Oppikoppi 2013: 'n Skalpel in die vorm van 'n strydbyl

  • 0

"Elke kleur en geur"

Wat maak Oppi régtig spesiaal? Miskien is daar soveel antwoorde as wat daar feesgangers is (ongeveer 20 000). Dis ’n moerse party en ’n trip en ’n pelgrimstog, ja. Maar sekerlik gaan dit in die eerste plek tog oor die musiek. Elkeen van my Koppi's het spesiale musikale verbintenisse.

Soos my (skyn)maagdelike jaar, Wired in 2005, toe veral Rooibaardt (onthou julle nog Rooibaardt?!) en 340ml my benewelde brein oorweldig het. Of 2007 se Way of the Dassie, toe Max Normal (vervloek is Die Antwoord – sies ga poe!) se geesverhewende kletsrym my siel uit my liggaam gelig het voor die Gito Baloi stage, en ek Young Blood Brass Band ontdek het. Die Vusi Mahlasela tribute, David Kramer tribute. Toe ek verlede jaar fricken Eagles of Death Metal gesien het. So kan ek lank aangaan.

Oudergewoonte is ek en my mede-veterane Woensdag al deur. Ons het al mooi geleer dat dit absoluut noodsaaklik is om ’n behoorlike fondasie te hê indien jy 1) die fees in een stuk gaan oorleef en 2) die absoluut meeste plesier daaruit wil (kan) put. Na ons kamp opgeslaan het en die Bosveld-hitte met ’n paar biere afgeweer het, gaan stap ons ’n draai. Die hekke na die stages, die oase van Oppi, is nog nie oop nie. Die ablusie-area lyk wel groter en beter uitgelê as vorige jare. Die drukgang waaroor ek verlede jaar geteem het, is nou netjies in sement gelê en lyk aansienlik beter. Oppikoppi was besig gewees dié jaar (dankie daarvoor, mense).

Donderdag word fondasie – belangrik, onthou – vir die dag in die vorm van ontbytbier, bacon, toast en eiers (ek het hierdie jaar ’n gasbraai gebring, ou maat) gelê. Daarna is dit oase toe. Hier word daar in die skadu op die gras gechill, ou bekendes raakgeloop, gekuier. Weer gesien is dit al na 16:00. Ons wil nie Jet Black Camaro misloop nie. Hulle stel ook nie met hulle lekker vuil blues teleur nie. Op ’n stadium word daar ’n blues rock reëndans gedoen, met ’n American Native beeldjie en als. Dis nie lank nie of piepeklein druppels begin val. Holy. Shit. Reën by Oppi is absoluut ongeken. Ongehoord. Ek is terselfdertyd in absolute verwondering en verborge vrees – as dit hier moet reën sal daar (mal, vuil) perde wees.

Jet Black Camaro kort voor die waters geroep is. Let op die magiese Indiaan wat hiervoor verantwoordelik was.
Foto: Lindie Erasmus

Kidofdoom se set is ook lekker. Baie atmosferies. Iets val my by, alhoewel ek dit eintlik al on(der)bewsutelik vroeër opgemerk het – die visuals op die screens agter die bands is bedonnerd goed gedoen. Oppikoppi het regtig gestep up wat production in alle vorme aanbetref. Die klankprobleme wat baie mense (geregverdig) verlede jaar dwars in die krop gesteek het, blyk ook iets van die verlede te wees. Wat hier aangaan is die room van die plaaslike industrie wat op internasionale standaard aangebied word.

Ek sweer ek het nog nooit ’n Koppi bygewoon waar Pestroy nie opgetree het nie. Hierdie jaar launch hulle ook hulle jongste album, The Speed of Dark, by die fees. Dié ouens was nogal altyd goed in wat hulle doen, maar hierdie jaar se vertoning is op ’n ander, verbysterende standaard. Ek vergaap my so aan hoe tight die ouens is dat ek op stukke vergeet om te mosh. Hier het jy ’n scalpel in die vorm van ’n strybyl.

Pestroy besig om gat te skop.
Foto: Lindie Erasmus

Black Cat Bones is, soos verlede jaar, weer vir my ’n hoogtepunt. Hierdie ouens se live shows is a thing of terrible beauty. Die ouens se blues funk rock ruk jou aan jou hare rond, ek kan nie onthou wanneer laas ek so lekker gedans het nie. Ek dink by myself dat hierdie waarskynlike die naaste is wat ek ooit sal kom aan die ekwivalent van Rage Against the Machine live sien. Toe hulle met RATM se cover van Bruce Springsteen se "The Ghost of Tom Joad" afsluit dop my oë in my kop om van lekkerkry. Dat daar sulke legit musikante in ons land is vul my met ’n warm gevoel waaraan die koue naglug niks kan doen nie.

So lief as wat ek vir Fokofpolisiekar is, besluit ek om eerder nie my musikale high met wat ’n hoogs voorspelbare show sal wees te meng nie. Ek is een van die grootste Fokof-fans, en uit hierdie liefde sê ek die volgende: Dis nou 10 jaar later, en ja, ons kan apatie spel. Uitspel. Ek het Fokof al so baie gesien dat ek nie meer, buiten vir tieneragtige nostalgie, opgewonde oor hulle kan raak nie. Ek hoor later hulle het toe actually ’n nuwe song opgevoer. Na aanleiding van die liriese inhoud daarvan kan ek nie sê dat ek oortuig is dat daar nuwe lewe in die groep is nie (miskien het te veel Barnyard shows hulle fut uitgehaal?). My wenkbrou bly skepties.

Kobus point iemand wat vir een of ander verklaarbare rede nie dans nie.
Foto: Lindie Erasmus


"Hy't nou weer al sy shit verloor"

Ek word Vrydagoggend wakker met reën wat op my tent drup. Jet Black Camaro se Indiaanse karma hang duidelik nog in die lug rond. Dis egter so sag dat dit die hitte bietjie tem en die stof effens in plek hou. ’n Mooi teken. Daar word weer fondamente vir die dag gelê, waarna die boonste verhoë bietjie bespeur word.

Die Paperslam-kunsuitstalling is hierdie jaar heel fancy aangevul met ’n wyn en pizza restaurantjie. Cute. (Die kuns is wel cool.) Die boonste bar is ongelukkig oorvol; ek wil bitter graag Albert Frost kyk, maar dit is darem net té druk. Dit voel ook bietjie ... elitisties hier (ek dink spontaan aan I'm Designer). Ons gee die stryd gewonne en besluit om lekker plek vir Goodnight Wembley te gaan kry. Dié supergroup stel ook nie teleur nie – daar is min foefies, dis lekker heilsame rock ’n roll.

Goodnight Wembley wys hoe anthem rock (met integriteit) gedoen word.
Foto: Lindie Erasmus

Ou gunsteling Fuzigish is volgende aan die beurt. Ek is veral beïndruk met hulle lekker old school setlist (ons kry onder andere "Skanker's Union" en "Little Bird") en hoe lekker die gehoor saam sing en dans. Die mense kén hierdie werk. All in all is dit ’n bitter lekker vertoning, alhoewel dit tog voel asof hulle bietjie "oomf" verloor het met die afwesigheid van Ampie Omo.

Tussendeur die rondslentery van verhoog tot verhoog sien ek hoe die Bewilderbeeste die diverse musikale aanbieding van Koos Kombuis tot Zakes Bantwini en Mi Casa terdeë geniet. Werklik ’n plek vir "elke kleur en geur", soos vriend Dane sê. Die res van die land moet dalk bietjie ’n ogie kom gooi om te sien hoe nasiebou gedoen word – hier word daar nie gestrewe na ’n nuwe, nierassige Suid-Afrika nie, dis reeds hier1.

Ek kom voor die Dome stage te staan om Shadowclub te sien. Ek moet bieg dat ek hulle glad nie ken nie. Ons staan en spekuleer oor die band, is hulle nie een of ander "poppy" rock band of so nie? Alles behalwe – hulle maak baie netjiese blues rock met deeglike vleis om die bene. Hulle speel ’n lekker stuk verblydende Rage as interlude. Dis die soveelste blues heavy opvoering vir die naweek; is dit toevallig? Hierdie bloubewilderbees kla geensins.

Bittereinder is weereens ongelooflik. Ek is totaal en al subjektief as dit by dié kêrels kom. Om ’n lang storie kort te maak dink ek hulle is fokken geniaal. Dit is al. Ek is mal oor hulle aesthetic en ek dink Jaco van der Merwe is een bedonnerde digter. Sy lirieke dra op hierdie meer "volwasse" stadium van my lewe die gewig en waarde wat Hunter Kennedy s’n destyds in my meer ... adolessente dae het. Die aanslag van oorweldigende klank en lig (die groot screens word natuurlik ook hier tot besonderse effek gebruik) is bitter indrukwekkend. Die groot skerm word weereens meesterlik ingespan vir die visuals; dit bind die hele aanslag tot afgeronde eenheid. Weereens indrukwekkende kwaliteit produksie van die kunstenaars én organiseerders af.

Jack Parow daag toe wel vir sy vertoning op – wie sou kon raai!

Bittereinder se bassbeeste.
Foto: Lindie Erasmus

"We're in Africa, right?"

Saterdag is ’n groot dag. Defontes lê aan die einde daarvan. As mense volgens die foto's op Facebook moet oordeel is die local bands net so opgewonde soos die feesgangers oor dié vooruitsig. Eerste show van die dag is Guanaco (Google vertel my nou ook dis die naam van ’n tipe lama). Op pad daarheen het ons geen idee wie of wat om te verwag nie, maar Oppi het die gewoonte om mens aan awesome musiek bloot te stel waarvan jy andersins nooit sou kon kennis dra nie. Op die einde van die dag is Guanaco ’n reggae/hip hop band van Ecuador. Weereens word RATM in die gees geroep; as hulle nie so pissed was oor sosiale ongeregtigheid nie, bietjie rustiger was en bietjie meer Latin flow gehad het, het Guanaco nes hulle geklink. Dis regtig lekker musiek en ek voeg dit met ’n breë glimlag by my lysie van "Cool Buitelandse Bands Waaraan Oppi My Blootgestel Het En Waarvoor Ek Baie Dankbaar Is".

Die ouens van Ecuador het bietjie fuego onder ons kom maak.
Foto: Lindie Erasmus

ShortStraw se show is ook belaglik lekker. Ek dans my bene af. Toe ek agter my kyk is ek verstom deur die gehoor wat hulle getrek het. Almal geniet hulle gate uit.

Toya Delazy maak nie juis my tipe musiek nie, maar die crowd geniet haar. Daar is niks fout met haar optrede nie. Die video production en graphics agter haar is so legit dat dit haar soos Alicia Keys laat klink en lyk (wat seker goed én sleg is). Voordat sy met ’n cover van Kings of Leon se "Use Somebody" wegval glimlag sy half verleë en noem dat sy dit deels in haar moedertaal gaan doen. "We're in Africa, right?". Ja, Toya, baie beslis.

Die sonsondergang wil vir my soos ’n Bosveld-weergawe van Palms (Chino Moreno se nuutste side-project) se album cover lyk...

Nè?
Foto: Lindie Erasmus

So opgewonde as wat almal oor Deftones is, is Mango Groove net ’n kortkop agter. Die crowd hier is massief; die oorgrote meerderheid van die plaas is beslis hier om tannie Claire en kie te sien. Daar is net goeie dinge van hierdie vertoning te sê – jy moes daar gewees het. Dit was miskien vir die band meer van ’n nostalgiese trip down memory lane as vir die toeskouers. Tannie Claire het verskeie kere skoon emosioneel geraak oor hoe hard die Bewilderbeeste saamsing en dans.

Na Mango Groove is ons voor teen die tralies; ek gaan nêrens heen totdat Deftones voor my verskyn nie. The Narrow se show is great, maar my aandag is ietwat te afgetrek om dit ten volle te waardeer. Ek het net een ding op die brein.

Foto: Lindie Erasmus

’n Groot skerm met ’n meisie op ’n perd (’n still uit die video vir "Swerve City" ) met die woorde Deftones word agter die instrumente gesak. Ek raak skoon angstig. Ten einde laaste breek die groot oomblik aan. Al my geestelike voorbereiding hiervoor was tevergeefs. Die brutale hardheid en genuanseerde teerheid wat vir my kenmerkend van Chino-hulle is oorweldig my. Toe hulle "Rosemary" speel pink ek skaamteloos ’n traan.

Die groep se sinergie is onbeskryflik. Daar word in die middel van ’n song gebreak, Chino sweep die skare op, mens vergeet al amper dat jy in die middel van ’n song is. Skielik val die hele band sonder die vaagste teken aan mekaar weer met ’n kakharde refrein weg. Die voorsanger spring ’n paar keer van die verhoog af, mik crowd se kant toe. Die sekuriteitsbeamptes probeer hom so half keer, maar hy het nie’n saak nie. Die mense moet eerder vir hóm bang wees, dink ek by myself, wanneer hy soos ’n haai in die gangetjie na ons aankom. Hy spring oor die reëling, word agter die relings deur die desperate beamptes vasgehou, voor deur die fanatiese religieuses in die lug gehou. Chino gil sy kenmerkende gil oor, op, die skare. ’n Opswepende preek wat my hoendervleis gee.

Frontman van formaat.
Foto's: Lindie Erasmus

Na die afloop is ek binne en buite windstil. Hier moet eers verwerk word. Sondag, na ’n stort en ontbyt het ek bietjie tyd om te dink. Ek het die naweek soveel ongelooflik goeie musiek van puik gehalte gesien. Maar, besef ek, Oppikoppi gaan nie nét oor musiek ne. Dit gaan ook oor organisering. Die bloed en sweet wat in hierdie fees ingaan is mind boggling. Ek kan nie eers begin indink wat ’n onbegonne taak dit is om so fees, van so omvang en sulke kwaliteit en met soveel vrede, aan te bied nie. Die afgelope ses jaar kon ek natuurlik sien hoe Oppi groei, maar wat ek hierdie jaar beleef het getuig van ’n hernude, eksponensiële dryfkrag. Die stages, klank en veral graphics en video production was puik. Die fees was vir my al selde so skoon en gestreamline, en die ablusiegeriewe word by die jaar beter.

Ek het nog nooit so goed, so sterk na ’n Oppikoppi gevoel nie. It takes it out of you, en gewoonlik is ’n post-Koppi-Sondag iets apokalipties. Nie dié jaar nie. Ek voel geïnspireerd. Gefokus. Lús vir die lewe. Ek voel bedonnerd, en (die organiseerders van) Oppikoppi kan ook – julle verrig iets belangrik, beelskoon en van blywende waarde. Oppikoppi se mission statement word, deur hulle self, in die argitek Daniel Burnham se woorde saamgevat:

Make no little plans. They have no magic to stir men's blood and probably themselves will not be realized. Make big plans; aim high in hope and work, remembering that a noble, logical diagram once recorded will never die, but long after we are gone will be a living thing, asserting itself with ever-growing insistency.

Hulle het duidelik die vermoë en drif om daad by woord te voeg. Kudos, Koppi!

 


1 Ek sê nie daar is nie hier en daar onkundinge poepolle in die gewaad van "boere" of rock jocks nie. Maar hier is 98% van die feesbevolking gelukkig, vreedsaam en bedagsaam teenoor mekaar – ongeag enigiets.

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top