Vir Christiaan
Anonieme rekwisiete:
generiese meubels, matte, vase.
In geykte poses geskiet:
wanneer die gymbroek
afgly is jy reeds styf.
Begeerte op aanvraag.
Agter teen die muur:
’n raam met vlinders
agter glas. Alles variasies op:
Te kort jou skoonheidsduur.

