RAMfest 2014: Musiek groei geil

  • 0

Verlede naweek lê die tweede groot musiekfees van die jaar voor ons: RAMfest. Dit sal my eerste een wees (eerste RAMfest, nie musiekfees nie ...). Alhoewel die line-up bitter belowend lyk, gaan ek hoofsaaklik om een rede: Killswitch Engage.

Vrydagmiddag verlaat ek en Jono, my musikale wingman, Stellenbosch met ’n stink spoed; daar is ’n reuseverwagting van wat vanaand gaan gebeur. Soos ons die aanwysings volg en op die laaste stukkie grondpad kom, ry ons verby ’n interessante baken op dié pad: die Helderstroom-gevangenis. “Ek was nog nooit so bly om ’n tronk te sien nie,” laat weet Jono.

Soos ons 16:00 ingery kom, merk hy op dat dit nogal besig is. Ek is nou weer eerder verras deur hoe stil dit is. Dis nie lank nie of ons is met bier in die hand in die verhoogarea op pad om Red Huxley te kyk. Die skare is verbasend klein en die band lyk skoon klein op die moerse main stage. Daar is egter niks fout met hulle klank of entoesiasme nie.

Dieselfde geld vir die Stellenbosch-band De Wallen. Die ouens blaas my weg met hulle energie en oortuiging – en met hulle bevoegdheid skort daar ook niks nie. Die frontman se stage presence is indrukwekkend. “Hierdie ouens speel soos headliners,” merk Jono weer (tereg) op.


De Wallen aan't kook.
Foto: Kevin Schnider

Nou is dit tyd om ernstig te raak: daar moet plek voor die main stage ingeneem word sodat Killswitch (en tot ’n mindere mate Trivium) van so naby as moontlik waardeer kan word. Dit beteken ongelukkig dat ons die fantastiese Black Cat Bones en Fuzigish1 moet misloop.

Daar is ’n vreemde vibe voor in die moshpit. Miskien raak ek net oud, maar ek voel effens op my agterpote teenoor die laaities wat voor ons staan. “When Trivium starts I’m going to kill,” hoor ek die een seun voor my spog. Toe dié groep begin speel, doen genoemde outjie ook sy bes om ’n onnodige pes te wees. Kom ons volstaan daarby om te sê dat hy vinnig uitgewerk word. Daar is niks fout met Trivium se vertoning nie, alhoewel die klank nogal geneuk het en Matt Heafey se stem grootliks weggeraak het as mens te voor in die koor was.

Die groot oomblik het aangebreek. ’n Wyse vriend van my sê altyd: “Avoid disappointment, keep expectation low.” Dit was egter onmoontlik om hierdie filosofie op my verwagtinge van KSE toe te pas – en ek kan met ’n blye gemoed sê dat ek geensins teleurgestel is nie. Jesse en die kêrels maak vuur onder die mense met ’n setlist wat kwalik beter of meer verteenwoordigend saamgestel kon gewees het. Emosioneel en byna religieus opgesweep verloor ek alle benul van tyd en weer gesien sluit die kragtoer met “My Curse” af. Die res van die naweek kan maar maak wat hy wil – ek het reeds ’n besonderse plato bereik.


Jesse Leach van Killswitch Engage
Foto: Vetman Design and Photography

Die volgende oggend kom ek swaar (en met seer lyf) uit die bed. Die prentjiemooi omgewing en ’n stukkie meesterlike Santa Anna’s ruk dinge darem weer vinnig vir my reg. In dié vroegoggend lucidum intervallum val dit my op dat hier baie minder mense is as wat ek verwag het. Mens kan redelik veilig raai dat Trivium en Killswitch gisteraand vir die kleinste skares van hulle professionele loopbane gespeel het. Sou dit die organiseerders se idee wees om ’n meer intieme fees te reël (en indien wel, hoe bekostig hulle dit)?

Nomadic Orchestra, Gerald Clark en Mr Cat & the Jackal sorg daarvoor dat die feesgangers weer vinnig momentum opbou. (Die komedie is wel grotendeels ’n mislukking; veral die eerste “komediant” was erg cringeworthy.) The Flaming De Villes is my vonds vir die naweek. Hulle maak bedonnerde, harde rockabilly en kort voor lank is die gehoor in ’n gevaarlik-lekker bui aan’t dans.2

Vuvultures, ’n groep uit Londen, trek ’n klomp mense met hulle donker, broeierige poprock. Sangeres en model Harmony Boucher is nie skaam op die verhoog nie en lewer ’n sexy, innemende vertoning. aKING, ISO en Gangs of Ballet lui die Saterdagaand verder in. Taxi Violence stel oudergewoonte nie teleur met hulle stadium rock nie. Dié band is darem maar tight (alhoewel George van der Spuy bietjie meer entoesiasties kon gewees het), en die ligvertoning was besonders.

Ek ken nie Foals nie, maar die Rammers se opwinding is skoon tasbaar. Hulle begin hulle set ook met ’n helse knal en weer word die ligte baie effektief benut. Die ouens het heelwat interessante toertjies en hulle komposisies is aanvanklik interessant, maar dié dance rock raak vir my vinnig herhalend.3

PHFAT verseker dat ek my verveelde lomerigheid vinnig afskud. Hulle harde electro beats en onwrikbare rap skud my hok en ek dans met grootse waardering saam. Ek raak in die proses skoon nostalgies oor Max Normal en Max Normal.tv, Waddy Jones se destydse wonderprojekte voordat hy met sy Die Antwoord-drek begin het. Bemoedigend om te sien dat daar steeds mense daar buite is wat dié spesifieke tipe rap-fakkel dra. (Terloops, jy kan ook hulle jongste album gratis en verniet hier aflaai. Doen ‘it!)


Dit is ’n wonder dat die feesgronde nog staan na hierdie mense se elektroniese verswelging...
Foto: Retroyspective

Biffy Clyro is ongetwyfeld die naweek se headliners. Nege uit tien mense laat weet dat hulle hier is om Biffy te sien (verbasend genoeg sê selfs die metalheads met die Trivium-hemde so). Ek het my misgis met Foals; dié is eerder hoe afwagting lyk en voel. Die Skotse trio is duidelik bewus hiervan, want hulle aflewering is energiek en hoogs emosioneel – hierdie ouens gee die gehoor elke druppel van hulself. Sonder twyfel sal dié aand in Biffy Clyro-aanhangers se geheues vassteek, en met goeie rede.

Al het mens RAMfest toe gegaan net om “jou” band te sien, het die kwaliteit van die shows verseker dat dit deur en deur die moeite werd was. En met die ongelooflike plaaslike talent wat tussenin gesaai was (De Wallen, Flaming De Villes en PHFAT het regtig uitgestaan), was die musikale aanbieding welig en vrugbaar. Laat ons sien waarmee ons volgende jaar bederf word ...


Simon Neil, voorsanger van Biffy Clyro
Foto: Vetman Design and Photography

 

 


1 Die volgende dag hoor ek uit verskeie oorde hoe gatskop hulle was. Ons een kampmaat het skoon haar enkel afgedans.

2 Ek raak ook summier halsoorkop verlief op hulle bassist, wat, terloops, tans die hotste vrou in die plaaslike musiekbedryf is.

3 Ek is beslis in die minderheid hier, want die skare was bitter waarderend.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top