Springsteen: Opregtheid kweek opregtheid

  • 0

Tom Morello neem die vokale werk oor by Springsteen. Die tweetal, en die res van die E Street Band, is so halfpad deur die lied "The ghost of Tom Joad". Kort voor ’n refrein, waarna Morello sal vertrek op een van die mees alomverbysterende kitaarsolo's wat ek al in lewende lywe kon sien, maak Morello vuis styf en wys na die keps op sy kop. Die woord "Madiba" is daarop geborduur. "Whenever someone's struggling to be free," bulder hy, "look into their eyes, Mom, you'll see me!"

Om jou ’n idee te gee (dit is ’n ou opname, maar ’n min of meer soortgelyke vertoning):

Dié deel van Springsteen se optrede Sondagaand 26 Januarie 2014 in die Bellville Velodrome (waaroor Springsteen kamma oorbluf opgemerk het: "We came eight thousand miles to play in a place that's exactly like the fucking convention hall in Asbury Park [in New Jersey, sy grootwordstaat]!") was nie die enigste wat my ’n lang, lang tyd sal bybly nie, maar dit was moontlik, vanweë die uniekheid van die situasie en die absoluut oorweldigende musikale sinergie wat die E Street Band skep, die oomblik wat die duidelikste ingeëts is.

Nog ’n oomblik ...

Biegtyd: Ek is nie ’n groot Springsteen-kenner nie. Danie Marais het ’n ruk terug in ’n rubriek erken hy het "Born in the USA" verkeerd verstaan met die eerste paar luisterslae en gedink dit is ’n pro-Amerika-lied. Ek het vroeg in my luisterlewe in dieselfde strik getrap en gedink dis ’n papperige stukkie patriotisme en dus nie veel aandag aan The Boss geskenk nie. Deur die jare sou ek wel snitte soos "Born to Run" en die werklik meesleurende temalied wat hy vir die film The Wrestler geskryf het, "One-trick pony", herhaaldelik op “herhaal” stel.

Tog het daai aanvanklike sinisme jeens die Baas nie genoegsaam gekwyn om sy oeuvre ordentlik te leer ken nie.

Dus het ek Sondag se vertoning in betreklike onkunde betree, en in ’n groot mate is ek dankbaar daarvoor, want in ’n vertoning van meer as drie ure is die verrassingselement van grootse belang. Nie dat die band nie sélf daardie verrassingselement kon behou vir selfs die mees geharde Springsteen-konsertganger nie. Beurte vir instrument- en sangsolo's is onreëlmatig afgewissel, gechoreografeerde dansies wat die hele enorme orkes (insluitende Springsteen) betrek, het op onverwagse oomblikke opgeduik, en die gehoorinteraksie was werklik spontaan. ’n Hoogtepunt in dié opsig was moontlik toe hy by ’n sperreling opgeklim, teen ’n paar gehoorlede geleun en oor die mikrofoon gebulder het: "I need a beer at my ear!" Gou genoeg het ’n bier wel daar uitgekom en Springsteen het dit op indrukwekkende wyse – veral aangesien die gehoorlede gedurig aan hom gepluk en geklap het – afgesluk.


Foto: Annie Klopper

My damelike metgesel Lisa (vir wie se pa, Paul, ons ewig dankbaar is vir die kaartjies!) merk in ’n stadium op ’n mens kan áánvoel dat die genot wat Springsteen blykbaar uit die vertoning put, opreg is. Daar's géén van die geforseerdheid waarmee sommige ander kunstenaars wat hierheen reis (ek gaan eerder nie name noem nie), probeer om met die gehoor te flankeer nie – en ek wonder of dit nie juis iets te make het met die beweerde visuele ooreenkomste wat die Velodrome met Asbury Park se gemeenskapsaal deel nie.

Iets wat my herhaaldelik opgeval het, so gepraat van opregtheid, was ook die opregtheid van talle gehoorlede. Springsteen is ’n kunstenaar wat spreek tot talle klasse, demografieë en dies meer, anders as sommige ander kunstenaars wat hierheen reis en jongmense uit die hoër klas lok wat sigbaar (glo my) nie werklik ’n belangstelling in musiek het nie, maar ’n konsert bywoon oor dit trendy is, oor dit die paartie van die aand is, om gesien te word. Ek het ’n paar maal rondgekyk en mense gesien wat bes moontlik lankgespaarde fondse moes uithaal vir ’n kaartjie, mense wat nie gekleurde en gekondisioneerde haredosse rondswaai nie, mense wat duidelik nie onlangs blootgestel is aan "gepaste" (met opset tussen aanhalingstekens) dansbewegings nie, wat hul heeltemal, hééltemal begeef in die belewing en die meelewing van dit wat voor hulle afspeel.

Dít verg ’n werklik besonderse kunstenaar, en Springsteen is so een.

Ns: Ek wou met opset nie te veel verklap oor die liedere wat gespeel word en hul volgorde nie, maar indien jy ’n kaartjiehouer vir ’n opkomende optrede is, hoef jy nie bekommerd te wees nie – die ou treffers word wel uitgevoer.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top