Straataf in sy tronkpajamas

  • 0

In die dae toe Zimbabwe nog Rhodesië was, was daar ‘n kêrel met die naam Smart wat – anders as wat sy deftige naam aandui – ‘n ou tronkvoël was.

Terwyl hy in die gevangenis was om ‘n straf van 12 maande met dwangarbeid uit te dien, is hy in die hospitaal opgeneem om ‘n operasie aan sy arm te ondergaan. In die vroeë oggendure van die dag waarop hy geopereer sou word, het hy gesien dat die wag wat langs sy bed geplaas is om hom op te pas, heerlik in droomland verkeert. Hy het van dié gulde geleentheid gebruik gemaak en uit die hospitaal ontsnap. Ongeveer ses maande later is hy in die Rusape-distrik op ‘n betreklik geringe misdryf in hegtenis geneem. Tóé kom hulle agter dat die ou wat nou onder arres was, die einste kêrel Smart is wat hom daardie nag so in sy hospitaalpajamas uit die voete gemaak het.

Smart is van ontsnapping uit wettige aanhouding aangekla. Sy storie aan die landdros was dat hy gedurende die dag voordat hy ontsnap het, na ‘n klein kamertjie geneem is waar hy deur ‘n dokter ondersoek is. Wat hy daar gesien het, het hom baie bang gemaak. Hy het vertel dat daar ‘n klomp beendere in die kamertjie was van mense wat al jare lank dood was. Daar was ook ‘n volledige menslike skelet – waarskynlik van die soort wat ‘n mens dikwels by hospitale kry wat gebruik word by die opleiding van verpleegsters. En wat die dokter hom verder vertel het, het hom baie benoud gemaak. Volgens hom het die dokter gesê dat hy vleis van sy een arm gaan afsny en dit op die ander arm gaan vaswerk. Van plastiese chirurgie en weefseloorplantings het hy seker nog nooit vantevore gehoor nie.

Nou kan ‘n mens jou indink in die arme Smart se posisie daardie slapelose nag voor sy operasie. Aan die een kant was daar die vreesaanjaende beelde van die menslike beendere en die dokter se grusame beskrywing van wat die operasie sou behels, en aan die ander kant was daar die slapende wag voor sy bed. As jy nou in sy posisie was, sou jy nie ook maar die hasepad gekies het nie – jou gestreepte tronkpajamas ten spyt?

Die landdros het Smart se storie geglo, maar het nie simpatie met hom gehad nie en het hom skuldig bevind en tot ses maande gevangenisstraf – wéér met dwangarbeid – gevonnis. Teen daardie tyd was sy arm seker al gesond, sónder die operasie. Dalk het sy vryheid en Rusape se gesonde, skoon lug ‘n heilsame uitwerking gehad.

Vanweë die swaar vonnis wat hom opgelê is, is sy saak deur twee regters van die destydse Rhodesiese hooggeregshof op hersiening geneem. Regter Beck het die hof se uitspraak1 op 8 Maart 1973 gelewer en op ‘n heel humoristiese manier baie begrip vir Smart se ontsnapping betuig. Hy haal ‘n ou Engelse gesegde aan: “Cowards die many times before their deaths; the valiant never taste of death but once.”

Soos ons almal – het regter Beck beslis – was ook die arme Smart maar vrek bang vir ‘n operasie. Die regter was van mening dat die landdros ‘n bietjie meer begrip vir sy vrees moes getoon het. Smart se skuldigbevinding aan ontsnapping is bevestig, maar sy ses maande gevangenisstraf met dwangarbeid is verminder tot drie maande met arbeid, wat in die geheel vir drie jaar opgeskort is. Hierdie gesindheid van regter Beck laat ‘n mens dink aan wat Langenhoven gesê het:2 “Om te sondig is dierlik, om te veroordeel menslik, om te vergewe goddelik.”

1 Vgl S v Smart 1973(2) SA 753(R)

2 Versamelde werke, Deel 9 (1973), bl 287

 


 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top