Wietsche Calitz was al by talle musiekprojekte betrokke en het nou twee uiters uiteenlopende projekte – Rembrandt en Of2Minds – in die mou. Hy beantwoord ’n paar vrae.
Goeiedag, Wietsche. Hoe’s dinge?

Koud! Ek het gedink ek is ’n wintermens, maar mens kan net soveel koffie drink.
Voor ons by Rembrandt kom … Jy was jare gelede die hoofman van die groep Malva Centauri, wat veral op Stellenbosch golwe gemaak het. Wat onthou jy van daardie groep se bestaan, en hoe of hoekom het dit op die ou end doodgeloop?
Ja, daai tye was vet pret met Dorpstraat Teater gigs en natuurlik Bohemia so nou en dan. Ek het klaar studeer en is toe Johannesburg toe agter werk aan – dit was ’n mediumtermynplan. Ek het teruggekom en intussen het ons drummer sy kit verkwansel om ’n trouring te koop. Ek is wel baie trots op wat ons gedoen het en op die album wat die lig gesien het. Die ding het sy gang gegaan. (Ons hoogtepunt was moontlik om saam met Koos Kombuis te speel … of die keer toe Huisgenoot ons gekap het. Moeilik om te kies.) Maar dis vir my interessant om te sien hoe die sirkel draai – as ek dit reg onthou was jy die eerste joernalis wat ’n storie oor ons gedoen het, ook nog vir LitNet!
Deesdae is jy, soos baie mense wat hul lieflingbands van vroeër vaarwel moet roep, voltyds werkend, maar jy het nie opgegee met die musiek nie. Hoe het jy besluit om met die Rembrandt-projek te begin? Het jy vir jouself spesifieke mikpunte gestel, of hoe het dit gegroei? Hoe balanseer jy alles?
Man, selfs net ’n paar dae sonder die snare onder my vingers is te veel, maak nie saak wat anders in my lewe aangaan nie. Dit het gehelp toe ek besef daar is nie ’n ander manier vir my nie: Ek moet musiek maak. So selfs al werk ek voltyds, kry ek dit altyd reg om tyd te maak vir musiek. Rembrandt is my eerste soloprojek. Die meeste van die liedjies het ek geskryf weg van die huis, in Jeffreysbaai. Ek was op langverlof en het bietjie agter branders aangery – met ’n kitaar natuurlik! Die liedjies het heel natuurlik gekom, en eers daarna het ek besluit om ’n kortspeler op te neem. Ek het die opnames self gedoen, maar was bevoorreg om Jurgen von Wechmar se hulp te hê met die meng van die album. En toe val die idee van Rembrandt as verhoognaam my op.
Rembrandt is beslis ’n liedjiegedrewe projek, klink dit my, in die opsig dat die musiek redelik minimalisties is en daar duidelik sterk klem op die lirieke en melodieë val. Wat is jou filosofie rondom liedjies skep in terme van wat dit treffend maak en wat nie? Hoe werk jou liedjieskryfproses gewoonlik?
Ek is ’n groot REM-aanhanger. Hulle het eers musiek geskryf en daarna lirieke. Vir my is dit andersom, meestal. Ek begin met die lirieke, daarna kom die melodie, en dan verander hulle mekaar totdat dit “werk”. Dis ’n tydsame maar baie bevredigende proses. Die moeilikste deel is om te besluit jy is klaar met die liedjie. Afrikaans is verder uitdagend met sy aggressiewe konsonante g en r. (Probeer om die laaste sin te sing, en jy sal verstaan.) Om Afrikaans mooi te sing behels ’n fyn balans tussen uitspraak en melodie. Laurika is die meester, na my mening.
As ek reg luister, is die liedjies nogal uiteenlopend in terme van die emotiewe boodskap. Byvoorbeeld, in “Winterdans” is die refrein van “Jy is die mooiste/ vrou hier vanaand” ’n bevestigende liefdeslied, in kontras met “Liewe donker”, wat begin met “Liewe donker/ ek woon in jou nes jy/ woon in my”. Watter soort emosies is vir jou makliker of moeiliker, of bloot lekkerder, om in die kreatiewe proses te verken en ontgin, of hoe werk dit vir jou?
Ek probeer altyd om my onmiddellike situasie te gebruik vir inspirasie, en ek is oop daarvoor om ’n breë spektrum van emosies nader te bekyk. Soos ek gesê het, is die liedjies geskryf tydens ’n solo-trippie. So ja, daar was tye wat ek verlang het, en daar was minder goeie tye. Ek kan nie nou meer presies onthou wat die konteks was nie, maar ek het op daardie stadium die woorde en ’n paar note neergepen wat die fondamente gelê het. As jy wil liedjies skryf, is emosie ’n “currency” (kan jy dit lekker vertaal?). As dit pap reën, moet jy sing.
Rembrandt is dalk in die algemeen minimalisties wat instrumentwerk betref, maar ’n elektroniese element of twee duik wel op – en jy is ook lid van ’n ander groep genaamd Of2Minds, wat uit en uit elektronies-industrieel is. Wat is daar aan die gang?
Ja, Of2Minds is my hardebaard elektronikaprojek. Ek en ’n goeie vriend (wat ’n recovering metal addict is) het ons uiteenlopende musikale idees saamgegooi en vier liedjies het uitgekom. “Powertools and alcohol” is die een liedjie se naam, om jou ’n idee te gee. Die plan was dat Rembrandt niks hiermee te doen het nie, maar helaas, die elektronika het wel bietjie ingesneak (hopelik smaakvol). Ek soek nog Rembrandt se goedkeuring …
Die Afrikaanse musiektoneel is uiteraard nie ’n maklike een vir ’n liedjieskrywer-sanger om van voor af sommer te betree nie – hoe ervaar jy die toneel of bedryf in hierdie opsig tot dusver? En wat dink jy in die algemeen van die stand van wat aangaan in Afrikaanse musiek?
Dis ’n klein maar aktiewe bedryf en ek is trots om deel te wees daarvan. Mense is soms negatief oor sogenaamde “Afrikaanse” musiek, maar wat is dit nou eintlik? Ons bedryf is uniek sover ek weet in die opsig dat mense ’n taal en ’n musiekstyl so nou met mekaar verbind. (Hoe klink “Engelse” musiek?) Afrikaanse musiek is nie beperk tot die doef-doef-industrie nie. Ek hou baie van wat Bittereinder doen. Onthou jy vir Battery 9? In my opinie het ons het meer sulke projekte nodig. Afrikaanse rockgroepe en liedjieskrywer-sangers hou die vuur aan die gang, maar ons het eksperimentele Afrikaanse groepe nodig om te groei.
Deur al die projekte waarby jy al betrokke was en is, is daar sekerlik ’n staaltjie of drie te vertelle? Watter hoogtepunte kan jy uitsonder, en wat het al op die verhoog of in die ateljee gebeur wat jy eerder sal wil vergeet?
Haha! Ek het al ’n paar ontnugterende oomblikke gehad tydens die terugspeel van ’n stemopname. Tyd gaan pynlik stadig verby as jy die een noot na die ander mis. Ek het onlangs as session musikant saam met my broer gespeel – daar was ’n paar kitare op die verhoog en ek tel toe ingedagte een op wat in die verkeerde sleutel gestem is. Die eerste paar note was interessant, om die minste te sê. Dis wel die soort dinge wat mens onthou. As als glad loop, vergeet mens dit vinnig.
Wat hou die nabye en verre toekoms vir Rembrandt (en die ander musiekprojekte) in?
Rembrandt se album is op iTunes. Dit was die eerste groot stap. Nou is dit optree soveel ek kan en waar ek geleentheid kry. My aanslag is nie groot verhoë nie. Klein gigs is my ding. Op die ou end is my mikpunt om die musiek te deel met mense wat dit geniet. Solank ek dit regkry, voel ek dit is suksesvol. Verder as dit beplan ek nie regtig nie.
Wat is die sin van die lewe?
Ek sal na jou moet terugkom hieroor – miskien weet Rembrandt …

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter.

