Skool: Die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel onder oë

  • 0

Skool
Theo Kemp
Uitgewer: Human & Rousseau
ISBN: 978062405305 7

Hierdie debuutroman van Theo Kemp handel oor ’n outobiografiese ek (by name Theo Kemp) wat ondersoek instel na die toestande in die Suid-Afrikaanse skole. Die hoofkarakter versamel knipsels oor skole, geweld in skole, probleme wat in skole voorkom, en berigte oor leerders en hulle lotgevalle, en gebruik dit dan as stof vir ’n boek. Sy ondersoeke lei hom na skole in die townships, na laerskole in minder gegoede buurte en na ’n deftige meisieskool. Hierdie speurtog van hom word aangevul met vertellings uit sy kinderjare, en sy ervaring as jong skoolseun word geplaas naas dié van leerders in die huidge Suid-Afrika.

Die verhouding tussen moeder en seun staan sentraal in die roman en vra om vergelyk te word met Etienne van Heerden se hantering van dieselfde tema in 30 Nagte in Amsterdam.

Kemp se roman sluit aan by ’n tradisie van New Journalism wat in die tagtigerjare veral gewild was in Afrikaans in byvoorbeeld die werk van André le Roux of Koos Prinsloo, maar die versameldrif laat mens ook dink aan die hoofkarakter in Louis Paul Boon se roman Menuet, wat getrou knipsels oor veral seksuele gruwels in die samelewing uitknip en versamel. Dit is ook nie toevallig dat die hoofkarakter na WG Sebald se Austerlitz op bl 85 van die roman verwys nie. Sebald se werk word deurgaans gekenmerk deur die insluiting van foto’s om die spel tussen feit en fiksie verder te kompliseer.

Soos die hoofkarakter se navorsing vorder, word hy al hoe meer ontnugter deur die Suid-Afrikaanse onderwysstelsel en kom hy tot die besef dat hy “van die een kakspul na die ander” ry (194) en niemand verantwoordelikheid vir die chaotiese toestand van die stelsel wil aanvaar nie. Miljarde word toegewys aan die onderwysdepartement, maar niemand weet hoe om die geld na behore te bestee nie en gevolglik stort alles in duie, nes die toiletvloer in die skool aan die Weskus waarna verwys word. Miskien moet iemand die amptenary ’n slag soos juffrou Els by wyse van spreke ’n blom laat pluk (158)!

Opvallend in die roman is die uitbeelding van die domastrante burokrate én die onderwysers wat óf vasgevang is in hulle verouderde sieninge rondom multikulturele onderrig óf heeltemal uit voeling is met die nuwe politieke bestel in die land.

Die kloof tussen ryk en arm speel ook deurgaans ’n belangrike rol in die roman: terwyl kinders in arm skole elke oggend 20 km moet stap na die naaste skool, kompeteer die ryk wit meisies met mekaar om te sien wie die minste kan eet en die maerste kan word.

Mary Douglas reken in Purity and Danger dat die liggaam kan instaan vir enige gebonde sisteem en die grense van hierdie sisteem kan enige grense wat bedreig word, simboliseer. Die anoreksiese liggaam van die skoolmeisie in Skool kan dus gelees word as die reaksie van die wit middelklas op die kompeterende, regstellende samelewing waarin hul sigself bevind. Die tikverslaafde liggaam van die jong laerskoolleerling Fernando, of die liggaam van die jong kind wat deur sy oupa gemolesteer word (25), lewer ook kritiek op die samelewing en die gebrek aan geborgenheid in die ouerhuis. Interessant is ook die geval van Adolf Muller, die hoofseun van die welvarende Hoërskool Groenkloof. (Terloops, wanneer gaan Adolf skool as hy so as ambassadeur vir die skool moet optree?) Bemarking van die skool speel ’n belangrike rol in Adolf se lewe en die woorde wat hy teenoor die navorser gebruik, klink amper soos iets uit ’n selfhelpgids – wat natuurlik skerp kritiek lewer op die bevoorregte skolier en sy opvoeding.

Om alles te kroon kry Theo ook nog ’n parkeerboete van R500 omdat hy op die verkeerde plek by die skool geparkeer het en lei dit net nog meer tog sy ontnugtering met die skoolstelsel.

Maar die spoggerige Groenkloof, met sy verskillende akademies, se illustrieuse skoolhoof word van geldverduistering aangekla en die sogenaamde Groenkloofbende is in 2010 tronk toe gestuur nadat hulle meisies onsedelik aangerand het en dit toe verfilm het. (Een van die interessantste stories rondom skoolkinders wat nog verhaalmatig verken moet word, is dié van die Waterkloof-Vier en die rede vir hulle optrede.)

Die vraag wat aan die einde gevra word, is: Moet ons nog ons eie Columbine-skietery in (wit) skole hê voordat daar daadwerklik opgetree gaan word teen die probleme in die skoolstelsel? Of wat ’n kind soos Martin Henning motiveer om met ’n samoeraiswaard by die skool op te daag en iemand te onthoof? Terwyl ek hierdie roman lees en hieroor skryf, stort die skoolbusse by afgronde af, en die wrede realiteit word goed weerspieël in die woorde van mister Wellman in die roman: “[D]it val nie binne my portefeulje nie, mister Kemp” (185) – en daarmee is die saak afgehandel.

By die lees van hierdie roman word die leser opnuut bewus gemaak van die chaos in die Suid-Afrikaanse skole en verklaar dit hoekom die leerders wat dan op universiteit opdaag, so ’n geweldige agterstand het. Die skool wat as basis moet dien vir verdere opleiding, word ’n plek waar meisies seksueel misbruik word, blinde kinders dronk gemaak word, die onderwysers nie traak om klas te gee nie, en ’n sjebienbaas ekstra klasse moet aanbied sodat die leerders darem matriek kan slaag.

En by die ouerhuise gaan dit nie veel beter nie.

Soos met alle skryfwerk oor probleme bied hierdie roman ook geen uitsluitsel of oplossing nie, maar juis daarom is die slotmetafoor van die roman soveel meer pakkend: “Om die beeld uit my kop te kry van die swart sak wat soos ’n kind se lyk langs die pad lê (231).”

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top