Ek het eers op sy oudag werklik met Paul Viljoen kennis gemaak, al het ek hom van kleintyd af van sig geken. Ons het in dieselfde Karoo-distrik grootgeword, en op ’n klein dorpie weet die kinders altyd van die grootmense, veral as die ander grootmense oor hulle praat.
Die eerste storie wat ek my herinner, is toe die aansienlike jong boer uit ’n uithoek aan Graaff-Reinet-kant van die distrik met ons kuns- en spesialeklasonderwyseres getroud is: Mattie Malan uit die Paarl-omgewing het nogal koppe laat draai en tonge laat klap met haar byderwetse voorkoms en onbevange optrede en uitsprake. Ons juffrou is toe aan oom Paul se sy weg Perdefontein toe. En toe, ’n klompie jare later, trek die egpaar met ’n handvol blonde koppies terug dorp toe, slaan die ou “polieskamp” op die hoek oorkant ons tuishuis plat en laat verrys ’n pragtige moderne huis en tuin daar langs die Ongersrivier. Oom Paul, hoor ons kinders, goed opgeskoot teen dié tyd, het sy plaas verkoop en belange by ’n garage op die dorp verkry. Maar die siertuin was net mooi gevestig, toe verhuis die gesin Stellenbosch toe, waar hy tot almal se allerverbasing in die regte begin studeer en later as prokureur gepraktiseer het – ’n droom, blyk dit, wat nie vroeër bewaarheid kon word nie: daar was nie geld nie en toentertyd het ’n boerseun min of meer vanselfsprekend gaan boer en daarvoor was boekgeleerdheid nie nodig nie.
Daarmee het die gesels oor Paul Viljoen opgedroog, en as daar wel nog berigte was, sou hulle my nie bereik het nie, want ek is kort daarna self ook weg uit Richmond. Toe op ’n goeie dag, so vier jaar terug, lui die telefoon en dit is Paul Viljoen. Oom Paul, stel hy hom bekend, want sy beeld van my moes sekerlik nog dié van die ronde tweede dogtertjie van Tol en Hannah van der Merwe gewees het waar sy soet saam met hulle in die voorste kerkbank oorkant die diakens sit. Hy het ’n manuskrip, vertel hy, wat John Kannemeyer, saam met wie hy gym, voorgestel het hy aan my as ouduitgewer moet wys. Sal ek daarna kyk?
En met die lees van die manuskrip, netjies ingebind, maak ek vir die eerste keer met die werklike Paul Viljoen kennis. Maar ook nie volledig nie, want Richmond, Karoo – die goeie, die slegte en die snaakse gaan in die eerste plek, soos die titel dit duidelik stel, oor sy geboorteplek en die streek waar hy sy eerste dertig jaar plus deurgebring het. Nie oor homself nie. Hy is wel die lens waardeur die dorp se kleurryke geskiedenis, die storie van sy eie voormense en grootwordjare geprojekteer word, baie soos toentertyd se flikkerende selluloïed-filmstroke waarvan hy vertel. Dit is sý stem wat jy as leser hoor, en die werklikheid wat hy oproep, is gefilter deur sy unieke ingesteldheid en belangstellings. Dus, al staan hy meestal as waarnemer op die agtergrond, ontduik jy as leser nooit die sterk teenwoordigheid van iemand wat met groot mensliewendheid, erbarming, insig, intelligensie – en veral humor – terugkyk na ’n tyd wat nie meer bestaan nie. Dit is nie ’n nostalgiese blik nie, eerder een van verwondering en agterna genot.
Want die lewe van klein Paul – ’n onverklaarbare naam, want sy doopname was Johannes Hendricus – was, gemeet aan eietydse standaarde, nie maklik nie. Sy pa moes hard werk om die plaas wat hy gekoop het, af te betaal; daar was nie geld nie vir luukses nie en die aankoop van ’n eerste draadloos was ’n onvergeetlike hoogtepunt. Elkeen moes sy kant bring, ook kleinboet en sy twee sussies, en om te bespaar is Paul sommer voortydig dorpskool te gestuur en in dieselfde klas gesit as die 14 maande ouer tweede sussie. Daardie dae het plaaskinders gedurende die skoolkwartaal by gewone gesinne op die dorp loseer, dikwels by ’n weduwee- of oujongnooitante. Al wat Paul van die eerste maande weg van die huis onthou, is verwarring en ’n knaende honger en intense verlange na sy ma, ’n sagte, simpatieke vrou wat self met die verlange na haar Bolandse familie moes saamleef.
Maar vir die materiële skrapsheid is ruimskoots vergoed deur die huislike geluk en wete dat jy eerbaar leef. En natuurlik deur die pret en plesier wat mense in ’n dunbevolkte wêrelddeel aan mekaar het en die stories en staaltjies wat hulle vertel.
Dit is jammer dat Paul Viljoen net een boek geskryf het, want sy kennis en begrip en herinneringe aan die Karoo voor hy ontvolk en ontvonk geraak het, was onuitputlik, en sy vertelstyl uniek. Die geluk is dat hy wel Richmond, Karoo – die goeie, die slegte en die snaakse geskryf het, en dat hy dit gedoen het met die beleënheid wat ’n lang en vol lewe gebring het.
Toe ek hom van nader leer ken en ophou “Oom”, het die eens fier en mooi man met skuifelende stappies beweeg. Gelukkig het die beroerte geen uitwerking op sy helder verstand, verbysterende geheue en humorsin gehad nie. Om die manuskrip vir hom te kon versorg en te help uitgee, was ’n rare voorreg. Lank mag hy voortleef in die kleinood wat hy nagelaat het.

