Suid-Afrika staan voor ’n keuse met betrekking tot die tipe politiek wat dit wil bedryf. Die een opsie is om die vlak waters van die spreekwoordelike politieke see te geniet waar julle mekaar met water kan natspat, kan rondhardloop en allerhande soorte speletjies kan speel, na Ma en Pa toe kan hardloop wanneer die baljaardery te rof raak, maar die heel beste sandkastele kan bou wat later deur die inkomende gety weggespoel word.
Die ander opsie is om te leer swem en die diep waters aan te durf waar ’n mens die dieptes van die oseaan kan verken, vis kan vang, branderplank kan ry, of ten beste ’n professionele diens soos lewensredding te kan lewer.
Die onlangse oproer in die parlement is, jammerlik, simptomaties van ’n kultuur van “vlak water”- of oppervlakkige politiekery wat die kultuur van “diep water”- of visioenêre politiek, aangedryf deur die waardes en ideale van ons nasionale grondwet, vervang het.
Dis nie slegs sandkastele bou wat die norm in die parlement geword nie, maar ook die mees afskuwelike gedrag en uitings deur verkose verteenwoordigers. Ons het inderdaad ’n laagtepunt bereik waar die parlement beset word deur boewery, fisieke mishandeling en verwydering van parlementariërs, disrespek vir parlementêre reëls en gedragskodes, blote ongeskiktheid, barbaarse gedrag en blatante disrespek vir die kiesers deur die verontagsaming van verslae oor die misbruik van belastingbetalersgeld deur diegene wat geïmpliseer is. Dit is “vlak water”- of oppervlakkige politiekery op sy beste.
Om in die diep waters van die politiek te kan swem vereis ’n sekere mate van fisieke en verstandelike fiksheid, toewyding aan ’n daaglikse oefenroetine, ’n mededingende eienskap en “kan wen”-ingesteldheid, maar bowenal ’n skerp bewustheid van die gevare wat in die diep waters van die politieke see skuil. Met ander woorde, nie slegs ’n hoë vlak van aanspreeklikheid om jou eie veiligheid te verseker nie, maar ook dié van geliefdes wat angstig op jou veilige terugkeer wag. Om veilig terug te keer na die kus moet dus geweldige bevrediging, selftrots en beloning inhou vir die enkeles wat hulle op so ’n missie begeef.
Om in die vlak waters te speel vereis geeneen van bogenoemde nie, en ons huidige politieke diskoers en kultuur is hiervan ’n juiste aanduiding. Geen werklike toewyding om fundamentele kwessies te takel wat ekonomiese groei aandryf wat instrumenteel is tot die aanspreek van maatskaplike geregtigheid nie. Geen diepgaande betrokkenheid by diegene wat instrumenteel is in die bevordering van ekonomiese groei nie. Geen werklike ontwikkeling van ’n plaaslike en nasionale omgewing bevorderlik vir investering en ekonomiese groei nie. Geen werklike poging om politieke ampsdraers aanspreeklik te hou en om korrupsie en gebrek aan dienslewering vas te vat nie.
Dit hou nie slegs ’n ernstige bedreiging in vir ons grondwetlike demokrasie nie, maar besoedel elke politieke laag van die samelewing. Sodanige besoedeling plaas ons op ’n glybaan na burgerlike konflik en ekonomiese ontbering. Suid-Afrika het dus ’n ernstige behoefte aan diepwater politieke en sosio-ekonomiese leierskap om ons mense tot groter hoogtes en dieptes te lei en te inspireer. En dit word reg bo benodig.
Op hierdie vlak het ons visioenêre en dienende staatsmanskap nodig wat verbind is tot die waardes en ideale van ons nasionale grondwet. ’n Goeie aanduiding in hierdie verband is die jaarlikse staatsrede wat in wese ’n visioenêre standpuntstelling is van ’n ideale toekoms en wat reflekteer op die staat se huidige politieke en sosio-ekonomiese werklikhede. In die teenwoordigheid van Jan en alleman sou mens ’n eerlike en omvattende evaluering van die land se prestasies verwag, maar meer nog, van die sosio-ekonomiese uitdagings en die oplossings wat dit vereis. Belangriker egter is dat die staatsrede as ’n templaat dien vir alle regeringsfere en dat dit die denke, woorde, aksies, gewoontes, waardes en die uiteindelike bestemming van die plaaslike, provinsiale en nasionale regering en alle verwante staatsbeheerde ondernemings beïnvloed. Einstein herinner ons herhaaldelik daaraan dat “setting an example is not the main means of influencing another, it is the only means”. ’n Onderliggende beginsel wat die moeite werd is om in gedagte te hou by die lewering van die staatsrede.
’n Mens sou dus verwag dat die staatsrede heel eerste aandag sou skenk aan die yslike bedrag aan staatsbronne wat aan die Staatspresident se privaatwoning bestee is. Hierdie geloofwaardigheid en integriteit van die hoogste amp in die land verkeer in ernstige gevaar en ’n duidelike en eerlike verklaring en gewilligheid om aanspreeklikheid te aanvaar kon die verleentheid tydens die onlangse opening van die parlement verhoed het.
Nog ’n ernstige bekommernis is die verslegtende toestand van die Suid-Afrikaanse ekonomie. Gelukkig is van die kwessies in hierdie verband omvattend aangeraak, dog op ’n simptomatiese vlak.
Die meriete van die negepunt ekonomiese plan en aksies gemik op: die oplossing van die energie-uitdaging; vernuwing van die landbou en die agroprosesseringswaardeketting; bevordering van benefisiasie of waardetoevoeging tot ons minerale rykdom; effektiewer implementering van ’n industriëlebeleidsaksieplan met ’n groter impak; aanmoediging van privaatsektorinvestering; tempering van konflik in die werkplek; ontsluiting van die potensiaal van KMMO’s, koöperatiewe, township- en landelike ondernemings; staatshervorming en verbetering van die rol van staatsbeheerde maatskappye; infrastruktuur en die uitrol van breëband-, water-, sanitasie- en vervoerinfrastruktuur; en Operasie Phakisa gemik op die uitbou van die marine-ekonomie en ander sektore kan nie weerlê word nie. Dit is egter vlakwaterkwessies wat elke jaar in een of ander vorm sal voorkom en bevorder sal word as die wondermiddel vir die ekonomiese uitdagings wat ons in die gesig staar. Dit takel egter nie die fundamentele kwessies wat verband hou met die balans van jaarlikse produksie en verbruik wat instrumenteel is in die totstandbringing van ekonomiese welvaart of agteruitgang en die onderliggende ideologie waardeur dit gedryf word.

Adam Smith skryf in hierdie verband meer as ’n eeu gelede in sy boek Wealth of the Nations die volgende waarheid, wat van onskatbare waarde is: “If the exchangeable value of the annual produce exceeds that of the annual consumption, the capital of the society must annually increase in proportion to the excess. The society in this case lives within its revenue, and that what is annually saved out of its revenue, is naturally added to its capital, and employed so as to increase still further the annual produce. If the exchangeable value of the annual produce, on the contrary, falls short of the annual consumption, the capital of society must annually decay in proportion to this deficiency. The expense of the society in this case exceeds its revenue, and necessarily encroaches upon its capital. Its capital, therefore, must necessarily decay, and together with it, the exchangeable value of the annual produce of its industry.”
Inderdaad ’n diepwater ekonomiese waarheid wat veel dieper denke en betrokkenheid verg en uiteindelik ’n nasie wat ’n keuse uitoefen vir die mees pragmatiese ekonomiese en politieke ideologie. Ons is inderdaad by ’n kruispad, gegee die huidige voorspelling van BBP-groei van 1,4%, die lae opbrengs op bates deur staatsbeheerde ondernemings, die voortgesette oproep om meer en meer belastingbetalersgeld om tot hulle redding te kom, hoë werkloosheid, die lok van kapitaalinvloei en werklike investering, staatskuld, infrastruktuur en dienslewering, sowel as ons begroting en huidige rekeningstekorte.
’n Keuse moet derhalwe gemaak word. Dis óf baljaar in die vlak water óf swem in die diepsee. Dis óf boewery en selfverryking óf voorbeeldstelling en voorsiening in andere se behoeftes. Dis óf eerlike, sorgsame en visioenêre politieke en besigheidsleierskap óf voortsetting van korrupsie en selfverryking. ’n Keuse tussen die skep van ’n probesigheidsbeleidsomgewing en koestering van antibesigheidsentimente. Tussen die bou van sandkastele wat weggespoel word wanneer die gety inkom en die bou van infrastruktuur wat bevorderlik is vir mens- en ekonomiese ontwikkeling. Tussen die verhoging van Suid-Afrika se jaarlikse produksie deur die aanwending van ons eie sowel as buitelandse kapitaal en onverantwoordelike besteding en wegkalwing van kapitaalwaarde.
Uiteindelik kom dit neer op rigiede ideologisme, radikalisme en rassekonflik, die vlakwatersake teenoor aanpasbare pragmatisme, vernuwing en sosiale kohesie, die diepwatersake. Die keuse is eenvoudig.

