Agtergrond
Die besluit deur die Nasionale Vervolgingsgesag (NVG) om 270 mynwerkers van Lonmin se Marikana-myn aan te kla van moord op hulle medeprotesgangers wat deur die polisie gedood is, het hewige debat ontlok. (Die aanklagte is sedertdien laat vaar.) Die inhoud van die meeste kommentare is om verstaanbare redes emosiebelaai, maar gaan ongelukkig erg mank aan ’n strafregwetenskaplike ontleding van wat die regsposisie in so ’n geval dan sou wees.
Die NVA het hul beroep op die bekende leerstuk van gemeenskaplike doel (“common purpose”). Dit het sommige kommentators toe, om watter rede ook al, dadelik laat teruggryp na die verlede en sommer ook “gemeenskaplike doel” as ’n apartheidsleerstuk gekritiseer.
Om die leerstuk as sodanig egter onder skoot te bring sonder die nodige begrip van die oorsprong en watter pad dit al oor baie jare deur ons howe geloop het, dra niks by tot ’n sinvolle debat nie. Om by die gevolgtrekking uit te kom dat die probleem nie by die leerstuk lê nie, maar by die verkeerde toepassing daarvan, is dit nodig om met ’n strafregbril te kyk na waar dit vandaan kom, wat dit eintlik behels en hoe dit deur ons howe toegepas word, of toegepas behoort te word.
Oorsprong van die “gemeenskaplike doel”-leerstuk
Die Suid-Afrikaanse substantiewe strafreg, soos dit tans daar uitsien, het grotendeels ontwikkel vanuit die Romeinse en later die Romeins-Hollandse reg. Deur die eeue heen is dit ook beïnvloed deur ander regstelsels, waaronder die Engelse reg. Die “gemeenskaplike doel”-leerstuk was egter aan die Romeinse en Romeins-Hollandse reg onbekend. Dit het waarskynlik sy oorsprong gehad in die 160 jaar oue hofsaak in Engeland (R v Swindall and Osborne (1846) 2 Car & K) en het 40 jaar later in Suid-Afrika beslag gekry via die Native Territories’ Penal Code, in die Kaapkolonie geproklameer deur Wet 24 van 1886. (Sien in dié verband die bespreking van Rabie: “The doctrine of common purpose in Criminal Law” 1971 SALJ 229). Burchell wys in sy omvangryke werk Principles of Criminal Law (2005:575) op sake waar daar in 1920 en 1922 van die leerstuk gebruik gemaak is.
Die leerstuk is nie net eie aan Engeland en Suid-Afrika nie, maar vind met enkele klemverskille ook toepassing in ander Anglo-Amerikaanse regstelsels, soos in Skotland, Kanada, Australië en die VSA.
Elementologie as basis van ons strafreg
Die hantering van die strafreg by wyse van elemente, of algemene beginsels, word reeds in die vroeë jare van regsopleiding by studente ingedril. Die belangrikheid van die korrekte hantering van die handeling, kousaliteit, wederregtelikheid, toerekeningsvatbaarheid en skuld (opset of nalatigheid) -vereistes word op ’n verskeidenheid maniere beklemtoon. Met verwysing na tientalle voorbeelde vanuit regspraak word byvoorbeeld daarop gewys dat ’n gebrek aan ’n regswetenskaplike onderskeid tussen die verskillende beginsels tot groot verwarring en onsekerheid aanleiding mag gee. Onkunde oor die aard van die “gemeenskaplike doel”-leerstuk, sowel as ’n verkeerde toepassing daarvan, mag tot gevolg hê dat die leerstuk as sodanig onregverdiglik kritiek ontlok en die blaam dra vir gevolge wat nooit moes ingetree het nie.
Die gebeure by Marikana noop ons om opnuut die leerstuk van nader te beskou, ten einde te bepaal of daar nog plek vir sodanige reël in ons strafreg bestaan. Vele kritiek is oor die jare deur howe en kommentators jeens die leerstuk uitgespreek, en al het die grondwetlike hof reeds in 2003 die leerstuk herbevestig (Thebus 2003 (6) SA 505 (KH)), het dit nie daar opgehou nie.
Die aard en omvang van die “gemeenskaplike doel”-leerstuk
Snyman (Strafreg, 2006:263-4) hou voor dat “die kern van hierdie leerstuk is dat indien twee of meer mense ’n gemeenskaplike oogmerk het om ’n misdaad te pleeg en gesamentlik optree ter uitvoering van hierdie oogmerk, die handeling van elkeen van hulle ter uitvoering van die gemeenskaplike oogmerk die ander toegereken word”. Ondersteuning vir die verduideliking is te vinde in Shaik 1983 4 SA 57 (A) 65A; Safatsa 1988 1 SA 868 (A) 894; Mgedezi 1989 1 SA 687 (A) en in die Thebus-saak (hier bo vermeld).
Die klem word hier op “gesamentlike optrede” geplaas en dat dit elkeen se “handeling” is wat die ander toegereken word. Gemeenskaplike doel moet dus nie verwar word met die opsetsvraag nie. Snyman stel dit onomwonde as hy beklemtoon dat dit net die handeling van beskuldigde 1 is wat beskuldigde 2 toegereken word, en nie ook beskuldigde 1 se skuld (opset) nie. Beskuldigde 2 se aanspreeklikheid is gegrond op sy eie skuld (Strafreg, bl 264).
Drie verskyningsvorme van “gemeenskaplike doel”
“Gemeenskaplike doel” in sy eerste verskyningsvorm kan kwalik gekritiseer word. Dit kom voor waar daar getuienis van ’n mandaat of pertinente ooreenkoms tussen die mededaders aanwesig is. Die bekendste voorbeeld sou wees waar een dader ander daders huur om ’n moord te pleeg. Dader 1 hoef nie die sneller te trek of selfs op die misdaadtoneel aanwesig te wees om aan al die elemente van die misdaad moord te voldoen nie. Sien Yelani 1989 2 SA 43 (A).
Die tweede verskyningsvorm is waar daar geen getuienis van ’n vooraf ooreenkoms of mandaat is nie, maar die totale getuienis dui op ’n aktiewe deelname in die vorm van kumulatiewe optrede wat gesamentlik en willens en wetens (deur aktiewe vereenselwiging) tot die gewraakte gevolg lei. Sien Mgedezi 1989 1 SA 687 (A) en die voorbeeld deur Van der Merwe hier onder aangehaal.
’n Derde verskyningsvorm, alhoewel sommige sou wou ontken dat dit onder die leerstuk tuishoort, is die situasie wat geheers het by die Marikana-voorval, waar selfs die handeling van die teenparty (die polisie) tydens ’n skermutseling daders toegedig word en hulle dan ook aldus die NVG aanspreeklikheid sou kon opdoen vir die dood van hulle mede-optoggangers. Hierdie verskyningsvorm, indien aanvaar word dat dit onder die leerstuk tuisgebring word, is minder bekend, maar het al voor ons howe gedien. Sien Nhlapo 1981 2 SA 744 (A); Goosen 1989 4 SA 1013 (A); Lungile 1999 2 SASV 597 (HHA) en Dube 2010 1 SASV 65 (KZP). Suksesvolle gebruik van die leerstuk in sulke gevalle sou egter op definitiewe uitbreiding van die tradisionele leerstuk neerkom.
’n Algemene waarskuwing by die toepassing van die “gemeenskaplike doel”-leerstuk
By die opleiding van streeklanddroste, landdroste en aanklaers te Justisie-Kollege is daar vir dekades deur onder andere dr NJ van der Merwe gewaarsku dat die leerstuk met omsigtigheid benader moet word en uit die staanspoor in die regte perspektief geplaas moet word. Hierdie skrywer hanteer die leerstuk deur middel van ’n suiwer toepassing van die algemene beginsels. Sy voorbeeld wys op ’n praktiese toepassing:
Gestel A, B en C besluit om ’n winkel te gaan beroof en om enige weerstand wat hulle in die proses mag teëkom, die hoof te bied, desnoods deur die teenstander om die lewe te bring. A hou aan die voorkant en B aan die agterkant van die winkel wag, terwyl C, gewapen met ’n gelaaide rewolwer, by die winkel inbreek. Toe die nagwag C in dié proses betrap, skiet C hom dood. In die daaropvolgende moordverhoor teen A, B en C ontstaan die vraag of ook A en B as daders aan die moord skuldig bevind moet word. Die eerste vraag is of hulle die nagwag se dood veroorsaak het. Staan dit vas dat C die nagwag nie sou gedood het as dit nie vir A en B se deelname aan die gesamentlike onderneming was nie en dat as of A of B kop uitgetrek het, C nie met die inbraak sou voortgegaan het nie, ly dit geen twyfel nie dat A en B kousaal met die dood van die nagwag verbind is. Die vraag of die veroorsaking van die dood van die nagwag deur A en B wederregtelik was, lewer geen probleem op nie en moet bevestigend beantwoord word. Die volgende vraag is of A en B deur die opsetsverwyt getref kan word wat die dood van die oorledene betref. Blyk nou dat A, B en C ’n gemeenskaplike doel gehad het, naamlik om te gaan roof en dat uit hierdie gemeenskaplike doel ’n wil te bespeur is ten minste in die vorm van moontlikheidsbewussyn wat die dood van die oorledene betref, is die konklusie dat beide A en B die nodige opset gehad het wat die dood van die nagwag betref en dat hulle dus as mededaders aan moord skuldig bevind moet word. “Gemeenskaplike doel” is dus ’n gerieflike maatstaf by die bewys van opset.
Volgens van der Merwe word die leerstuk van “gemeenskaplike doel” egter dikwels aangewend om beskuldigdes as mededaders skuldig te bevind sonder dat die kousaliteitsvraag vooraf beantwoord is. Die skrywer se volgende voorbeeld maak dit duidelik:
Gestel A, B en C hou ’n vergadering waarop besluit word om D te vermoor. A stem egter teen die moord op D. B en C se houding is dat hulle in ieder geval voortgaan met die moord ongeag wat A se houding is. Hierop vergesel A vir B en C na die moordtoneel en hou wag, terwyl B en C vir D om die lewe bring. B en C sou egter in ieder geval vir D op die tyd en plek waar hulle hom vermoor het, om die lewe gebring het ongeag of A saamgegaan het of wag gehou het. In die daaropvolgende moordsaak teen A, B en C moet daarteen gewaak word om nie uit die feit dat A die vergadering bygewoon het waaruit ’n “gemeenskaplike doel” blyk om D te vermoor en dat hy saam met B en C gestap het, sonder meer te konkludeer dat A derhalwe opset het aan D se dood nie. Van skuld aan ’n gevolg kan immers geen sprake wees alvorens dit vasstaan dat die beskuldigde die gevolg veroorsaak het nie. “Gemeenskaplike doel” sonder meer kan in ieder geval nie veroorsaak nie – alleen ’n handeling kan vir doeleindes van bestraffing as ’n juridies relevante oorsaak aangemerk word.
(Voorbeelde ontleen aan Van der Merwe, ongepubliseerde “Compendium” (1994:282-3.)
Die skrywer meld verder: “Die benaming ’gemeenskaplike doel’ is misleidend, in soverre dit die funksie wat hierdie leerstuk by die handelingselement vervul onderbeklemtoon.” ’n Beter oplossing volgens Van der Merwe sou wees om in die plek van die “gemeenskaplike doel”-leerstuk eerder met ’n “kumulatiewe handelingsbegrip” te werk en dat “gemeenskaplike doel” slegs as hulpmiddel of maatstaf aanwending behoort te vind.
Wat sê ons howe van die leerstuk?
In Maxaba 1981 (1) SA 1148 (A) is verklaar dat “daar geen towerkrag opgesluit is in die sogenaamde leerstuk van ’gemeenskaplike doel’ nie”. Die hof bevind dat “elkeen van die deelnemers moet voldoen aan al die vereistes van die betrokke misdaadsomskrywing voordat hy as mededader skuldig bevind kan word. Moord is ’n gevolgsmisdaad. Indien die Staat mededaderskap wil bewys, moet hy bewys, nie alleen dat elke deelnemer die nodige opset gehad het om die slagoffer te dood nie, maar ook dat sy aandeel bygedra het, daadwerklik of psigies, tot veroorsaking van die dood.”
In Khumalo 1991 (4) SA 310 (A) 343-344 word gesê: “’n Mens moet … steeds in gedagte hou dat wat bewys moet word, is die opset van elke beskuldigde. As gepoog word om daardie opset af te lei van die geestesgesteldheid van ’n groter groep mense, kan so ’n afleiding alleen geregverdig word waar die hof geen redelike twyfel het nie dat al die lede van die groep wel so ’n eensgesinde opset gehad het, en dat die beskuldigde ’n lid van daardie groep was in die sin dat hy daardie opset gedeel het.”
Die toonaangewende sake betreffende die leerstuk is Safatsa 1988 1 SA 868 (A) en Mgedezi 1989 1 SA 687. Met die skuldigbevindings word akkoord gegaan, maar daar word ook saamgestem met Unterhalter (“Doctrine of common purpose: What makes one person liable for the acts of another?”, SALJ 1988:671) se kritiek op die hof in die Safatsa-saak se gebruik van die toegedigte handelingskonstruksie (“imputed acts”) op 896, 898 en 901. Belangriker vir doeleindes van hierdie bespreking is egter dat beide sake die leerstuk doelbewus beperkend toegepas het.
In die Thebus-saak (hier bo vermeld), wat met goedkeuring na Safatsa en Mgedezi verwys, maan die Grondwetlike hof ook tot ’n beperkende eerder as uitgebreide benadering. (Sien die bespreking hiervan in Mzempi 2011 (2) SASV 237 (ECM)). In laasgenoemde saak word egter gewys op Nzo 1990 3 SA 1 (A), waar die leerstuk wesenlik uitgebrei is. In die Nzo-saak bevind die regter dat hy nie die Nzo-uitbreiding gaan volg nie, ten spyte van stare decisis, en ag hom gebonde aan die Safatsa/Mgedezi/Thebus-inperking.
Alhoewel daar met die uiteindelike grondwetlikheid en die skuldigbevinding in die Thebus-saak saamgestem word, is daar heelwat kritiek teen sekere aspekte van die uitspraak. Met die volgende stelling op par [34]d-e kan nie saamgestem word nie: “The doctrine of common purpose dispenses with the causation requirement.” Ook die waarskuwing deur die regter teen ’n “collective approach to determining the actual conduct” en die gevare daaraan verbonde wys met respek op onkunde oor die verskil tussen die toets vir handeling en opset. Die onafhanklike beoordeling van elke individuele beskuldigde kry wel by die vraag na sy skuld die aandag wat die regter nou reeds by die handelingstoets daaraan wil verleen. Sien ook die kritiek op ander aspekte van die uitspraak deur Burchell (580–8) (hier bo na verwys), asook die kommentaar op die saak deur Hoctor, “Dignity, Criminal Law and the Bill of Rights”, SALJ (2004:304-16). Vir goedkeuring van die saak, sien Reddi, “Doctrine of common purpose receives the stamp of approval”, SALJ (2005:59).
In Lungile 1999 2 SASV 597 (HHA) is ’n gewapende rower skuldig bevind aan die moord op ’n onskuldige omstander wat in die kruisvuur tussen die polisie en die rower noodlottig gewond is. Die hof maak die bevinding op grond van die vooraf-ooreenkoms om ’n misdaad te pleeg en dat die beskuldigde die nodige dolus eventualis gehad het. Sien ook die analoë geval in Nhlapo 1981 2 SA 744 (A).
Meer onlangs, en ná die grondwetlike hof se beslissing in die Thebus-saak, is die “gemeenskaplike doel”-leerstuk in ’n soortgelyke situasie waar ’n medebendelid deur die polisie doodgeskiet is, veel meer beperkend toegepas en die skuldigbevinding aan moord tersyde gestel. Sien Dube 2010 1 SASV 65 (KZP).
Die twee waardevolle funksies van “gemeenskaplike doel”
Ten eerste behoort dit in gevalle waar gemeenskaplike doel moontlik ter sprake mag kom, die feite-beoordelaar bedag te maak op die “ander” wyse waarop na die daadsbegrip gekyk moet word. Handeling en kousaliteit (by gevolgsmisdade) word nie individueel-gerig aangewend nie, maar kumulatief. Met ander woorde, waar die vraag gevra word of ’n gesamentlike handeling ’n gevolg veroorsaak het (kousaliteit), sal conditio sine qua non as toets vir kousaliteit beteken: Dink die kumulatiewe (gesamentlike handeling) van al die deelnemers weg - sou die gevolg steeds intree? Indien die antwoord daarop “ja” is, is kousaliteit afwesig, en indien dit “nee” is, is kousaliteit aanwesig. Na die hantering van die handeling- en kousaliteitsvraag is die volgende stap die toets na die wederregtelikheid van die handeling en gevolg, wat natuurlik aan die hand van die boni mores besleg behoort te word.
Die tweede funksie van “gemeenskaplike doel” is om behulpsaam te wees by die vraag na die skuld (opset) van elke mededader. Weens die groot gewag wat daar gemaak word (in verskeie sake en nou ook deur die NVG in die Marikana-geval) dat slegs dolus eventualis en nie direkte opset nie genoeg is, behoort daar kortliks na dié spesifieke opsetsmanifestasie gekyk te word.
Dolus eventualis by ’n gevolgsmisdaad soos moord bestaan uit twee voorvereistes. Dit beteken eerstens dat ’n persoon subjektief die moontlikheid voorsien dat die gevolg (die dood) mag intree en tweedens dat hy hom daarmee versoen. Sien in dié verband Paizes “Dolus eventualis reconsidered”, SALJ (1988:636–41).
Die Marikana-geval gemeet aan die strafreg-beginsels
Die besluit (wat sedertdien herroep is) om die protesgangers van moord op hul oorlede medeprotesgangers aan te kla kan om verskeie redes gekritiseer word.
Met slegs die feite afkomstig uit die nuusberigte tot beskikking en die wete dat ’n kommissie aangestel gaan word om die saak te ondersoek, mag dit voortydig gewees het om sonder bevestigende feite van aanklagte van moord te praat.
Dit is egter veral weens die bewering dat die leerstuk van gemeenskaplike doel vervolging regverdig dat die karige “feite” nou aan die strafregbeginsels getoets moet word.
Die eerste vraag is of die beskuldigdes se gesamentlike handeling (deur aan die optog deel te neem) kousaal verbind kan word aan die dood van hul mede-optoggangers. Die toets (conditio sine qua non) met die hulp van “gemeenskaplike doel” vra: Dink hul kumulatiewe handeling weg, sou die dood steeds ingetree het? Alhoewel die antwoord teoreties dalk “nee” mag wees en daar dan kousaliteit bewys kon word, lyk dit, inaggenome die feite, na ’n baie onwaarskynlike en moeilik bewysbare element. Anders gestel: slegs indien dit vasstaan dat die polisie nie die oorledenes sou gedood het as dit nie vir die 270 beskuldigdes se deelname aan die gesamentlike optog was nie, sou almal kousaal met die dood van die oorledenes verbind kon word. Al die omstandighede sal in ag geneem moet word om hierop ’n antwoord te verskaf.
Indien daar, argumentsonthalwe, aangeneem word dat daar wel ’n regsgeldige, doodsveroorsakende handeling deur al die beskuldigdes bewys sou kon word en dit wederregtelik bevind word, lê die grootste probleem egter by die skuldvraag. Selfs met dolus eventualis (soos hier bo bespreek) moes die staat sou kon bewys dat elkeen van die beskuldigdes (individueel) aan twee vereistes voldoen het. Die eerste vereiste is dat hul die moontlikheid voorsien het dat hul mede-optoggangers kon sterf (hier sou mens kon betoog, alhoewel moeilik, dat dit dalk bewys kon word). Die tweede vereiste is egter dat hulle hul dan met sodanige moontlikheid versoen het. Dit is waar die grootste probleem lê. (Onbevestigde feite van “muti” wat gebruik is en wat hulle teen geweervuur sou beskerm, maak die bewys hiervan selfs nog meer onwaarskynlik.) Nie eers met die hulp van die “gemeenskaplike doel”-leerstuk sou dit sommer bewys kon word nie, tensy nuwe feite na vore kom en die leerstuk uitermate uitgebrei toegepas word, iets waarteen daar uitdruklik deur die grondwetlike hof in die Thebus-saak gewaarsku is.
Terug na webseminaar se indeksblad om ander bydraes oor Marikana te lees.

