Poolshoogte-afsluiting: Nuwe ontwikkelinge in die Afrikaanse literatuurstudie

  • 0

Louise Viljoen (foto: Izak de Vries)

Poolshoogte, ’n aanlyn kongres oor die stand van die Afrikaanse letterkunde 20 jaar ná demokrasie, kon die afgelope paar maande op LitNet gevolg word. Hierdie projek is ondersteun deur LitNet Akademies. Op Woensdag 11 Maart 2014, tydens die jaarlikse US Woordfees in Stellenbosch, is die gesprek in lewende lywe voortgesit. Francis Galloway, Louise Viljoen, Marga Stoffer en Bettina Wyngaard was in gesprek met Sonja Loots. Hieronder is 'n opsomming van Louise Viljoen se bydrae by dié geleentheid.

Inleiding

Die aanleiding tot hierdie artikel was ’n uitnodiging om deel te neem aan ’n paneelbespreking, gelei deur Sonja Loots, oor die Poolshoogte-konferensie wat in 2014 op LitNet plaasgevind het.

My opdrag was om my te bepaal by nuwe ontwikkelinge in die Afrikaanse literatuurstudie. Wat hier volg, is dus my eie indrukke van die stand van die Afrikaanse literatuurstudie in aansluiting by dit wat in die Poolshoogte-konferensie oor hierdie onderwerp gesê is. Die ander lede van die paneel, Francis Galloway, Bettina van Wyngaard en Marga Stoffer, het op ander aspekte van die konferensie gereageer.

LitNet, LitNet Akademies en Etienne van Heerden moet gelukgewens word met hierdie inisiatief. Die American Comparative Literature Association (ACLA) publiseer elke 10 jaar ’n verslag oor die “State of the Discipline” wat betref die vergelykende literatuurstudie. Navorsers gee hulle indrukke oor die stand van die dissipline in opstelle van verskillende lengtes, vanaf enkele bladsye tot stukke van 20 bladsye lank. Die 2005-verslag het gelei tot die publikasie Comparative Literature in an Age of Globalization onder redaksie van Haun Saussy in 2006. Die 2014–2015-verslag is aanlyn beskikbaar by http://stateofthediscipline.acla.org. Hier gee die verskillende deelnemers hulle indrukke in verband met die sterkste idees van die voorafgaande dekade, bied hulle perspektiewe op die interessantste nuwe ontwikkelings, gee hulle oorsigte van die belangrikste feite en statistieke in die dissipline, demonstreer hulle die toepasbaarheid van bepaalde idees en gee hulle indrukke van wat die toekoms inhou. Dit is ’n wonderlike grabbelsak van idees, feite, wenke en toekomsblikke, iets wat enige navorser stimuleer tot ’n bestekopname van sy of haar eie denke oor die onderwerp. ’n Klein veld soos die Afrikaanse literatuurstudie is bevoorreg om deur LitNet se inisiatief die geleentheid te gehad het om ’n soortgelyke bestekopname te maak.

Van postmodernisme na metamodernisme?

Meer as een kommentator in die Poolshoogte-konferensie het verwys na die impak wat die postmodernisme op die Afrikaanse literatuurstudie in die afgelope 20 jaar gehad het. Die postmodernistiese benadering tot die literatuurstudie het veral in die tagtiger- en negentigerjare van die vorige eeu groot traksie gehad, veral onder die invloed van die poststrukturalistiese denkers soos Lacan, Derrida, Foucault, Kristeva, Irigaray, Lyotard, Baudrillard en Jameson. Die postmodernistiese denke het veel gedoen om die groot meesternarratiewe in die wêreld en ook dié in Suid-Afrika aan bevraagtekening te onderwerp, die werklikheidskeppende eienskappe van taal te beklemtoon en die ontleding van magsverhoudinge te nuanseer. Binne dieselfde raamwerk, maar met ’n groter aandag vir die historiese en politieke kontekste waarbinne literatuur ontstaan, is daar gefokus op die postkolonialistiese trekke van die Afrikaanse literatuur.

Dit lyk egter of die invloed van die postmodernisme aan die kwyn is en of daar met die eeuwending ’n soeke gekom het na dit wat die postmodernisme kan vervang. Terme soos post-postmodernisme het op die voorgrond begin tree, net soos wat daar pogings is om nuwe roetes vir postkoloniale studies te vind (vgl die bundel essays Rerouting the postcolonial met die subtitel New directions for the millennium wat in 2010 verskyn het). My kollega Marlene van Niekerk het onlangs my aandag gevestig op Timotheus Vermeulen en Robin van den Akker se artikel “Notes on metamodernism”, waarin hulle vra of ’n denkrigting wat hulle die metamodernisme noem, nie besig is om die postmodernisme te vervang nie. Daar is ook ’n webwerf, uitsluitlik gewy aan die metamodernisme (http://www.metamodernism.com), waarin dit aangebied word as ’n term wat gebruik kan word om ontwikkelinge in kontemporêre kultuur te beskryf en wat groei uit die behoefte om verby (“beyond”) die postmodernisme te beweeg. In die nadraai van die krisisse van die afgelope twee dekades (klimaatsverandering, die finansiële krisis, die eskalasie van globale konflikte) is daar – volgens hierdie webwerf – ’n voelbare en kollektiewe behoefte aan verandering.

Alhoewel ek nie saamstem met die enigsins karikatuuragtige beeld wat Vermeulen en Van den Akker van die modernisme en postmodernisme skep nie, neem ek wel kennis van hulle siening dat ’n nuwe gees besig is om pos te vat onder die druk van verskynsels soos finansiële onsekerheid, geopolitieke onstabiliteit en ekologiese krisisse. Vermeulen en Van den Akker tipeer die modernisme se houding ten opsigte van idealisme en ideale vir ’n beter samelewing as fanaties en/of naïef, en dié van die postmodernisme as apaties en/of skepties, terwyl die huidige generasie se houding volgens hulle getuig van ’n soort ingeligte naïwiteit of pragmatiese idealisme. Volgens hulle is dit die resultaat daarvan dat die metamodernisme ossilleer tussen modernistiese entoesiasme en postmodernistiese ironie, tussen modernistiese hoop en postmodernistiese melankolie, tussen modernistiese empatie en postmodernistiese apatie. “Metamodernism moves for the sake of moving, attempts in spite of its inevitable failure; it seeks forever a truth, that it never expects to find,” skryf hulle. Of hulle idees meer as net ’n verbygaande poging is om ’n nuwe geestesklimaat te omskryf en of dit ’n impak gaan maak op die manier waarop die Afrikaanse literatuurstudie bedryf word, sal ons nog moet sien.

Die behoefte om die literatuurstudie te laat kennis neem van die realiteit “daar buite”

Miskien is daar iets van hierdie idealisme in verband met ’n beter samelewing waarna Vermeulen en Van den Akker verwys te bespeur in sommige van die deelnemers aan die Poolshoogte-konferensie se behoefte om die literatuurstudie te laat kennis neem van die realiteit “daar buite” en om dit ’n sterker etiese begronding te gee. Helize van Vuuren skryf in haar bydrae dat die Afrikaanse literatuurstudie onder andere gekonfronteer word met die uitdaging om betrokke te raak by dit wat gebeur “aan die anderkant van die muur” waarna skrywers en literatore graag hulle gesigte sou wou draai om hulle te verdiep in die kuns (sy gebruik ’n beeld van Blanchot).

Dit manifesteer byvoorbeeld in Hein Willemse se pleidooi vir ’n sterker sosiale betrokkenheid in die Afrikaanse letterkunde én literatuurstudie. Sy behoefte is aan “’n óóp Afrikaanse denk- en kultuurwêreld” wat getuig van ’n werklike betrokkenheid by aktuele kwessies, iets wat hy slegs in enkele voorbeelde uit die Afrikaanse letterkunde vind en nie werklik in die Afrikaanse literatuurstudie sien nie. Willie Burger vind volgens sy Poolshoogte-bydrae die sosiale betrokkenheid en sosiaal-politieke ontleding van ons leefwêreld toenemend in dit wat hy genrefiksie noem (al is dit miskien nie presies wat Willemse in gedagte het nie). Die groot groei in genrefiksie (veral misdaadfiksie) is vir hom deel van iets wat hy die “populêre wending” noem. Hiermee verwys hy onder andere na die feit dat die grense tussen populêre fiksie en die sogenaamd hoë letterkunde steeds meer bevraagteken word deur die suksesse aangeteken deur kategorie van fiksie. Jonathan Amid se bydrae oor misdaadfiksie werp verder lig op die rol wat misdaadfiksie speel in die voorstelling van die eietydse Suid-Afrikaanse samelewing. Burger suggereer ook dat die “realiteitshonger” wat ons sien in die toenemende fokus op genres wat wegbeweeg van suiwer fiksie, naamlik memoires, outobiografieë en outobiografiese fiksie, dalk deel is van hierdie behoefte om met die realiteit daar buite om te gaan.

Die Afrikaanse literatuurstudie staan ook toenemend in die teken van die posthumanisme, hier in die betekenis van ’n teenvoeter vir die klassieke humanisme in dié opsig dat dit die mens sien as slegs één van vele spesies op aarde. Dit rig die fokus ook op dit wat buite die sfeer van die menslike lê in die literatuur en ontstaan uit die behoefte om eties om te gaan met dit wat tot dusver ondergeskik gestel is aan die belange van die mens. Susan Smith gee in haar bydrae ’n deeglike uiteensetting van die ekokritiese benadering tot die literatuur. Dit is ’n benadering wat steeds meer veld wen in die Afrikaanse literatuurstudie en wat dalk gesien kan word as ’n voorbeeld van die metamodernistiese idealisme waarvan Vermeulen en Van den Akker gepraat het.

Alhoewel daar besef word dat die probleme wat ons in die gesig staar, byna onoorkomelik groot is, word daar tog pogings aangewend om ’n verskil te maak deur ook in die literatuurstudie eties en verantwoordelik met die wêreld om te gaan. Dit is ’n benaderingswyse wat kennis neem van dit wat “aan die anderkant van die muur” gebeur wat betref ekologiese vraagstukke, die mens se posisionering ten opsigte van dit wat buite die kategorie van die menslike lê (diere, plante, die planeet) en die soeke na ’n etiese grondslag waarop daardie optrede gegrond kan word.

Daarom is daar ook ’n groeiende belangstelling in dierestudies waarin die klem val op die representasie van diere in literêre tekste en die mens se verhouding tot die dier.

Heilna du Plooy verwys in haar bydrae na die moontlikheid van ’n “eudaimoniese wending” in die literatuurstudie. Die Griekse woord eudaimonia beteken “geluk” of “welsyn”. Binne die denke van Aristoteles word die begrip in verband gebring met deug en praktiese of etiese wysheid. Ek lei dus af dat hierdie benadering klem lê op dit in die letterkunde wat vir die mens heilsaam is, dit wat lei tot deugdelikheid en wysheid. Presies hoe hierdie benadering in die Afrikaanse literatuurstudie gaan ontwikkel, is nog nie duidelik nie. Hierdie ingesteldheid kontrasteer duidelik met die soort literatuuropvatting wat klem lê op die letterkunde se vermoë om lesers te ontsenu, te kwel en van hulle sekerhede te ontneem, wat ook al die doel daarvan mag wees: om ou vooroordele te heroorweeg, om nuwe denke te stimuleer of om doodgewoon wars te wees van dit wat heilsaam is.

Transnasionalisme, wêreldliteratuur, vergelykende literatuurstudie en vertaling

Soos wat ’n paar van die deelnemers aan die Poolshoogte-konferensie genoem het (Willie Burger, Leon de Kock), is die Afrikaanse en die Suid-Afrikaanse letterkunde besig om oor en buite die grense van die nasionale te beweeg. Dit is dus nie vreemd dat daar ook in die huidige literatuurstudie steeds meer gefokus word op die transnasionale bewegings van (Suid-)Afrikaanse skrywers en literêre tekste nie. Die aandag vir transnasionale bewegings is een van die maniere waarop literatore kan wegbreek uit die keurslyf wat deur die nosie van nasionale letterkundes daargestel word. Die historikus Charles van Onselen het onlangs by die bekendstelling van sy boek Showdown at the Red Lion gesê dat hy nie geïnteresseerd is daarin om ’n Suid-Afrikaanse geskiedenis te skryf nie, omdat die bewegings oor sogenaamd nasionale grense heen vir hom ’n veel interessanter verskynsel is en omdat nasionale grense in elk geval nie menslike aktiwiteit toereikend kan omvat of binnehou nie. Die Afrikaanse literatuurstudie was vir baie lank en in tred met internasionale gebruike vasgevang in die paradigma van die bestudering van ’n nasionale letterkunde – al was die Afrikaanse letterkunde maar net een van die letterkundes binne ’n nasionale staat. Dit is dus dalk nou die tyd om weg te breek uit daardie paradigma en die transnasionale bewegings van (Suid-)Afrikaanse skrywers en hulle tekste te ondersoek. Dit geld nie net vir die eietydse, steeds lewende skrywers nie, maar ook die ouer skrywers wat op interessante maniere oor (deur) die grense van die nasie(staat) beweeg het. My eie gevoel is dat ’n mens nie slegs die transnasionale bewegings vanaf ’n klein periferale land soos Suid-Afrika en ’n taal soos Afrikaans na die groot Engelstalige sentrums moet ondersoek nie, maar ook dit wat deur Francoise Lionnet en Shuh Mei-Shih (2005) “minor transnationalism” genoem word, naamlik die bewegings tussen kleiner sentrums en tale (soos dié van Afrikaanse skrywers na Nederland of na ander tale in die Suider-Afrikaanse omgewing). Dié impuls om die transnasionale te ondersoek, hou gedeeltelik verband met die postkoloniale studies se behoefte om te soek na nuwe roetes waarvolgens dit kan ontplooi, net soos wat die vergelykende letterkunde voortdurend soek na nuwe maniere om hulle ondersoeke in te rig. Spivak het byvoorbeeld in Death of a Discipline (2003) geargumenteer dat die postkolonialisme moet wegbeweeg van die teenoormekaarstelling van nasionalisme en kolonialisme, ook dat die vergelykende letterkunde moet wegkom van die verwysings na globalisering wat geneig is om dieselfde sisteem op almal af te druk en eerder dink in terme van wat sy planetariteit (“planetarity”) noem.

Terselfdertyd is daar die beweging om die Afrikaanse literatuurstudie te laat kennis neem van Afrikaanse literêre tekste binne die groter verband van die wêreldletterkunde. Laasgenoemde is ’n begrip met ’n komplekse geskiedenis en verskillende betekenismoontlikhede, soos wat Theo D’haen vermeld in sy inleiding tot die veld, The Routledge Concise History of World Literature. Die term het sy oorsprong in Goethe se opvattings in verband met die waarde van wat hy Weltliteratur genoem het, gebaseer op die ideaal van ’n transnasionale verkeer van idees en kultuurgoedere. Die begrip wêreldletterkunde word egter ook dikwels gestel teenoor nasionale letterkunde, dikwels met die versweë implikasie dat die wêreldletterkunde meer inklusief, verdraagsaam, eneties bewus, ook meer avant-garde en suiwer literêr sal wees as nasionale letterkundes, wat dikwels geassosieer word met die parogiale en gesien word as ruimtes waar uitsluitende en selfs onderdrukkende praktyke kan posvat. Binne hierdie raamwerk sou dit lyk asof die plasing van die Afrikaanse letterkunde binne die groter raamwerk van die wêreldletterkunde die Afrikaanse literatuurstudie kan bevry van die uitsluitende praktyke wat deel daarvan is (soos uitgespel in die bydraes van Nathan Trantraal en Shirmoney Rhode, wat daarop wys dat die Afrikaanse letterkunde en literatore uit voeling is met die leefwêreld en taal van baie Afrikaanssprekendes en daardeur verskraal word).

’n Mens moet egter ook nie blind wees vir die ou en nuwe hiërargieë opgesluit in sommige mense se hantering van die begrip wêreldliteratuur nie. David Damrosch wys in What is World Literature? daarop dat die term wêreldletterkunde kan verwys na ’n vasgestelde korpus van klassieke werke van Europese oorsprong (veral die tekste van die Grieke en die Romeine), maar ook na ’n steeds ontwikkelende kanon van meesterwerke wat antiek óf eietyds kan wees. Soos wat egter dikwels die geval is met ’n kanon, berus die samestelling daarvan onder andere op kulturele, ekonomiese en politieke mag. Dit is dus moeilik om jou in te dink dat ’n (Suid-)Afrikaanse literêre teks binne ’n Anglo-Amerikaans-gesentreerde wêreldorde in die kanon van die wêreldletterkunde opgeneem sal word en ’n mens soek dus tevergeefs na sulke tekste in lyste van die wêreld se beste literatuur. Van hierdie magsverhoudings sal Afrikaanse literatore moet kennis neem wanneer hulle die Afrikaanse literatuur vanuit die perspektief van die wêreldletterkunde bestudeer. Ek vermoed dat die ongelykhede en eienaardighede van The World Republic of Letters (soos wat die titel van Pascale Casanova se bekende boek lui) steeds meer in die Afrikaanse literatuurstudie ondersoek gaan word en dat verwysings na kanonisering, kommodifisering, literêre sisteme en literatuurgeskiedskrywing ’n groot rol daarin sal speel (vgl die bydraes van Joan Hambidge en Hennie van Coller tot Poolshoogte).

Vervleg met hierdie blik op die transnasionale bewegings van skrywers en tekste en die plasing van Afrikaanse tekste binne die groter raamwerk van die wêreldletterkunde, is natuurlik die beoefening van die vergelykende literatuurstudie, wat ’n ou, maar steeds lewendige praktyk binne die Afrikaanse literatuurstudie is. Een van die groot verskille en geskilpunte tussen die benaderings van die vergelykende literatuurstudie en die wêreldletterkunde is dat eersgenoemde daarop aandring dat die tekste wat met mekaar vergelyk word, in die oorspronklike tale gelees word en dat laasgenoemde meestal literêre tekste in vertaling bestudeer (soos in die talle kursusse in “World Literature” in die VSA).

Wat ook al die benadering wat gevolg word (transnasionaliteit, wêreldletterkunde, vergelykende studie), is dit duidelik dat vertalings van literêre tekste hier ’n baie groot rol speel. Daarom is dit belangrik dat hierdie soort studies sal kennis neem van die belangrikste teorieë in verband met literêre vertaling en dat daar aandag gegee sal word aan al die aspekte van die vertaalproses. Dit gebeur reeds in die Afrikaanse literatuurstudie, maar dit is my gevoel dat daar steeds meer gefokus sal word op die bestudering van literêre tekste in vertaling, die lewe wat vertaalde literêre tekste lei, hoe hulle opgeneem word in nuwe literêre sisteme, hoe vertalings beoordeel kan word, en so meer – die moontlikhede is by wyse van spreke legio.

“Big data” in die literatuurstudie

Big data is die gonswoord van ons tyd. Dit is ter sprake in feitlik elke dissipline wat bestaan en is die resultaat van tegnologie wat dit vir ons moontlik maak om veel meer data in te samel in ’n veel korter tyd as tevore en ook bewerkings van daardie data te doen. Ek is nie kundig genoeg om my uit te spreek oor al die moontlikhede wat dit vir die literatuurstudie bied nie. Dit lyk vir my asof Franco Moretti se oproep dat die vergelykende literatuur moet begin kyk na “distant readings”, waardeur tegnieke, temas, trope, genres en sisteme in die wêreldletterkunde geïdentifiseer kan word, een van die vroegste verskyningsvorme of toepassings hiervan in die literatuurstudie was. Hierdie “distant readings” staan teenoor die “close readings” wat so geliefd is in die Afrikaanse literatuurstudie. Volgens Moretti gedy sulke “close readings” veral binne die konteks van nasionale letterkundes waar sekere enkeltekste so belangrik geag word dat dit die toegespitste en uitgebreide aandag van so ’n stiplesing deur ’n spesialis regverdig. ’n Verdere manifestasie van hierdie hantering en verwerking van groot korpusse data is die toepassing van netwerkteorie en sosialenetwerkanalise binne die kader van kompleksiteits- en sisteemteorie om die literêre veld van Afrikaans te karteer en ontleed (vgl die werk van Burgert Senekal). ’n Veel meer eenvoudige resultaat van die virtuele beskikbaarheid van inligting op die internet is dat dit literatore se soektogte na die ensiklopediese verwysings van skrywers dramaties vergemaklik het.

Charl-Pierre Naudé
Heilna du Plooy

’n Terugkeer na die grondbeginsels van bepaalde genres

Een van hierdie debatte het gehandel oor die narratiewe poësie (ook genoem praatpoësie), wat gestel is teenoor hermetiese (oftewel geslote) poësie. Die vrae wat gestel is en die onderskeie standpunte wat ingeneem is, het aangesluit by ’n navorsingsprojek oor narratiewe poësie gelei deur Heilna du Plooy van die Noordwes-Universiteit, met die medewerking van ’n verskeidenheid plaaslike en internasionale navorsers. ’n Kenmerk van hierdie projek was die terugkeer na die basiese kenmerke van beide die liriek en die narratief ten einde te kan verstaan wat bedoel word met die begrip narratiewe poësie. ’n Ander meer onlangse debat op Versindaba het begin by ’n artikel wat Tony Ullyat geskryf het oor die vertaling van poësie. Marlene van Niekerk se reaksie op Ullyat se artikel het gelei tot ’n uitgebreide internetgesprek met Charl-Pierre Naudé waarin daar veral gepraat is oor wat ’n mens moet verstaan onder die begrip poësie en wat die werktuie van die digter is. Ook uit hierdie gesprek het dit duidelik geword dat die Afrikaanse literatuurstudie – om voldoende te kan reageer op die digbundels wat in Afrikaans gepubliseer word en die vrae wat in hierdie debatte gestel is – sal moet terugkeer na die mees basies kenmerke van die poësie as genre en op hoogte moet kom van internasionale ontwikkelinge op die gebied. Helize van Vuuren stel ’n soortgelyke standpunt oor die bestudering van die Afrikaanse letterkunde in die geheel, nie net die poësie nie: Wat geruime tyd egter die dringendste nodig is, is ’n deeglike herbedink van die teoretiese vertrekpunte en benaderings van navorsing in en oor die Afrikaanse letterkunde.” Hieroor is daar inderdaad grondige besinning nodig, veral van die soort wat nie so gemaklik inpas in die snelvuurgesprekke in literêre webwerwe se kommentaarboksies nie.

Die impak van kritiese teorieë

Dit is verder my gevoel dat die impak van sekere kritiese teorieë (dit wat in Engels critical theory genoem word) op die literatuurstudie sal bly voortbestaan ongeag die ander rigtings wat die Afrikaanse literatuurstudie mag opgaan. Literatore en studente sal voortgaan om die insigte uit ’n verskeidenheid ander dissiplines as die letterkunde te gebruik om literêre tekste te help ontsluit en om letterkunde te integreer in die mens se ervaring van sy of haar groter leefwêreld. In die verlede is insigte uit die filosofie, linguistiek, psigologie, genderstudie, sosiologie, politieke wetenskap, geskiedenis, geografie, stedelike studies (“urban studies”), traumastudies, Bakhtiniaanse teorie, kultuurstudies (met ’n fokus op identiteit) – om maar net enkele voorbeelde te noem – gebruik om literêre tekste te verstaan en in te bed in die groter wêreld buite die letterkunde om. ’n Kommentator soos Leon de Kock het by geleentheid gevra of die Suid-Afrikaanse literatuurstudie nie te veel fokus op “sexy topics” (soos stede, oseaniese diskoers, jazz, ens) en te min aandag wy aan die meer beskeie taak om die magdom nuwe literêre tekste wat in Suid-Afrika verskyn, te beskryf en te evalueer nie (De Kock 2009:25). Ook in sy Poolshoogte-bydrae verwys De Kock na sy gevoel dat dit “’n minderheidsaktiwiteit, ’n marginale, antieke spel geword het om suiwer letterkunde in Suid-Afrikaanse departemente van Engels te wil studeer en doseer”. Hoe geldig sy argument ten gunste van die beskeie, maar noodsaaklike, take van die literatuurstudie ook al mag wees, gaan die behoefte om literêre tekste te lees in terme van ’n steeds uitdyende spektrum van teorieë uit ander dissiplines as die suiwer literêre nie gou verdwyn nie. Die kruisbestuiwing tussen die literatuurstudie en ander dissiplines sal bly voortgaan.

Dus: daar is (gelukkig) nog baie werk om te doen.

Bibliografie

Damrosch, David. 2003. What is world literature? Princeton en Oxford.
De Kock, Leon. 2009. Judging New “South African Fiction” in the Transnational Moment. Current Writing,21(1&2):24–58.
D’haen, Theo. 2012. The Routledge Concise History of World Literature. Abingdon: Routledge.
Lionnet, Françoise en Shu-mei Shih. 2005. Minor transnationalism. Durham en Londen.
Moretti, Franco. 2000. Conjectures on world literature. New Left Review,1:54–68.
Spivak, Gayatri Chakravorty. 2003. Death of a Discipline. Columbia: Columbia University Press.
Vermeulen, Timotheus en Robin van den Akker. 2010. Notes on metamodernism. Journal of Aesthetics and Culture,2:1–14. Beskikbaar: http://www.aestheticsandculture.net/index.php/jac/article/view/5677/6304.
Wilson, Janet, Cristina ?andru en Sarah Lawson Welsh. 2010. Rerouting the postcolonial. New directions for the new millennium. Oxon: Routledge.

Keer terug na die aanlyn kongres om nog bydraes te lees.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top