Sailor Malan: Vergete vryheidsvegter vir demokrasie?

  • 11

Op 17 September is daar ? plegtigheid op die plaas Benfontein, 8 kilometers buite Kimberley, gehou om die dood van een van Suid-Afrika se grootste seuns, Adolf Gysbert (Sailor) Malan, vyftig jaar gelede te herdenk.

Op hierdie dag in 1963 het een van die beroemdste vegvlieëniers in die geskiedenis van die Britse Koninklike Lugmag (RAF) sy laaste geveg teen Parkinsonsiekte verloor en is hy op die relatief jeugdige ouderdom van twee en vyftig jaar vanuit die St Cyprians Katedraal in sy geliefde Kimberley ter ruste gelê.

Sailor Malan se lewe was een wat uit verskillende stadia en rolvertolkings bestaan het. As argetipiese kaalvoet plaasseun in die Wellington-distrik, het hy op die ouderdom van tien jaar alreeds geleer hoe om perd te ry, sy pa se motor op die plaas te bestuur en die kuns om ? voël in vlug met ? haelgeweer neer te skiet. Hierdie vermoëns sou vir hom van groot nut wees waar hy as vegvlieënier van die Spitfire 74 Squadron gedurende die "Battle of Britain" op koel en berekende manier die jagter van vyandelike Duitse vliegtuie geword het. Saam met sy groot vriend Johnny Johnson sou hulle die grootste aantal Duitse vliegtuie neerskiet, met sy persoonlike totaal op ? berekende 34 en heel waarskynlik meer waarvan daar nie rekenskap gegee kon word nie. Gedurende die oorlogjare, en veral gedurende 1941, sou die briljante individualiteit en leierskap van Sailor Malan in die anale van die Britse lugmag verewig word en is hy saam Johnson bestempel as die twee voorste vegvlieëniers van die Tweede Wêreldoorlog.

Reeds op die jeugdige ouderdom van veertien het Adolph Gysbert Malan die skoolbanke verruil vir opleiding aan die maritieme kollege aan boord van die Generaal Botha, waar die standaarde van fisiese opleiding vandag se Weermagopleiding soos ? teepartytjie sou laat lyk het. Sy paar jaar in die vloot was dan ook die rede vir die bynaam “Sailor”, waaronder hy later beroemd sou word.

Sailor Malan se deelname aan die Tweede Wêreldoorlog aan Britse kant was in die eerste plek en primêr vanuit ? morele standpunt. Die beskerming van die demokrasie en menseregte teen die fascisme van die Nazi's en hul bondgenote was eerste prioriteit. Die bloedige stryd teen ? ? massale lugaanslag deur die Duitsers sou teen die begin van die veertigerjare van die oorlog letterlik aan die buitewyke van Londen woed en gevoer word met ? dodelike passie wat eie aan Sailor Malan was en wat hom as oorlogsheld sou verewig – “the King’s favourite Afrikaaner”!

Teen 1940 was mannekrag in die RAF van kritiese belang en is die stuurkajuite van die Spitfires en ander vegvliegtuie vir "anders gekleurdes" uit lande in die Britse Ryk, soos die Karibiese Eilande, Nigerië, Goudkus, Sierra Leone en die Maleisiese Skiereiland oopgestel. Hierdie “rassegelykheid” was vir Sailor Malan ? natuurlike deel van sy morele en liberale uitkyk op menswaardigheid en ? groot aansporing vir deelname aan die oorlog en in later jare aan die stryd teen politieke ongeregtigheid teenoor sy gekleurde landgenote in Suid-Afrika. Vir hom was kamerade soos vlugsersant James Hyde van Trinidad en vliegoffisier Mahinder Singh Puji van Indië (wat daarop aangedring het om sy Hurricane met sy Sikh-turban aan te vlieg) gelyke medestryders wat hulle posisies op grond van bekwaamheid verkry het en nie as gevolg van hulle velkleur nie – of dan van sodanige posisies weerhou is nie.

Gedurende sy verblyf in Londen ná die oorlog sou Sailor Malan deur middel van HN Abrahams, hoof van Diamond Trading Company wat De Beers se diamantverkope in Londen hanteer het, goed bevriend raak met sir Ernest Oppenheimer en sy seun, Harry. Met sy terugkeer na Suid-Afrika in 1946 word hy ? pos aangebied by Anglo-American in Johannesburg. Saam met sir Ernest, wat die Kimberley setel tussen 1924 tot 1938 vir die SAP en later die VP gehou het, en sy seun Harry, het hulle gesamentlik ? visie vir al die mense van Suid-Afrika gedeel – ? visie waarvoor hulle bereid was om gedurende die Tweede Wêreldoorlog hulle lewens op te offer. (Harry het as kaptein in die 4de Pantserkar Regiment in Noord-Afrika gedien.)

Met die oorname van die NP regering deur DF Malan in 1948 het die donker wolke van Afrikaner-nasionalisme se rassistiese beleid oor die land toegesak wat daarna oor ? tydperk van vyftig jaar Suid-Afrika tot skandvlek van die internasionale gemeenskap sou degradeer. Reeds in 1951 sou ? wet deur die NP-regering voorgestel word wat Kleurlinge van die gemeenskaplike kieserslys sou verwyder en wat eers na vyf jaar in 1965 sou realiseer nadat Malan se NP regering met immorele en skandelike metodes die grondwet in dié verband verkrag het.

In 1951 sou die Springbok Legioen saam met die Aksiekomitee vir Oorlogsveterane die sogenaamde Torch Commando stig om die regering se duistere planne met die Kleurling-stemreg te beveg. As stigterlid saam met latere politici soos Harry Schwartz en Louis Kane-Berman sou Sailor hart en siel betrokke raak in ? beweging wat vir hom bo politiek verhewe was en ? stryd wat om beginsels gegaan het – iets wat vir hom al sy lewe van die grootste belang was en waarvoor hy sy lewe op die spel geplaas het. Toe die Liberale Party hom vir politieke doeleindes wou kaap het hy hulle op geen onduidelike wyse daarop gewys dat die stryd vir hom bo politiek verhewe was. Terwyl Sailor Malan geen probleem gehad het met die eventuele nie-blanke beheer oor die land wanneer dit onvermydelik blyk sou wees, was ekonomiese evolusie vir hom van groter belang. Vir hom was die klem op die bestryding van armoede en gebrek aan lewensmiddele en behuising onder die swart bevolking van baie groter belang as die politiek, waar daar met bedenklike metodes probeer is om beheer te kry en te behou.

Vir meer as vyf jaar het Sailor Malan en die Torch Commando teen die regering se rassewetgewing geveg en het die ledetal op die hoogtepunt van die beweging se bestaan op 250 000 gestaan. DF Malan se regering was uiters bekommerd oor die invloed van dié beweging en die uiters gewilde beeld en leierskap van die oorlogsheld, Sailor Malan, en het uit die aard van die saak probeer om met smerige propaganda die beweging en sy leiers te diskrediteer. Eers sou Sailor Malan as persoon tot en met sy dood, en ook daarna, deur die regering sowel as die Suid-Afrikaanse Lugmag geïgnoreer word. In die Nasionale Party-pers sou hy gekarikaturiseer word as ? vlieënde poedel, kompleet met leer- en vliegbril toerusting in diens van Jan Smuts en die Joodse mynbase na wie as die “Hochenheimers” verwys is.

Desondanks het Sailor dieselfde veggees, waarmee hy met soveel innerlike en morele oortuiging gedurende die Battle of Britain fascisme en rassisme beveg het, getoon en het dit hom ook in sy vaderland voortgedryf om hom te verset teen die skending van menseregte. Sy ideaal van ? regverdige demokrasie en ? beter lewe vir almal in sy vaderland het hom nie alleen voortgedryf nie, maar hom ook vervreem en geïsoleer van mede blanke nasionale Afrikaner landgenote wat verblind was deur ? kortsigtige en fatale beleid van rassediskriminasie. In ? toespraak in 1954 in Johannesburg het hy beklemtoon dat “die mans en vrouens wat vir vryheid geveg het steeds dit koester waarvoor hulle geveg het. Ons is vasbeslote dat die vrugte van daardie oorwinning ons nie ontneem sal word nie”.

In die sewentien jaar sedert sy terugkeer vanuit Brittanje in 1946 tot en met sy dood in 1963 sou die kloof tussen hom en ? rasbehepte nasionalisties regering wyer word en sou hy gesien word as ? verraaier en buitestaander van ? ander soort. Vanweë sy integriteit en morele oortuiging sou hy teen die einde van sy lewe ook sy rug draai op ? stelsel van onreg en verdrukking in die land waarvoor hy lief was. Maar anders as vegvlieënier in sy Spitfire gedurende sy heldhaftige stryd in die lug bo Londen, sou dit hierdie keer ? verlore een wees waar individuele briljantheid nie goed genoeg was nie.

Die bekende Duitse filosoof Arthur Schöpenhauer het op ? slag opgemerk dat elke groot idee deur drie fases gaan: Aan die begin word dit bespot, daarna word dit gewelddadig beveg en laastens word dit as ? feit aanvaar. Dit was die fases waardeur Sailor Malan en sy stryd teen die ongeregtigheid teenoor die demokratiese regte van sy mede gekleurde landgenote in Suid-Afrika ook sou gaan. Sy aandeel in die suksesvolle bereiking van ? regverdige demokratiese samelewing in Suid-Afrika sal egter in die annale langs die van menige ander vryheidsvegters opgeteken staan en is moeilik om te oorskat. Dit mag en sal nie in vergetelheid verval nie.

Die Spitfire Heritage Trust, saam met die Imperial War Museum, beoog om gedurende die 75-jarige herdenking van die Battle of Britain ook gepaste hulde te bring aan hierdie briljante Suid-Afrikaner. ? Gedenkbyeenkoms sal ook in Kimberley ter ere van hom gehou word. Daar word verder beoog om ? Sailor Malan Trust Fonds ten behoewe van plaaskinders in die Wellington-omgewing wat aan Fetale Alkohol Sindroom ly, in die lewe te roep. Belangstellendes wat meer besonderhede wil bekom kan gerus met die skrywer in verbinding tree by dewitchris6@gmail.com.

  • 11

Kommentaar

  • Chris

     

    Ek neem kennis van jou oortuigings en lofsange tov Sailor Malan. Hy het wel met die witbrood (lees Oppenheimer) onder die arm baklei teen die "skandvlek" van SA toe die meeste blankes nog besig was om homself op te hef. Hy is ook grotendeels deur die Afrikaner veroordeel agv sy bondgenootskap met die Engelse (massamoordenaars van vroue en kinders), wat op hierdie kontinent vir baie meer "skandvlekke" verantwoordelik was as wat die Afrikaner ooit kan wees. Ek was ook totaal onbewus van die Oppenheimers se "visie" vir als die mense in Suid-Afrika. Dankie daarvoor.

     

    'n Besondere vegvlienier was hy gewis! Hoop ons kan weer eendag 'n hoofstraat na hom vernoem.

     

    Groete

  • Pieter Redelinghuys

    Beste Chris,

    Baie dankie vir hierdie interessante bydrae oor 'n vergete held. Die tragedie van die saak in die konteks van daardie tyd was dat twee ideologiese strome binne die Suid-Afrikaanse samelewing gebots het, nl. dié van Afrikaner nasionalisme aan die een kant,  en aan die ander kant diens aan die Britse Imperium tydens die Tweede Wëreld Oorlog.

     

    Die feit dat sailor Malan vir "die Britte" gaan veg het, was genoeg vir die Nasionaliste om sy integriteit te bevraagteken, aangesien hulle simpatie aan die kant van die Duitsers was. En die persepsie van Smuts was dat hy die internasionale geldbase, tipeer as "Hoggenheimers", voorkeer gegee het oor sy eie volk.

     

    Die werklike slagoffer hier was die uitbreiding van demokrasie en menseregte in Suid-Afrika.

     

    Beste groete,

     

    Pieter Redelinghuys

  • Pieter Redelinghuys

    Beste Chris,

     

    Graag sal ek die volgende wil byvoeg tot my aanvanklike skrywe. Sailor Malan was beslis 'n visionêr vir demokratiese regte vir ons "gekleurde medeburgers" en daarvoor verdien hy my volle respek.

     

    Die storie in die konteks van daardie tyd is nie so eenvoudig nie. Die aantygings oor die internasionale geldmag (Hoggenheimers) kan nie sommer afgemaak word nie, en is geldig nog vandag in die vorm van Wall Street en die  banke van JP Morgan, Goldman Sachs, edm.

     

    Die bank van Rothschild het ook die Boere/Vryheidsoorlog gefinanseer.

     

    Terwyl die Oppenheimers soos miljoenêrs gelewe het, het derduisende swart mynwerkers onder die mees  haaglikse omstandige op die myne geleef. 'n Werklike skandvlek op internasionale kapitalisme en uitbuiting.

     

    Hier is genoeg stoffasie vir 'n breër gesprek.

     

    Beste groete,

     

    Pieter Redelinghuys

  • Chris,

    Jou siening van die Afrikaner se wroegingsjare om 'n staanplek in hierdie land vir sy nageslag te verseker, is ietwat misplaas en komieklik. Jy probeer 'n oorlogsheld bo verdienste ophemel om steun vir jou "heritage trust" en "war museum" te werf. Jy vis nou op droë grond ou vriend.

     

    As jy korrek is dat die "held" Sailor Malan so 'n kampvegter vir die regte van die mense van kleur sou wees, dan moet jy die teenpool ook ophelder. Watse sinvolle bydrae het hy gemaak tot sy eie mense se opheffingstryd? Was hy deel van 'n lewe en dood stryd om vir hul nageslag beskaafde standaarde in die land te vestig en te handhaaf? Waar sou ons vandag gestaan het as sy resep gevolg is?

    Ek weet nie van jou herkoms nie, maar my voorouers van daardie tyd was nie anti-kleur nie, maar wou verhoed dat hulle op die Afrika-pad opgeslurp word, soos verder noord in hierdie vasteland die gebruik was en steeds is.

    Groetnis,
    Koos

     

     

     

  • Hallo Pieter.

    Dankie vir jou kommentaar.  Ek lees nou ook die boek van Hannes Haasbroek  'n Seun soos Bram oor Bram Fischer.  En soos in die geval van Sailor Malan, Jan Smuts, Bram Fischer, Breyten, Beyers Naude en vele ander groot Afrikaners wat deur mede-Afrikaners in hulle stiksienige en kortsigtige nasionalistiese beheptheid verag, vervolg en in die tronk gegooi is, net omdat hulle van hulle rassebeleid verskil het, besef mens maar net weer hoe die sondes van die vadere op die nageslag neerkom.  En soos jy tereg opmerk, die slagoffer was demokrasie en menseregte in SA......en ons kinders en kleinkinders.

    Groetnis.
    Chris

  • Chris

     

    Waarvoor Malan "geveg" het, het mos in 1994 gestalte gekry. My vraag aan jou nou is: Wat van ons kinders en kleinkinders?

     

     Hoop nie jy poog vir persoonlike gewin deur jou lofsange nie, net nou doop ons jou ook dalk 'n "Hoggenheimer"

     

    Groete

  • CorneliusHenn

    Chris,  

     

    Jou stelling: Met die oorname van die NP regering deur DF Malan in 1948 het die donker wolke van Afrikaner-nasionalisme se rassistiese beleid oor die land toegesak wat daarna oor ? tydperk van vyftig jaar Suid-Afrika tot skandvlek van die internasionale gemeenskap sou degradeer.  

     

    ... moes lees: : Met die oorname van die NP regering deur DF Malan in 1948 het die donker wolke van Afrikaner-nasionalisme se slaafse voortsetting van die Britse empire se rassistiese beleid en doelstellings, oor die land toegesak wat daarna oor ? tydperk van vyftig jaar Suid-Afrika tot skandvlek van die internasionale gemeenskap sou degradeer.  

     

    Ja, net Doktor Verwoerd het die moed gehad om 'n stok in die wiel van Anglo en Amerika te probeer steek ...

     

    Waarom misken jy die oorsprong van Apartheid, wat gekom het die dag toe die Ingelse voet aan wal in die Kaap gesit het?  

     

    Wie was in 1913 aan bewind toe die eerste wette in die Unie van Suid Afrika, op boek geplaas is wat "non-Europeans" onteien het?  

     

    Cornelius Henn

     

  • Pieter Redelinghuys

    Beste Chris,

     

    Baie dankie vir jou terugvoer, en ek onderskryf jou sentimente oor die persone wie jy noem: Jan Smuts, Bram Fischer, Breyten Breytenbach, Beyers Naude, ens. Die groot tragedie van die Afrikaner-nasie was dat hy nooit 'n land van sy eie had waar sy volk in rus en vrede kon leef nie. Die Imperiale Magte het hom ook nooit in vrede gelaat nadat goud en diamante ontdek is nie. Sy lot was om in 'n Afrika-kolonie as bywoner- nasie te woon, en hy het nie eers die rykdom van daardie land self besit nie, waar die gewinste in die sakke van internasionale banke en beleggers beland het.  

     

    Beste groete,

     

    Pieter Redelinghuys 

  • Al wat ek van die saak weet, is wat 'n kollega  se pa een aand om die braaivleisvure vertel het. Toe hy student was aan die PU vir ChO het die blikfakkels, soos die Torch Commando genoem is, hier in die vyftigerjare 'n vergadering in Potch se stadsaal gereël. Die studente het vroegtydig die saal beset, en toe die spreker nog dink hy spreek 'n stampvol saal ondersteuners toe, toe word hy uitgejou. 'n Fris klompie studente maak toe skoon en dra Willem de Klerk skouerhoog op die verhoog, wat toe die vergadering voortgesit het.

     
    Groete,
    Angus
  • Pieter Redelinghuys

    Beste Chris,

     

    Hierdie skrywe van jou het 'n hele blik wurms, en ou wonde, oopgemaak wat blykbaar nooit genees sal word nie, as ek so die kommentare en terugvoer hier lees. Ek wonder net waarom Sailor Malan so gretig was om vir 'n Imperiale Mag te gaan veg wat sy eie volk op die knieë gebring het, en só gekoopteer kon word deur die Hoggenheimers. Dit laat my nou dink aan die wêreldkampioen bokser Muhammad Ali wat geweier het om vir die Amerikaners te gaan veg teen die Vietnamese in  hulle anti-koloniale stryd. Hy het tot die VSA se woede en ergenis eenvoudig gevra:

     

    Waarom sal ek na die anderkant van die aarbol gaan om onskuldige mense dood te maak wat geen kwaad ooit aan my gedoen het nie?

     

    Waarom het Sailor Malan sesduisend myl getrek om vir 'n Imperiale Mag te gaan veg teen Duitsers  wat niks kwaad aan hom gedoen het nie? Hierdie mense was seker nie almal bose Nazis nie maar gewone soldate met vrouens en kinders.

     

    Die ironie van die Tweede Wêreld Oorlog was dat toe die geallieerde magte begin agterkom wat Stalin se planne vir Europa sou wees aan die eiende van die oorlog, het hulle baie vinnig begin pêls raak met Duitsland.

     

    Nietemin, Sailor Malan was 'n groot held in die Britse Koninklike Lugmag ( RAF) en sal hopelik voorleef in hulle

    in hulle annale. 

     

    Beste groete,

     

    Pieter Redelinghuys

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top