Selfbeveiliging: Vind ’n woord by die daad

  • 0

Die probleem met wapenbeheer is nogal soos ’n probleem wat sommige mense het met koekbak. Dit is – as jy ’n koek eers gebak het, kan jy dit nie “ontbak” nie. Die mensdom het vuurwapens uitgedink en gaan waarskynlik nie nou terugkeer na die slingervel toe nie. Tog bly die slingervel relevant. Was daar nie gewere nie, het ons steeds maniere gehad om mekaar te dreig, seer- en dood te maak. So eintlik lyk dit vir my asof ons eerder geweld teenstaan as bloot vuurwapens. Ek is beslis nie ’n kenner van wapens nie – dus deel ek liewer ’n paar stories uit my eie lewe sodat ek uit ervaring kan praat.

Verlede jaar is ek vir die eerste keer gekonfronteer met die kwessie van vuurwapenbesit. Na my oupa se dood het hy ’n pistool nagelaat en ek kon dié vuurwapen kry sou ek wou. Die idee dat ek so ’n dodelike ding kan besit het my dadelik ongemaklik gemaak. Ek dink dit sê iets van die mag van wapens in ons samelewing. Al word dit net genoem kan dit jou op jou hoede bring. Ek ken iemand wat die fout gemaak het om die woord “bom” grappenderwys by die lughawe te gebruik. Hy't sy vlug verbeur en ’n paar uur agter tralies deurgebring.

In sy boek The Tipping Point wys Malcolm Gladwell daarop dat mense rook, nie eenvoudig omdat dit verslawend is nie, maar eerder omdat dit ’n manier is om jouself uit te druk. Rook is nie net ’n daad nie – dit is ’n woord in ons taal – dit sê iets oor jou (gewoonlik iets in die lyn van rokers is interessante mense, want hulle moes waarskynlik bietjie teen die grein beweeg om te begin). Ek vermoed dat dieselfde geld vir gewere en die dade wat daarmee gepleeg word. Iets word gekommunikeer en ons moet luister wat dit is om ’n sinvolle gesprek daaroor te hê.

My ander ervaring met wapens was toe ek en ’n vriendin ’n ruk terug in ’n parkie beroof is. Dit bring my terug na die slingervel-kwessie. Die rowers het nie vuurwapens gehad of nodig gehad nie. ’n Gebreekte bottel het ons maklik genoeg oortuig om ’n foon, juwele en geld te oorhandig. Ek weet daar is mense wat sal sê as ek ’n vuurwapen gehad het sou ek in ’n beter posisie wees om met die ouens te “onderhandel”. Buiten die statistieke wat teen daardie argument tel dink ek mens mis maklik hier ’n belangrike punt. Ek kon die voorval waarskynlik vrygespring het deur meer aandag te gee aan die ondergaande son en hoe afgesonder ons is van die res van die parkie. Met ander woorde – as ons meer in voeling was met die mense om ons kon ons maklik veilig huis toe gegaan het.

Dadelik herinner dit my aan voorvalle soos Columbine, 2011 se Noorweegse aanvalle, Aurora, Sandy Hook en die selfs meer onlangse skietvoorval in Amerika se Orange County. Hier kan mens redeneer dat geweld maklik in die publiek ook plaasvind sonder enige afsondering. Die Oscar Pistorius kwessie is juis een rakende ’n publieke figuur, binne-in ’n sekuriteitskompleks. Op soveel maniere “tussen” mense. Tog sien ek by al hierdie gevalle individue wat op die oog af sonder enige verklaring op hulle eie optree. Oor die feit dat hierdie soort ding veral gereeld in Amerika gebeur kan ek op dié stadium net spekuleer. 

As ek wel my leke-opinie kan waag rakende wapenbeheer: Ek dink ons moet luister na wat gesê word wanneer wapens gebruik word, en ek sal nie verbaas wees as woorde soos “afsondering” en “vervreemding” saam met ander woorde soos “gemeenskap” en “medemens” gehoor word nie.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

Keer terug na die indeksblad van die webseminaar om nog bydraes te lees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top