Skryf mense nog briewe met die hand?

  • 0

Onwillekeurig kom die vraag by my op teen die agtergrond van die omvangryke opkoms van die sosiale media en die internet: Skryf mense nog briewe?

Wie kan nog iemand anders se handskrif lees? moet die opvolgvraag (ongetwyfeld) wees.

Dié vrae slaan my tussen die oë terwyl ek voor ’n poskantoor staan. ’n Plakkaat kondig ’n briefskryfkompetisie vir kinders aan. Is dit ’n (desperate) poging van die Poskantoor om kinders aan die vervloë era van die pen en papier bloot te stel? Of is dit ’n hopelose oefenlopie om lewe in die (kwynende?) poswese in te skop?

Laasgenoemde vraag is relevant veral teen die agtergrond van wat die rekenmeester, skrywer en digter Clinton V du Plessis die ander dag op “gesigboekie” geskryf het: “Nog ’n mylpaal vir die poswese, 45 dae nadat ek twee eksemplare van Rangeer uit Cradock na Johannesburg gepos het, beland dit vanoggend in die geduldige koper se posbus.”

Navorsing toon mense skryf deesdae meer e-posse as handgeskrewe briewe. Of hulle “gesigboekie” of “twiet-twiet” sommer net. Met die versnellende samelewing is dit seker verstaanbaar dat mense nie meer tyd het vir ’n pen, ’n skryfblok en om ’n paar honderd woorde met die hand uit te kraam nie.

’n Ander skrywer erken teenoor my: “Ek herken amper nie eens meer my handskrif nie. Dit was ’n goeie, netjiese handskrif.

“Boonop moet ’n koevert gekoop word, lang afstande afgelê word poskantoor toe. In ’n ry staan om ’n seël te koop. Waar kom al die energie en tyd vandaan?”

Daar is egter nog bittereinders wat glo dat ’n brief (per slakkepos of per faks) gestuur moet word of ’n handgeskrewe nota ordentlik geskryf moet word.

Die karakter Simon in JM Coetzee se roman The Childhood of Jesus twyfel of hy in ’n vreemde land met ’n kortgeskrewe nota as motivering ’n werk gaan kry: “It’s nothing but a leaf torn from a notepad, on which is scribbled: ‘Bearer is a new arrival. Please consider him for employment.’ No official stamp, no signature. It all seems very informal.”

Met al die tegnologiese revolusies van die moderne era sal die skryf (met die hand) van briewe en notas (en bewaring daarvan) nog steeds vir ’n groot gedeelte van die mensdom sentimentele waarde dra. Net soos koerante, gaan briefskryf nie oornag verdwyn nie.

’n Brieweredakteur van ’n vooraanstaande Sondagkoerant vertel my hy ontvang nog steeds handgeskrewe briewe deur die pos of per faks. In mindere gevalle is dié briewe op ’n tikmasjien geskryf. Hy sê die briewe word gewoonlik met ’n oproep opgevolg en dan word die belangrikheid van die mening in die brief uitgewys.

Agting en dank aan Aldous Huxley wat reeds in 1950 die Engelse skrywer DH Lawrence se klassieke (handgeskrewe) Selected Letters in boekvorm saamgestel het. Nou is dit vir toekomstige geslagte wêreldwyd bewaar.

 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top