Poetry in motion (of iets van die geaardheid)

  • 0

Die week in woorde

Vir my is April die afgelope jare sinoniem met die Two Oceans-halfmarathon. Voor jy ophou lees omdat jy dink ek gaan nou vir jou vertel watter louter vreugde dit was om Saterdag in die reën en gepaardgaande modder rond te ploeg, bult op en nog bulte op vir 21,1 km, kom ons fast forward tot by die einde: ek het nié gaan draf nie. Verlede jaar het ek gedink ek gaan dalk nie die eindpaal haal nie, vanjaar was my atletiese agteruitgang so konsekwent en aanhoudend dat ek dit nie eers tot by die wegspringplek gemaak het nie. Op wedloopoggend was ek veilig opgekrul in die ekstra bed by my ouers se huis, en die enigste oefening wat ek heeldag gedoen het, was om aan my Lindt-paashaas te kou. Njom njom.

As drawwer is ek ’n totale mislukking en dis meer as ’n bietjie depressing. Die enigste manier om uit die donker gat van middel-April-ek-is-mislik-en-onfiks-plus-dit-word-winter-blues te ontsnap, is om ’n totale paradigmaverskuiwing rondom die maand April te ondergaan.

Enter The Academy of American Poets. Dis dalk bietjie laat om dit nou agter te kom, maar blykbaar is April (ten minste in Amerika) National Poetry Month. Hierdie projek om poësie te bevorder is in 1996 deur die Academy van stapel gestuur en word wyd gevier deur skrywers, uitgewers, lesers, boekverkopers en sekerlik ook honde, katte, hase en voëltjies oral oor Amerika.

Ek reken daar is genoeg takke van McDonald’s in Suid-Afrika dat ons hier maar ook mag voordeel trek uit hierdie inisiatief. Dié dat ek gevoel het dis okay om ’n paar blink planne van die Poets.org-webwerf af te leen ... Hier is een idee om poësie te vier en deel van jou lewe te maak vir elkeen van die oorblywende 18 dae van April:

Lees ’n digbundel

Daar het vanjaar al lekker baie nuwe bundels in Afrikaans verskyn. Maar dit hoef ook nie ’n nuwe een te wees nie! Gryp enige bundel op jou rak en raak aan die lees.
Memoriseer ’n gedig

Maak of jy weer op skool is en leer ’n vers of wat uit jou kop uit. Sodra jy dit gememoriseer het, is dit joune ... ten minste tot jy jou kop verloor.

Sit ’n poem op die pavement

Gryp ’n stuk bordkryt en skryf jou gunsteling-gedig op die sypaadjie. Chalk is cheap en dis ’n maklike manier om publieke kuns te skep en onskuldige wandelaars op die sypaadjie aan die eietydse digkuns voor te stel.

Herbesoek ’n ou gedig

Dis amper soos jou maandelikse charity-besoek aan die ouetehuis, net makliker. Gaan soek weer ’n ou gunsteling op en bond soos in die ou dae.
Dra ’n gedig voor

Ek onthou my voordrag van ’n versie by die Zululand Eisteddfod in 1991 asof dit gister was. "Daar woon ’n akkedissie in die ghoenarank/ wat eet ’n akkedissie/ en wat is sy drank?" Verras jou vriende, geliefdes of ’n vreemdeling op straat met ’n spontane voordrag.
Sit ’n gedig in jou gatsak

Kyk op Poets.org se webwerf vir meer inligting oor “Poem in your pocket Day”. Daar is ook verskeie gedigte wat jy kan uitdruk om in jou sak te druk en te versprei. Of fotostateer een uit jou gunsteling-bundel.

Reël ’n voorlesing of woon een by

Klim op Google en vind uit of daar ’n voorlesing in jou omgewing plaasvind in April. Indien nie, reël een. Al wat jy nodig het, is ’n paar stoele, iemand wat lus het vir hardop lees en ’n paar wat hou van luister. Sit ’n paar snackies by en jy't ’n maandelikse instelling!

Kyk ’n digterlike film

Neem Il Postino uit, of Dead Poets Society. Of Sylvia of Howl of enige ander film wat oor ’n digter gaan of deur die digkuns geïnspireer is. Klik hier vir ’n lang lys voorstelle.

Deel ’n gedig op ’n onverwagse plek 

Plak ’n gedig agter die toiletdeur by die werk of los ’n stapeltjie by die ingang van die gym. Los een saam met die fooitjie by ’n restaurant of skryf een met koki op die sonskerm wat jy voor in jou kar los.

Lees resensies en onderhoude

Gaan grou sommer op LitNet se argief rond en lees wat dink digters en wat dink die kritici van hulle werk.

Begin sommer hier.

Sit ’n gedig in ’n brief 

Jy moes waarskynlik lankal vir jou ouma of die ontvanger van inkomste of jou vriendin in die buiteland geskryf het. Sluit ’n gedig by die brief in. Hel, sit sommer ’n gedig onder aan elke e-pos wat jy vandag uitstuur!

Skryf ’n brief aan ’n digter

Geen ouma of vriendin in die buiteland om aan te skryf nie? Skryf vir ’n digter ’n lekker brief vol komplimente oor sy of haar skryfsels. Of teken ’n olifant en vra moeilike vrae. Hoe ook al, miskien kry jy ’n kwatryntjie terug in die pos, of ’n lang epistel op rym.

 Teken in op ’n literêre tydskrif

Daar's nou ’n plan! Dis nie eintlik duur nie en jy sal lekkerder daaraan lees as aan people magazine. Oorweeg sommer dié een om mee te begin of Google vir nog opsies.

Skryf in vir ’n poësie-skryfskool of werkswinkel

Daar is verskeie mense en instansies wat slypskole aanbied. Hou LitNet se skryfsake-afdeling dop vir inligting of laat Google jou bystaan.

Begin ’n "commonplace book"

Klik hier vir meer inligting oor hierdie selfdoen-projek.

Laai ’n poësie-app af

As jy ’n slimfoon het, gaan soek vir jou ’n poësie-app om af te laai. Gaan kyk sommer hier vir voorstelle.

Speel Exquisite Corpse

Dis maklik. Maak ’n paar makkers bymekaar, en skryf elkeen ’n reël by, sonder om te kyk wat die vorige persoon geskryf het. Die resultaat kan jy altyd later op die sypaadjie gaan neerskryf (sien punt 3) of agter die toiletdeur by die werk gaan plak (sien punt 9).

Neem ’n gedig saam met jou middagete

Sit ’n gedig in jou eie of jou geliefde se kosblik. Of e-pos een oor jou etensuur. Of sit onder ’n boom met jou grondboontjiebotterbroodjie en verlustig jou in die woorde van die digters van ons vaderland.

Jy kan self na die ander voorstelle op Poets.org gaan kyk, en jou eie blou-April in ’n vreugdevolle fees van poësie omskep. Ek is op my merk en gereed om dié maand poetry in motion te sit ... al is dit dan al wat beweeg tot ná die winter. Dit en my kake. Njom njom.

 

Gedigte op LitNet

Klik hier vir alle nuwe poësie op LitNet.


 

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top