Open Book 2013: Honger vir misdaadfiksie

  • 0

Op die verhoog van die Fugard-teater sit van die grootste name in die Afrikaanse spanningsfiksiebedryf: Deon Meyer, Karin Brynard, Kerneels Breytenbach en ‘n nuweling in hierdie genre, Ilza Roggeband. Die geleentheid is Honger vir misdaadfiksie by die Open Book-fees 2013.

Etienne Bloemhof, hoof van Quellerie-uitgewers, het die gesprek gelei. Die eerste vraag is ook die brandende vraag waarop almal die antwoord wil weet: “Skryf en lees Suid-Afrikaners so gretig misdaadfiksie omdat die misdaadsyfer in die land so hoog is?”

Deon Meyer dink nie so nie. Om te skryf oor dinge wat saak maak, en oor brandende kwessies, hou eerder verband met 'n groeiende demokrasie en nie noodwendig met 'n land se misdaadstatistiek nie.

Almal op die verhoog is dit eens: Deon Meyer het die deure vir Afrikaanse misdaadfiksieskryf geopen. Geeneen wat die geleentheid bywoon, kan byhou om al die aanhalings uit sy mond neer te skryf nie. "'n Misdaadroman is, soos enige roman, 'n verhaal met 'n geloofwaardige hoofkarakter met wie die leser identifiseer wat daarna streef om 'n doelwit te bereik. Die skrywer se taak is om die hoofkarakter, wat die leser ook begeer die doelwit moet bereik, so lank en so ver moontlik weg te hou daarvan om hierdie doelwit te bereik."

Etienne Bloemhof vra vir Deon Meyer of hy gedink het Bennie Griesel gaan so lank met hom wees. Hy het gelees Agatha Christie het iewers geskryf hoe moeg sy vir haar hoofkarakters kan raak.

"Nee, glad nie – aanvanklik was Bennie bloot as komiese verligting bedoel," sê Deon. "Maar ek moes ook die boek in ag neem. As die storie die karakter wil hê, moet die skrywer die karakter daar plaas.  En ook die leser. 'n Skrywer is net 'n skrywer deur 'n leser. Terselfdertyd moet mens jouself as skrywer ook voortdurend uitdaag om te groei en nie dieselfde goed te doen nie."

Soms raak hy in opstand teen die inperking van die misdaadroman, vertel Deon Meyer. "Die struktuur van die misdaadroman is soos 'n diktator wat vir jou voorskryf."

Karin Brynard meen dat niemand jou in elk geval sal glo as jy beweer dat jou misdaadstorie, wat ware gebeure in die land neerskryf, die waarheid is nie. Die Suid-Afrikaanse misdaadsituasie is gewoon te erg. Sy vertel van 'n geleentheid in Skotland waartydens skrywers hulle misdaadfiksiestorie binne een middag moes saamstel. "Was daai moord vet pret?" vra Etienne Bloemhof. "Moerse pret!" knik Karin Brynard.

Etienne Bloemhof vra Karin Brynard oor die morele onderbou van misdaadfiksie.

"Ja, ek dink mense glo in vergelding. Misdaad bly gewild; mense het dit geneties ingebou; ons is nuuskierig en begeer wraak. In die werklike lewe kom mense weg met moord en daar is nie ‘n bevredigende afloop nie. Maar as leser ervaar jy daardie bevrediging – die skuldige ry aan die pen.

Ilze Roggeband vertel  vermaaklik omtrent haar boek Noot vir dood, met 'n moord in die Afrikaanse musiekbedryf: "Die boek het homself geskryf ... nadat Etienne Bloemhof die saadjie geplant het ..." Sy vertel van situasies by Huisgenoot Skouspel wat sy self geken het toe sy in die musiekjoernalistiek betrokke was.

"Ek het ook daardie persoon, wat nie werklik bestaan nie, geken na wie jy nie werklik in die boek verwys het nie," lag Etienne Bloemhof.

Hulle gesels oor eendersklinkende stemme in die musiekbedryf – die omgewing waarbinne die boek afgespeel het.

"As jy daardie sanger in jou volgende boek gaan vermoor, noem sommer die boek Skrouspel," beveel Kerneels Breytenbach aan.

Kerneels Breytenbach gesels oor sy boek Piekniek by Hangklip,wat ook 'n speurverhaal was, sonder 'n speurder. "My plaasvervanger vir 'n speurder was die leser self: hulle was die enigste mense wat geweet  het wat gaan aan."

Die gesprek is nog lank nie klaar toe die tyd verby is nie. Die misdaadfiksie as genre is ook nog lank nie vermoor nie.

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top