansluitingsvorm by www.taalmuseum.co.za aflaai of dit by die Taalmuseum in Pastorielaan of by die Taalmonument op Paarlberg voltooi.
Vir meer inligting, skakel tel. 021 863 4809/0543 of kontak Xania van der Merwe by atmvriende@gmail.com.

Francis Niewoudt lees die gediggie deur Elizabeth Kendal voor:
My taal
Soos ryp appels in my hande
wil ek die worde van my taal
vashou en blink vryf
knarsend kou en
luister na die klanke:
helder, oop en mooi
appelbloedrooi
my taal waarin ek troos
my taal waarin ek bid
die taal wat kruisbeen
in my binnekamers sit
- Elizabeth Kendall



Van links: Salome du Toit, Anneke Cronje, Una Cloete en Mary Le Roux

Isabeau Botha en Susan Brown

Toeriste besigtig die nuwe uitstalling

Miranda van Breda (Paarl Toerisme), Franklin Huizies (Radio KC) en Francis Niewoudt (agter) (Paarl sakekamer)
Foto's: Chrizane van Zyl

