Té eerlik om stemme te werf?

  • 0

Die pleidooie vir eerlikheid in die Suid-Afrikaanse politiek weergalm al jare deur die geskiedenisboeke.

Op Woensdag 21 Augustus het Suid-Afrikaners uiteindelik dié gesogte eerlikheid gekry toe AgangSA se leier, Mamphela Ramphele, haar persoonlike finansies bekendgemaak het.

Kenners is egter bekommerd dat dié stap Ramphele kruisies in die verkiesingboks gaan kos.

Die mediastorm rondom haar onthulling is boonop vererger deur Forbes wat haar waarde twee jaar gelede as sowat R500 miljoen geraam het en nie die R55 miljoen wat sy bekendgemaak het nie.

Oor die R450 miljoen wat sy skielik verloor het, swyg Mamphela egter, en haar woordvoerders is onseker oor waarom sy nie destyds aangedui het dat Forbes se 2011-syfer verkeerd is nie.

In ’n verklaring op AgangSA se webtuiste verduidelik Ramphele dat “ons leiers nodig het wat die regte voorbeeld stel” en dat dit is waarom sy “vandag haar finansies oopmaak om deur Suid-Afrika se mense ondersoek te word”.

Deursigtigheid in die politiek mag dalk een van Ramphele se doelwitte wees, maar om stemme vir die opkomende verkiesing te werf, bly haar hoofoogmerk.

“Sy is deel van die minder as 1% superrykes in die land en doen afbreuk aan haar geloofwaardigheid om mense in die parlement te mag verteenwoordig deur haar finansies bekend te maak,” sê Pierre du Toit, die skrywer van etlike boeke oor Suid-Afrikaanse demokrasie en ’n lid van die Suid-Afrikaanse Vereniging vir Politieke Studies.

“Die enigste mense wat die etiek agter Ramphele se besluit sal kan waardeer, is waarskynlik die persone in haar geledere wat naby is aan dié 1%.”

Du Toit meen al verdien Ramphele se stap uit ’n etiese oogpunt lof, is dit steeds ’n risiko, omdat sy haarself ontoeganklik maak deur haar rykdom bekend te maak.

Ramphele hoop waarskynlik verniet dat sy druk op Jacob Zuma kan plaas om sy persoonlike finansies te vermeld, aangesien hy onder geen verpligting is om dit te doen nie.

“Ek doen ’n beroep op president Zuma om sy finansies onmiddellik te openbaar. Wat is daar dan om weg te steek?” vra sy in die verklaring.

Vrae word nou gevra oor waarom die ANC-topbestuur hulle aan ’n klein opposisieparty se politieke skaakspeletjie sal steur wanneer hulle onder geen verpligting is om daarop te reageer nie.

Jackson Mthembu, nasionale woordvoerder vir die ANC, kap in ’n ANC-persverklaring terug en verwys na Ramphele se versoek as ’n “oningeligte opmerking” wat spruit uit “onkunde van die regsraamwerk wat deur ons demokratiese bestel geskep is”.

Gerhard Kemp van die publiekereg-afdeling by die Universiteit Stellenbosch se regsfakulteit beaam dat daar “geen plig op enigiemand is om finansiële inligting bekend te maak nie”.

Die Suid-Afrikaanse grondwet beskerm individue se reg op privaatheid en beskik oor stelsels om parlementslede en openbare amptenare finansieel verantwoordbaar te hou. Hy sê dat parlementslede kontraktueel verbind word om sekere finansiële inligting bekend te maak, maar dat daar geen onus anders as die etiese op Zuma rus om sy persoonlike finansies te openbaar nie.

Juis hierom krap kenners kop oor presies wáárom Ramphele haar bankstate sal uitdeel vir ’n publiek waarvan die meeste mense onder die broodlyn leef.

“Haar idee agter dit is seker dat sy die daad by die woord sit deur haar finansies bekend te maak, en sodoende druk op ander politici probeer plaas, maar dit is ’n waagstuk. Sy stel ’n goeie voorbeeld, maar of ’n ou wat vyf jaar laas ’n werk gehad het dit kan waardeer, is onseker,” sê Du Toit.

Hierdie bydrae vorm deel van samewerking tussen LitNet en Universiteit Stellenbosch se Departement Joernalistiek gedurende 2013.
 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top