Een van die lekkerste dinge waarmee die ou jaar afgesluit is, was die bekendstelling van ’n labirint op die plaas Solaris, voorheen Ouvloer, in die distrik Albertina. Dit was ’n voorstelling van ’n gebruik wat vir die meeste aanwesiges ’n nuwe ervaring was. Wat ’n vrolikheid het dit nie afgegee nie!
Van die boere uit die omgewing het gekom “om op die vreemde ding te stap”, en toe iemand een van die vroue gevra het wat by die labirint gedoen sou word, kon sy heeltemal kolskoot antwoord: “Man, ons gaan onsself vind!”
Ander besoekers het van Mosselbaai en Stilbaai gekom. Marié Heese, nog aan’t herstel met ’n hartaandoening, het kom saam stap omdat sy ook so ’n labirint op Die Brak op Stilbaai wil laat bou. Die Brak is ’n hartsplek vir haar – ’n tuin met fynbos, ingerig vir ontspanning, maar ook leersaam en boonop spesiaal so ingerig om vir blindes (gepas genoem reuk-en-raakroete) en gestremdes tot plesier te wees.
Die labirint op Solaris is deur die eienaar, Samuel Louw, gebou na die model van die beroemde Chartres-katedraal in Frankryk . Op ’n koppie met ’n verruklike uitsig oor Die Poort en die omringende Langeberge en Outeniekwaberge het hy die labirint met veldklippe gepak wat, geoordeel aan die bokkies se besoeke, inpas by die harmonie van die omgewing.
![]() |
![]() |
| Amanda verduidelik die gebruik van labirinte. Fransa Cronje van Stellenbosch staan links. |
Amanda Botha knip die lint. |
Die labirint is geopen met onbegeleide sang deur Hanlie Strauss-Lubbe, deesdae ’n boervrou in die Mosselbaai-distrik, maar eens ’n sangstudent van Emma Renzi en Gerda Hartman in Pretoria. In die stilte, net na sononder, het haar pragtige sopraanstem ver oor die heuwels geklink. Eers het sy “In die stilte van my tuin” en daarna “Koud is die wind” uit die siklus van Vier weemoedige liedjies gesing, gebaseer op die gedigte van ID du Plessis en getoonset deur Arnold van Wyk.
Tania Louw, die vrou van die plaas, het die naamgee van die labirint verduidelik: Amanda se Labirint is na twee Amandas vernoem – die een, Amanda Meiring (1960-2005), ’n hartsvriendin van die Louws wat haar hand aan eie lewe geslaan het, maar sou goedkeur wat hulle op Solaris wil vermag, en die uwe, omdat ons mekaar met die eerste oogopslag as geesgenote kon eien.
![]() |
|
Samuel, Tania, Fritz en Francois Louw |
Die Louws het ’n paar jaar gelede die ou familieplaas gekoop en dit oor die tyd liefdevol herstel en die huis en ander opstalle gerestoureer. Die een opstal is omskep in ’n kunsgalery,vernoem na Samuel se moeder, Trientje Brüni (om die Nederlandse kant van die familie te erken), waar werke van bekende kunstenaars aangebied word, maar wat hoofsaaklik ’n vertoonlokaal is om geleenthede aan plaaslike talent te bied. Esoteriese werkwinkels word gehou en seminare oor die kuns en die poësie word deur bekendes aangebied.
![]() |
|
Trientje Brüni Galerij |
![]() |
|
Amanda voor die werke van plaaslike kunstenaar Mien Greyling in die Trientje Brüni Galerij |
Daar is ook ’n staproete en die 8 km lange 4x4-roete (gedoop die Aalwynroete, wat veral in die winter spesiaal is) en nie te veeleisend is nie, maar wat tog nie sonder ’n 4x4-voertuig aangepak kan word nie. Daar is ook ’n aangename kothuis wat te huur is. Die klem op die plaas is ekotoerisme, maar wel vir diegene wat in stilte en rustigheid die plaasomgewing wil ervaar. (Sien hulle webtuiste vir verdere inligting: www.flickr.com/solarisjourney/sets, of kontak tania.solaris@yahoo.com.)
![]() |
|
Amanda op ’n jolige stappie met studente van Stellenbosch asook plaaslike skoliere |
![]() |
|
Marié en Chris Heese op pad na die labirint |
![]() |
|
Marié Heese neem die voortou op pad uit die sentrum uit. |
Die labirint en sy gebruike
Hoewel daar ’n tradisie van gebruik van die labirint oor meer as tien eeue in die Christelike kerke is, is die labirint neutraal. Dit word ook deur ander geloofsbelewenisse gebruik, maar die doel is dieselfde: die strewe na innerlike eenwording met die self en met God.
’n Labirint word uit konsentriese sirkels saamgestel met ’n bepaalde ingang, middelpunt en uitgang. Dit is nie ’n doolhof nie, maar ’n driedimensionele legkaart. Niemand verdwaal hierin nie en daar is geen raaiwerk rondom die roete wat gevolg word nie. Jy volg eenvoudig die rigting en die patroon is altyd sigbaar terwyl jy stap. Daar is met die aanvang van die roete die sekerheid dat dit na ’n middelpunt lei, waar rus is en waar weer die rigting daaruit duidelik aangedui word. Die hoofdoel van die labirint is om jou tydens die gebruik daarvan simbolies ’n pelgrimstog (na Jerusalem) te laat onderneem waarin daar na ’n eenwording gestreef word tussen jou innerlike behoeftes en aanraking met God. Hierdie tog rig jou aandag op die strewe na eenheid en heelheid.
Labirinte bestaan al vir meer as 4 000 jaar en word in verskeie kulture en godsdienste van die wêreld aangetref. Die oudste bekende labirint dateer uit die 19de eeu vC in Antieke Egipte, waar dit die pad uitgebeeld het van die gestorwe siele na die doderyk. Soortgelyke labirinte is ook bekend in Boeddhisme. Hier verteenwoordig dit die pad na wysheid en verligting.
Die komplekse labirint wat Daedalus vir koning Minos van Kreta gebou het om die gevreesde Minotaurus – die halfmens, halfbul – in te kerker is die bekendste in die antieke Europese kultuur. Volgens die Griekse mitologie het die dapper prins Theseus vanaf Athene na Kreta gevaar om die Minotaurus in die kern van die labirint te dood. Ariadne, koning Minos se dogter, het egter op Theseus verlief geraak en besluit om hom te help. Net voor die prins die labirint binnegegaan het, het Ariadne ’n groot bol tou aan hom gegee. Die punt van die tou het hy vasgemaak by die ingang van die labirint en Theseus gevra om soos hy loop die tou af te rol. Soos dit ’n ware held betaam het, het Theseus die Minotaurus in die kern van die labirint doodgemaak en kon hy weer sy weg na buite gevind, danksy die tou – vandaar die bekende term Draad van Ariadne.
Die beroemdste Westerse labirint, wat as model vir ander gebruik word, veral binne die Suid-Afrikaanse konteks, is uitgelê in die Chartres-katedraal, sowat 70 km buite Parys. Die katedraal is vandag die eindpunt van vele pelgrimstogte. Dit is gebou op die ligging van ’n antieke heuweltop-woud met ’n prehistoriese fontein waar vroeëre Druïde-rituele uitgevoer is. Die Chartres-labirint is een van die min Middeleeuse labirinte wat behoue gebly het. Dit is grootliks onbeskadig, behalwe vir die kern, waar die aanvanklike gegraveerde kernplaat van koper, brons en lood gedurende die Napoleontiese oorloë verwyder is om kanonkoeëls mee te maak.
In Afrika-spiritualiteit is die labirint reeds duisende jare lank deel van stamtradisie en word dit as deel van die inisiasie-proses gebruik in die oordra van wysheid van een generasie na ’n ander. Labirinte kan gevind word in rotstekeninge en graverings van die San en is ook bekend aan die Aborigines in Australië en die Hopi-Indiane van Suid-Amerika.
In die legendes van die Middeleeue en die Renaissance is daar vele doolhowe en labirinte as simbole vir pelgrimstogte of mitologiese reise. Die labirint is ook die simbool van die universele pelgrimstog van St Iago de Compostella na Lourdes of Jerusalem.
Die eerste bekende labirint wat in Suid-Afrika uitgelê is, is in 1980 aangebring in ’n katedraal in Pietermaritzburg. Wat veral die aandag getrek het, was die Chartres-styl labirint wat Peter Frazer en sy vrou, Nola, in 1988 op die plaas The Manger op Lemoenshoek in die distrik Barrydale uitgelê het. Sedertdien is verskeie labirinte regoor die land, selfs op Robbeneiland, gebou. Die waarde van die labirint, as proses van heling, wen toenemend veld in Suid-Afrika. Die stap-ervaring binne die konsentriese sirkels na ’n middelpunt en terug word alom erken as ’n terapeutiese proses wat in die gejaagde postmoderne samelewing ’n noodsaaklike verposing bied om op die innerlike te fokus.
Die Kaapstadse Stadsraad was die eerste openbare instansie wat vir sy inwoners – en besoekers – ’n labirint uitgelê het. Die eerste labirinte is by kerke in gebruik geneem en toenemend word dit binne die gesondheidsektor as hulpmiddel ingespan vir die behandeling van verskeie siektes, soos Parkinson se siekte, en vir hart-, kanker- en depressielyers, en by spesiale skole is dit ’n hulpmiddel vir kinders wat aan Aandagafleibare Sindroom (ADS) ly, terwyl pasiënte met neurologiese disfunksies en liggaamlik gestremdes veel baat daarby vind.
Die mees algemene gebruik van openbare labirinte in Suid-Afrika is as meditasie-instrument. So word die labirint ook hier suksesvol aangewend by slypskole om gemeenskapsprojekte te onderneem waar versoening die hoofteiken is. Die logo by sulke labirinte is ontleen aan ’n gesegde van die Romeinse filosoof Seneca, wat reeds in die eerste eeu nC gesê het: “Elke nuwe begin kom van ’n ander begin se einde.”
In die afgelope twaalf jaar het Lauren Artress van die Grace-katedraal in San Francisco veel gedoen om labirinte wêreldwyd te laat herleef. Na ’n besoek aan die Chartres-labirint het sy die spirituele waarde daarvan besef en deur haar toedoen is twee Chartres-labirinte by die Grace-katedraal uitgelê. Hierdie labirinte is 24 uur per dag in gebruik met miljoene mense wat jaarliks daarvan gebruik maak. Artress is die stigter en direkteur van Veriditas, The Voice of the Labyrinth Movement. In haar gesaghebbende werk Walking a Sacred Path – Rediscovering the Labyrinth as a Spiritual Practice fokus sy op die drie stadia van die labirint: die pad na binne, tyd in die kern en die pad uit.
Die drie stappe stem ooreen met die Christen mistikus St Theresa van Avila se klassieke drie stasies van die reis na God: suiwering, illuminasie en eenheid. Vir Artress is die labirint in ’n sekere sin ’n kerk sonder mure. Die ruimte wat dit skep en die ervaring om daarin te loop, is heilig en kragtig. Dit voed ’n groter bewussyn van eenheid.
Wat gebeur as jy die labirint stap? Eers is daar die spirituele konneksie tussen liggaam en gees sonder die direkte betrokkenheid van die verstand. Die brein is letterlik besig om te volg waar jy loop en dit laat ruimte om in voeling te wees met jou diepere self. Simbolies is die stap soos die lewe self. As jy die labirint binnegaan, is daar simbolies gesproke nie kans om om te draai nie. Jy stap in vertroue op die roete met die wete dat dit jou na die middelpunt lei. Terwyl jy stap en konsentreer hoe jy stap, voel jy die konneksie tussen liggaam en gees en maak dit jou vry om gewillig te luister na die influisteringe van innerlike wysheid.
As jy die labirint met ’n probleem aandurf waarvoor ’n oplossing verlang word, laat jy die probleem by die ingang en gee jou tydens die stap oor aan meditasie met God. Jou probleem word in kuratorskap geplaas – dit staan vir eers buite jou – en met die uitgaan word die probleem ’n uitdaging wat jy met ’n positiewe ingesteldheid en konstruktiewe energie kan benader.
As jy die middelpunt bereik het, weet jy dat jy hier in ’n geborge ruimte gekoester word. Hier is, by wyse van spreke, rus. Of jy ’n minuut of ’n halfuur vertoef (die keuse is joune), dit word dit ’n hawe waarin die gees hernu word en vertroue en hoop opgeskerp word. Die bewustheid vervang die neerdrukkendheid van vroeër en skep in jou ’n nuwe ruimte en gevoel van objektiwiteit. Met die terugstap kom daar insig, ’n berusting dat as jy die gekoesterde en geborge ruimte verlaat (wat vir jou die simboliese ruimte van oorgang word), kan jy opnuut weer jou kop lig en jou lewensreis onderneem in die seker wete dat God intens met jou gemoeid is. Die resultaat is ’n gevoel van dankbaarheid vir die genadegawe.
As meditasie-instrument word die labirint simbolies die reis na God deur ook innerlik met onsself in voeling te kom. In die eenvoudige handeling vind die siel rus en vrede. Wanneer jy die labirint loop, trap jy ’n meer liniêre tyd na ’n meer innerlike, intuïtiewe bewustheid.
Dit skep ’n ruimte om na jou innerlike wysheid te luister en om nuwe insig op jou spirituele reis te vind.
As jy die labirint binnestap, is dit geheel en al op jou voorwaardes. Jy besluit wanneer – enige tyd is die regte tyd; jy besluit hoe jy dit wil aanwend, want daar is geen kredo waaraan jy gehoor hoef te gee nie. Die privaatheid van jou innerlike wese hoef nêrens gedeel te word nie. Dit is uitsluitlik ’n unieke en private ervaring.
Die labirint-simbole
Pad: Die enkelvoudige pad lê in elf konsentriese sirkels; die twaalfde is die sentrum van die labirint. Die pad simboliseer die Skepping en bied ’n gewyde ruimte vir transformasie en meditasie.
Sentrum: Die sentrum, ook genoem roset, word gevorm deur ses rooskroonblaarvorme wat die ses stadia van planetêre evolusie simboliseer, naamlik die mineraal-, plant-, diere-, menslike, engele- en Goddelike koninkryke.
Labir (draaipunte): Die labir, waarvan die woord labirint afgelei is, is die simbole wat by elke draaipunt sigbaar is. Saam vorm dit ’n kruis as die labirint van bo gedien word. Elke draai simboliseer krag en kreatiwiteit.
Lunasie (maansomloop): Die lunasie is die buitenste sirkel wat die vier gedeeltelike sirkels verbind wat aan die buitesirkel raak. Dit merk die labirint as vier kwarte wat elk ’n kwartaal in ’n jaar verteenwoordig.
Onsigbare 13-punt-ster: Dalk is die belangrikste deel van die labirint die onsigbare 13-punt-ster in die sentrum daarvan. Tydens die staptog in die labirint draai die stapper dertien keer in die rigting van die sentrum.
Sirkel: Die sirkel verteenwoordig heelheid en eenheid – dit is die sentrale argetipe wat die sielkundige Carl Jung “die self” noem. Ander noem dit die plek van rus en oorgawe.









