onthou jy nog Queens Crescent
ver bo ons vuurmaakplek?
die American Ashwortels wat
die stoep opgelig het
die hobbels wat ons ooleef het
die borde teen die muur?
of het jy vergeet van
gruisklippertjies wat onder voete knars
die saailingsirkel om die engelharp
die kruikfontein se gisters
die muskiet se byt?
ruik jy soms nog die soet jasmyn
wat deur my rank
die gekneusde mint?
of is dit net ek wat nog
die geklots-klots van die leivore hoor
op Stellenbosch?


Kommentaar
Ek sit hier in die buiteland. In Florida, in die vreemde bedompige warmte van 'n land wat nie Afrikaans praat of verstaan of voor omgee nie. Fast-food alles en on-demand orals. Hierdie gedig het my laat verlang en, vir 'n oomblik, tuis gebring. Dankie
Lieflike gedig Marthe. Ons taal praat hartlangs.