Titel: Still Standing
Skrywer: Erla-Mari Diedericks
Uitgewer: Protea
ISBN: 9781869199272
Koop Still Standing by Kalahari.com.
Still Standing is Erla-Mari Diedericks se tweede boek, waarvan die eerste Sin, Sushi en Survival is.
Die koekerige huisvrou Dianne, in haar middel-dertigs, se aantreklike man, Wayne, verneuk haar met ’n ander vrou, want sy jare lange huwelik met Dianne het hom begin verveel. Daar sit Dianne nou sonder hoop, liefde en met minder as nul selfvertroue. Haar haarstyl is oudmodies, haar klere vaal en huisvrouerig. Boonop het sy heeltemal tred verloor met die werkersmark nadat sy al die jare nie gewerk het nie. Daarby kry sy eienaardige drome oor n baie aantreklike man, en net soos in Sin, Sushi and Survival sit ook hierdie man in ’n rystoel. Gelukkig snel Judy, Dianne se oorentoesiastiese vriendin, haar te hulp en help haar om weer haar regmatige plek te vind in ’n wêreld wat vir niemand stilstaan nie.
Wat hierdie boek beter maak as net nog ’n gewone erotiese strooisage, is die skrywer se uitbeelding van ware emosies, komplekse en innerlike redenasies waardeur ‘n vrou gaan wanneer sy in haar liefde verlaat is. Maar sonder die wroeging en smart wat gewoonlik met so ’n tema gepaard gaan, bevat hierdie storie baie humoristiese oomblikke. Daar’s baie swart humor wat die boek heerlik maak om te lees.
Die arme, naïewe Dianne bevind haar in allerhande komiese situasies wat my hardop laat lag het. Neem nou maar hoofstuk 19, “Panties and Princes”, waar vriendin Judy haar winkels toe neem vir ’n splinternuwe beeld wat strek van shapers vir vet magies en groot boude tot silikoon-bra-opstoppers vir kits-cleavages. Terwyl Dianne die jellierige borsies in haar bra probeer kry, raak die een per ongeluk vasgekoek in haar hare. Daar staan die verleë vrou met ’n ekstra bors op haar kop. Toe Judy haar angstige gille vanuit die aantrekhokkie hoor, snel sy haar te hulp en met ‘n erge stoeiery kry hulle die ding uiteindelik uit – tot groot ergernis van die winkelassistent. “Horrified we both stared at the unstuck silicone breast. It was covered in hair. (…) We both gawked at the hairy thing.” Waarop Judy vir Dianne dan sê sy beter dit nou maar koop. Want niemand gaan belangstel in iets wat lyk soos ‘n harige klein seekatjie nie (151).
Wat hierdie erotiese roman ook beter maak as die gewone, is dat dit nie net gaan oor romanse nie – die skrywer lig ook lewenskwessies uit. Dianne se ma glo byvoorbeeld dat alle mense met liggaamsgebreke óf werkloos is óf minderwaardige beroepe beklee (207):
“Wait a minute … is he an engineer?” asked Mother.
“Yes, Mother … what did you think he was?”
“I thought he was a messenger boy, dear. Those people normally are.”
Op dieselde bladsy kom rassevooroordeel ook voor:
“Mother’s eyes widened. “Oh no, Dianne! Please don’t tell me that he is AA!” she whispered.
“AA?” I asked confused. “As in Alcoholic Anonymous? Why would you think he’s an alcoholic?”
“I don’t mean that AA, Dianne. I meant the other one: Affirmative Action. He’s not black is he?”
I sighed. “No Mother. He’s not black. Just disabled …”
“Oh … well, that is fine then …”
Alhoewel ek baie gehou het van Still Standing, is daar tog dingetjies wat my afgesit het. (Geen boek is tog perfek nie.) Die feit dat die karakters soveel clichés gebruik, is irriterend. Dit herinner mens aan die sitkom Absolutely Fabulous en die fliek Bridget Jones’s Diary. Die naam Sweetie soos in “Sweetie Dahling”, wat tot vervelens toe gebruik word in Absolutely Fabulous, kom te veel kere ook in hierdie roman voor. Ook die cliché “young lady” en “young man” word deur elke karakter gebruik. Dis darem net te toevallig dat hulle almal dieselfde woordeskat gebruik.
Tog is hierdie boek heerlik om te lees.
Lesers sal hou van die hoofkarakter, Dianne. Sy verbeel haar sy’s lomp en vaal en naïef, persoonlikheidstrekke waarmee ons almal resoneer. Sy raak verlief; is deurmekaar; die man wat sy gedink het is smoorverlief op haar, het haar verraai. Maar sy veg moedig voort om haarself weer te vind, ’n nuwe lewe vir haarself oop te kap. Na alles bly sy nog staande. Die witwarm sekstonele is ook nie te versmaai nie – dit word baie goed deur die skrywer beskryf, maar oorheers gelukkig nie die verhaal nie.
Still Standing sal byval vind by vroue van alle ouderdomsgroepe, asook by sensitiewe mans wat self al deur die maalkolk van die lewe is.
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

