
Met: Siv Ngesi
Gegrond op die boek The racist guide to the people of South Africa deur Simon Kilpatrick.
Regie: Brent Palmer.
Die Golden Arrow Studio, Baxter-sentrum.
2–12 September 2013, Maandag tot Saterdag om 20:15.
Kaartjies van R80 tot R100 deur Computicket of die Baxter-teater, 021-680 3962; afslag vir studente, groepbesprekings en seniors.
Jy word gewaarsku met die intrapslag: as jy ras-sensitief is, is hierdie nie die vertoning vir jou nie. Siv Ngesi het verlede jaar sy eenmanvertoning Race Card na die Baxter gebring, en vertonings is uitverkoop. Toe skuif hy na die Grahamstadse nasionale kunstefees en weer is die sale stampvol. Nou is hy terug in die Kaap, en met openingsaand was daar letterlik vier oop sitplekke – van mense wat nie opgedaag het nie! Hulle verlies.
Hy verwelkom almal van alle rasse – met die nodige gebare, aksente en gesigsuitdrukkings – en is veral dankbaar oor wit gesigte “en dat julle nie almal Perth toe verhuis het nie”.
Jy lag vir meer as ’n uur, en soos hy kort-kort op sy horlosie kyk en om verskoning vra dat hy oor die toegelate tyd is, só skree mense uit die gehoor vir meer.
Hy steek draak met politici, die ANC se onvermoë om geld te bestuur, wit mense se onvermoë om te dans, swart mense se liefde vir hoender en “allergie” vir slaai, bruin mense wat geen “klassisme” het nie, maar “haarsisme”, en hoe swart mense nou vir wit mense vertel hoe dinge gedoen moet word – selfs karwagte wil sê hoe en waar jy mag parkeer ...
En elke nou en dan moet hy stop en wag: vir die gehoor om te bedaar en om sy eie giggels te onderdruk. Op een stadium verklaar hy: “Ek is mal oor hierdie land; waar anders in die wêreld kan jy doen wat ons nou doen: lag vir mekaar?”
Toe hy vertel dat swart mense nou moeg is vir wit mense se kinders se stukkende speelgoed, skree mense soos hulle lag. En toe hy verduidelik dat jy weet jy is swart as jy ’n hele blikkie Stoney-gemmerbier in een sluk kan wegslaan, word hy met fluite uit die gehoor beaam.
Hy praat gedurig met mense in die gehoor: mense wat laat kom, word uitgevra oor hul ontydigheid; ’n mooi meisie kry ’n kompliment oor haar skoonheid. Hy lag toe hy een ouer man in die gehoor gewaar en byvoeg dat wit mense nie oud word nie – “Julle gaan agteruit!”
En hoewel hy met elke skets en grap die gehoor laat skaterlag, is daar hier en daar sosiale kommentaar waarop hy net instemmende kopknippe kry, soos: “As Julius Malema president word, trek ek Perth toe” en “SAB lewer daagliks bier af by 800 000 sjebeens in hierdie land, maar die regering kan nie een maal per jaar skoolboeke by 26 000 skole aflewer nie.”
Sy laaste woorde voor die ligte uitdoof: “Die enigste twee dinge wat volgens kleur geskei moet word, is wasgoed en verkeersligte.” Sela.
Die vertoning is nie geskik vir kinders onder 13 jaar nie.

