Hier op LitNet verskyn daar selde artikels of rubrieke oor sport. Trouens, dis nie alledaags om LitNet en sport aan mekaar te koppel nie. "Vir vanmiddag se Super 15- finaal is dit die Vodacom Bulls teen die LitNet Stormers ...” klink effe uit pas.
Nuwe kreatiewe skryfwerk is egter natuurlik ’n uiters prominente en gewilde element van LitNet. LitNet PoësieNet is byvoorbeeld ’n instelling vir die tandslypendes, die tongslependes, die middelmatigheid-minagtendes en die meesters van metrum om hul taalstaal te wys.
O, maar op hierdie onwaarskynlike kontinuum kyk die onderskeie verskynsels mekaar van ’n afstand af uit en soms, net soms, val sport en digkuns mekaar se ledemate binne en pleeg onvergeetlike, suiwer, sinergistiese seks.
Want wat is dit dié as dit nie suiwer, ongebreidelde kuns van poëtiese proporsies is nie?
Dalk sou onse Eugène Marais se voortbrengsels moontlik anders gelyk het ná die aanskou hiervan?
O, die dans van ons Senter!
Eers deur die gaping boer hy skelm,
en hy swenk onbeskaam;
en hy druk wraggies ...
Hierdie glorieryke oorwinning in die Curriebeker-eindstryd (WP se eerste in 11 jaar) sou egter nie moontlik gewees het sonder ’n jong maar gedugte metafoorry nie ...

Om nie te vergeet van daardie kragtige omarmde rympoging in die sterwende sekondes van die halfeindstryd
nie ...
En ’n bietjie Alli(s)terasie ...

In 1997, op min of meer 13-jarige ouderdom, het ek verlief geraak op beide rugby en die geskape woord. Dit was die tyd van uiteindelik aanbeweeg na groter dinge ná ek onder meer Hester Heese se Miekel die koerantjoggie al minstens tien keer gelees het, wat nog te sê van die Trompie-reekse, die avonture van onderskeidelik Asterix en Tintin (die waarheid is dat laasgenoemde twee steeds onder my gunsteling-leesstof val). Dit was ook die jaar waarin die WP die Curriebeker gewen het, met agterlyngenieë soos Justin Swart, Pieter Rossouw en Dick Muir aan die spits. Later daardie jaar het Nick Mallett se era as Springbokafrigter begin en het ons manne op die jaareinde-toer moontlik die aanskoulikste rugby in Springbokgeskiedenis gespeel. Rossouw het vier drieë teen Frankryk gedruk en ’n jong Percy Montgomery, vir die eerste maal as heelagter ingespan (hy het senter gespeel onder Carel du Plessis by die Springbokke en onder Harry Viljoen by die WP), het die Skotte desperaat na lug laat gryp.
Rugby en woordkuns het dus gelyk verskyn in ’n belangrike fase van my ontwikkelingsjare. Nie dat ek ooit besonder goed sou word in enige van die twee nie – pogings om dames te noop tot swymelary met my bedenklike rymelary was nog nooit suksesvol nie, en op hoërskool was ek maar kaptein van die sesde span. Rugbyspan, nie digkunsspan nie.
Maar wat van iemand soos Breyten, as hy ’n soortgelyke gelyktydige inspirasie beleef het?
Allerliefste, ek stuur vir jou ’n rooiborsDave ...
En Ingrid Jonker ... Bitterbeastie Britbreek?
Koos Doep sou moontlik eerder oor die Gerbergier sing ...
OK, jammer, hierdie rugbywoordspelings word nou bietjie Fafgesaag ...
... ’n mens maak immers nie lig van grootse gedigte soos "Doemanie" van Adam Small nie.
Ai, ek is jammer. Hierdie eksperiment het nie Naastenby so goed gewerk soos ek gehoop het nie. Jeanne Goosen se "Die dag op Nuweland" is immers lankal in Groot verseboek opgeneem, so hierdie hele argument oor gevleuelde woorde was eintlik onnodig.
Ek maak nou klaar. Hier is die slot.



Kommentaar
So van die os op die jas - Hierdie "GANGNAM" woord wat nou op almal se lippe is, neem my terug na my kinderdae toe ons 'n rympie opgesê het, wat min of meer soos volg was: