Isaac George was 'n deurtrapte skelm met 'n kriminele rekord wat vir niks geskrik het nie. Dit het onder meer ingesluit gewapende roof, waarvoor hy die doodstraf opgelê is, maar wat – gelukkig vir hom – op appèl versag is. Die polisie van die Oos-Kaap, veral van Port Elizabeth, het hom met 'n seer hart gesoek nadat hy uit die gevangenis ontsnap het.
Op 'n Sondagaand aan die einde van Oktober 1983 het 'n polisie-informant die moord-en-roof-eenheid van Port Elizabeth meegedeel dat Isaac by sy ouerhuis in die woonbuurt Swide naby Port Elizabeth was. Daar was nie baie polisiemanne beskikbaar nie, maar ene kaptein Goosen het die viermanskap wat saam met hom by die polisiestasie was, geneem en hulle het afgesit na die adres in Swide. Die son was reeds onder, maar dit was darem nog lig.
Toe hulle by die betrokke adres aankom, het die polisie uitgesprei en die woonhuis omsingel. Kaptein Goosen en nog 'n polisieman het naby die agterdeur stelling ingeneem, terwyl 'n ander offisier met die naam Joubert en twee ander manne vóór om is. Joubert het sy Baretta-pistool uitgehaal en aan die voordeur geklop en dit oopgemaak. Hy het onmiddellik die voortvlugtige Isaac George in die sitkamer sien sit. George het opgespring en 'n pistool te voorskyn gebring wat hy na Joubert se bors gemik het. Joubert het sommer so van die heup af probeer skiet maar tot sy verbystering wou sy pistool nie afgaan nie, want dit was nog steeds op “veilig”. Hy het teruggespring, net betyds uit die pad van 'n skoot wat George op sy beurt afgevuur het. Die voordeur is toegepluk en 'n rukkie later het Joubert dit versigtig oopgemaak, maar gevind dat George nie meer voor in die sitkamer was nie. Joubert het weer versigtig uitbeweeg en die deur toegetrek. Iemand het dit van binne af probeer oopmaak, maar Joubert het dit vasgehou, want hy was bang dat dit dalk George was wat sou probeer ontsnap het met die hulp van een van die onskuldige inwoners binne-in die huis.
Kort daarna het George verskeie skote vanuit die binnekant van die huis geskiet. Een van Joubert se makkers het met die kolf van sy pistool talle ruite aan die voorkant van die huis stukkend geslaan en hulle het verskeie kere vir George beveel om homself oor te gee.
Nou verskuif die toneel na die agterkant van die huis. Jy sal mos onthou dat kaptein Goosen en 'n ander man dáár stelling ingeneem het. Hulle kon deur die kombuisvenster sien dat George binne-in die kombuis stelling ingeneem het. Hy het met 'n vuurwapen in sy hand die agterdeur genader. Die agterdeur is op 'n skrefie oopgemaak en die ander polisieman wat daar gestaan het – 'n man met die naam Strydom – kon George se profiel deur die skrefie uitmaak. Die deur is weer toegepluk, waarna Strydom drie skote deur die toe deur na die binnekant van die kombuis gevuur het. Hy het met opset laag gemik, omdat hy nie vir George wou doodskiet nie, maar hom net buite aksie wou stel sodat hy in hegtenis geneem kon word.
Agterna is vasgestel dat die eerste skoot wel vir George in die onderlyf getref het, maar: hy was nie die enigste persoon in die huis wat getref is nie. Op daardie stadium het George se jong sussie, Queenie, onder die kombuistafel weggekruip saam met 'n buurvrou, mev Vaaltyn, wat net voor die polisie by die huis van haar bure aangekom het om 'n paar aartappels by hulle te leen. Hulle albei is getref en die agtjarige Queenie se onderbeen is in die proses ernstig beseer. Nodeloos om te sê, die gewonde George is daarna in hegtenis geneem en ongetwyfeld vir 'n lang tyd opgesluit.
Toe die stof gaan lê het, het Queenie se pa 'n eis om skadevergoeding vir sy dogter se beserings teen die Minister van Wet en Orde, soos hy destyds bekend gestaan het, ingestel. Regter Jones van die hooggeregshof in Port Elizabeth het die saak verhoor.1
Die Minister se verweer was dat onderoffisier Strydom – wat die skote afgevuur het – nie onregmatig opgetree het nie, omdat hy besig was met 'n wettige poging om Isaac George in hegtenis te neem. Daar is ook aangevoer dat die skote in noodweer (of selfverdediging) gevuur is – nie alleen van die polisiemanne wat op die toneel was nie, maar ook die publiek in die algemeen, want jy sal onthou dat George wild en wakker uit die huis uit gevuur het.
Die hof het beslis dat terwyl die skote wat Strydom in die huis in afgevuur het, heeltemal wettig afgevuur is sover dit Isaac George betref het, dit nie noodwendig wettig afgevuur is sover dit Queenie en mev Vaaltyn aangegaan het nie. Die hof het opgemerk dat onderoffisier Strydom verskeie kere vantevore vir George by daardie huis gaan soek het en waargeneem het dat daar 'n hele klompie mense in die huis woon. Die regter was nie tevrede dat die skote in noodweer geskiet is nie, want die skote is geskiet nadat George reeds in die huis vasgekeer was. Een van die vereistes vir 'n suksesvolle beroep op noodweer is dat die mate van geweld wat toegepas word, in verhouding moet wees met die bedreiging. Met ander woorde: 'n mens skiet nie die spreekwoordelike muggie met 'n haelgeweer nie. Die hof het bevind dat Strydom se optrede deur in die huis in te skiet onredelik was, deurdat die redelike mens sou voorsien het dat onskuldige mense in die proses baie ernstig beseer en selfs gedood kon word. Strydom self het in die hof toegegee dat hy nie sou geskiet het as hy geweet het dat mev Vaaltyn en Queenie onder die tafel weggekruip het nie. Die hof was van mening dat dít 'n moontlikheid is wat hy redelikerwys moes kon voorsien het voordat hy geskiet het.
Die regter was dus tevrede dat Queenie se eis om skadevergoeding toegestaan moes word, en die bedrag wat toegeken is, was R2 500. In vandag se geld is dit waarskynlik tien, vyftien keer méér – wat weliswaar steeds min is vir 'n agtjarige meisietjie wat só erg beseer is.
1 George N O v Minister of Law and Order 1987(4) SA 222 (SECLD)

