Nou waar is julle Vrysta-a-a-ters vanoggend? Julle was maar yl gesaai Saterdag!
Die opwinding was groot, die verwagting nog groter, die trane die grootste. So begin die eerste spel in die nuwe reeks met ‘n afskop tussen die Bulle en die Cheetahs. Die eindtelling 10-32 in die Bulle se guns.
Naka Drotské, die Cheetahs-breier, het agterna gesê: “Man, ek was nogal verras toe die Bulle die wedstryd na links afskop, want hulle skop nou al vir 12 jaar af na regs.” (Die foto’s wat volg is met ‘n selfoon afgeneem en vra ek verskoning vir die kwaliteit.)

Hierbo vang een van die Bulle die bal raak, en is die blondekop seuntjie trots Bulletjie. Die spel was rof, vernaam as mens dink dat sekere plekke op die veld nie gras was, maar met sand/grond opgevul is. Eina skuurpapier!
Die Bulle het vier drieë gedruk. Doeltreffend gespeel en kan hul trots wees op hulself. Morné Steyn het met sy na-die-palle-skoppe sy kant gebring en Francois Hougaard het aanmekaar gedryf.
Die “Mascot” hier onder probeer die kinders tussendeur vermaak en vat die skrums dinge behoorlik vas!

Natuurlik het die poppies ook húlle lyfies geswaai, en was dit moeilik vir die manne om te besluit of hul rugby wil kyk, of eerder die swaaiende bulte wil geniet. Sommige het gewys dat met ‘n bier agter die blad, kan die boude net so goed swaai– ongeag die ouderdom.

Na die derde drie, met geen telling aan die Cheetahs se kant, het hierdie Cheetah met die hoed, sy kop heen en weer geskud en gewens hy het liewer sy geld spandeer op iets beters as om die lang pad te gevat het Polokwane toe. Die Bulle se lynstane was doelgerig en bevredigend.

Hoog bo ons koppe, met ‘n hemel in skakerings van blou, het die polisie waaksaam hulle kant met ‘n helikopter gebring. Maatreëls was baie streng. Ons, wat glad nie drink, en net elkeen ‘n plastiek botteltjie koeldrank wou invat, moes selfs dít afstaan by die ingangshekke.

Marco Botha van die Beeld het die volgende geskryf: “Die Bulle smoor ‘n span. Hulle skop jou in die hoeke in. Drotské het ernstig geantwoord: “Ek dink beslis hulle het ‘n kans om die reeks weer te wen. Maar ek het nie iets anders in hul wedstrydplan gesien nie.”
En net so – toe is alles verby! Mense het opgespring en afgestroom na die rugbyveld om net ‘n handtekening te probeer kry. Of om die blink van sweet aan ‘n gespierde lyf te kon sien en ruik.

Buite het die son rooi gesak, die stil koue voertuie gewag op hul eienaars wat soos miere uit die hekke krioel. Dit was tyd om huis toe te gaan. ‘n Sappige Bloubulsteak op die vuur te skroei, en die soet smaak van oorwinning te proe.
Trienie


Kommentaar
Tog het die Vrystaat glo 2 mooi drietjies gedruk ... dis nog vroeg ... die Vrystaat gaan uitsteek ...
Mmmm ... Francois,
Ek weet nou nie van die Vrystaat of hul wel gaan "uitsteek" nie, maar ja, die kollekatspan het hul bes gedoen en lekker gespeel.
Ek is bly daar is darem iemand wat vir die Vrystaat opkom!
Trienie