Springsteen: Hoe ouer jy raak, hoe meer beteken dit

  • 0

Bruce se boude was styf gebêre tussen Dolly Parton se buuste en Die Kavalier se geveerde hoed (my ouers het ’n diverse plateversameling gehad) toe ek hom die eerste keer ontdek: Born in the USA, opgeneem in my geboortejaar, 1984.

En aangesien die ikoniese foto deur Annie Leibovitz op die stofomslag van hierdie plaat nie Bruce Springsteen se gesig onthul nie, het ek – toe my sesjarige vingertjies die plaat versigtig op die draaitafel plaas – aanhou wonder hoe dié mechanic se gesig lyk, want iets aan die verweerde denimbroek en verbleikte rooi kep in die broeksak het my kinderbrein oortuig die man op die foto moet sonder twyfel ’n mechanic wees. My wanpersepsie is waarskynlik aangevuur deur verwysings na die lewe van die werkersklas in die lirieke, soos in “Working on the Highway”:

Friday night's pay night, guys fresh out of work
Talking about the weekend, scrubbing off the dirt
Some heading home to their families, some looking to get hurt.

Ek het niks geweet van die Amerika (of die lewe of oorlog) waaroor hy sing nie. Ek het geweet van Wielie Walie en Sondagskool. Maar iets aan die epiese klawerbordnote en sewentien tromslae voor die rasperstem inval met die temalied, het my teen die bors getref: reg tussen Minnie Mouse se twee ore op my Disney-hempie en skuins links van my Mike’s Kitchen-borsspeld.

Ek het die plaat voos geluister. Eintlik net na twee snitte, wat moeite gekos het, want ek moes herhaaldelik die plaat omdraai tussen “Born in the USA” aan die een kant en “Dancing in the Dark” op Side 2. 

En toe sterf my fassinasie met die gesiglose mechanic meteens. (“Everything dies, baby, that’s a fact.”) Tussen tapes van The Offspring en CD’s van Nirvana, mislukte tienerverhoudings, nog Sondagskool, die suburbs en skoolwerk het die magiese impak wat Bruce se musiek op my as kind gehad het, in die ’90’s eenvoudig verdwyn. Bruce was my ouers s’n. Teruggebêre tussen Dolly en die Kavalier onder ’n stowwerige platespeler, in ’n sitkamer in Brackenfell.

Tot ’n skemeraand in 2007, toe die bekendheid van The Boss se stem oor luidsprekers in ’n bus op pad na wie-weet-waar my roep: “This is Radio Nowhere. Is there anybody alive out there?”

Dit was hierdie wekroep vanaf die fantastiese 2007-album Magic wat my genoop het om die geërfde platespeler af te stof en Born in the USA te herwaardeer. Want, soos Bruce self gesê het tydens ’n onlangse optrede in Ierland: “The older you get, the more it means.”

En dertig jaar ná die opname van Born in the USA, in my dertigste jaar (ek hou van sinkronisme) daag Bruce in my hometown op. En op pad na sy konsert die afgelope Sondagaand in die Bellville Velodrome herinner ’n SMS van ’n vriendin my aan hoe my generasie Bruce se boude vóór sy gesig leer ken het:

Probeer asb ’n foto van Bruce se boude neem. Ek wil weet of dit nog so goed lyk.

Dit was in die lig van bogenoemde fassinasie met Bruce se boude terloops nie verbasend nie dat een van die twiets wat die volgende dag opspraak gemaak het, dié van Ian Bredenkamp was, waarin hy vertel het dat hy en sy vrou albei die geleentheid gehad het om aan Bruce se boude te kon vat tydens ’n crowd surf.

Ek en my metgesel, Betina, was ook gelukkig genoeg om binne vatafstand te kon wees, in die pit reg voor die verhoog, ’n plek wat ons die duur van die hele inleidende cover van “Free Nelson Mandela” geneem het om te bereik nadat ons laat opgedaag het vir die vertoning. Ons was laat, want ons het eers ’n bar in Durbanville se Edwardstraat aangedoen waar ons parkeer het. Dit was een van daai regte donker, vuil kroeë, met ouens in geskeurde jeans wat pool speel en brandewyn drink. En die kroeg was vol, selfs op ’n Sondagaand. Want:

Friday night's pay night, guys fresh out of work
Talking about the weekend, scrubbing off the dirt
Some heading home to their families, some looking to get hurt.

Maar toe ons uiteindelik deur die malende gehoor die pit teen die tweede liedjie, “Badlands”, bereik, kon ons toekyk hoe The Boss met ’n asembenemende fiksheid rondbeweeg en later crowd surf terwyl die ewe legendariese Tom Morello se solokitaarspel my so aangegryp het dat dit ’n string metafisiese gedagtes by my ontketen het.

“In ’n tyd van backtrack back-ups en rookmasjiene is Bruce Springsteen nog die epitomie van egte, rou groot verhoog-rock,” merk Betina ná die tyd tereg op. 

En alhoewel “Dancing in the Dark” en “Born in the USA” toe wel hier teen die einde uitgevoer is (tot groot bevrediging van my en almal om my), het ek tevergeefs gestaan en wag vir my gunsteling, “Radio Nowhere”. Ek het ná die tyd verneem dat mens ’n plakkaat moet maak van die liedjie wat jy graag wil hoor. Byna meer as die helfte van Bruce se set list word bepaal deur ’n monitor wat hierdie plakkaat-versoeke uit die gehoor optel, en ’n produksiebestuurder fluister dit dan in Bruce se oor. Hy wil vir die gehoor húlle liedjies speel – gehoorlede soos die middeljarige man agter my, geklee in ’n eenvoudige wit T-hemp en tekkies, wat hande in die lug, knieë effens gebuig en oë gesluit, elke liewe liriek saamgesing het. En veral begeesterd geraak het toe Bruce sing: “Pay me my money down!” Vir hierdie ou was Bruce definitief sý Bruce, het ek gedink.

En toe tref dit my – net soos die sewentien tromslae my destyds tussen Minnie Mouse se ore teen my bors getref het: Bruce is nie meer slegs my ouers se Bruce nie. Hy is nou ook mý Bruce. Miskien omdat ek nou sy lirieke en die nuanses daarvan beter kan begryp. Miskien omdat ek nou kan besef “Dancing in the Dark” is meer donker as dans. En dat ek nostalgies kan saamstem as hy in “Atlantic City” sing:

Everything dies, baby, that's a fact
But maybe everything that dies some day comes back.

 


Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top