Oor Johan Kotzé, vergiffenis en Tutu

  • 4

Daar is ’n pleidooi deur Desmond Tutu dat mense eerder vir Johan Kotzé moet vergewe en te staak om aanhoudend na hom as “monster” te verwys.

Tog, wat beweer word Kotzé gedoen het, maak dit vir die mens moeilik om hom te vergewe ...

Maar onvergewensgesindheid is ’n baie swaar las. Dit begin deur die sinne van mense te benewel. Dit is ook ’n aansteeklike las. Uiteindelik is dit die broeiplek van haat … en dan is dít die plek waar Kotzé homself te buite gegaan het. Hoe kan mens regkry om iemand anders te teister soos wat hy gedoen het, sonder haat? Maar haat het hom aangevuur, dit vir hom uiteindelik maklik gemaak – ses mense se lewens daardeur verwoes, syne inkluis.

Kotzé is nie ’n uitsondering nie. Daar is báie sulke gruweldade, dalk net minder teatraal en publiek. In die swart woongebiede vind daar gereeld sulke gruweldade plaas – mense wat met klippe doodgegooi word en ander wat lewend aan die brand gesteek word. Elders ook. Vanoggend weer, hoor ons oor die nuus van ’n gesin wat uitgewis is, met ’n mes …

Tutu is dus reg. Die énigste effektiewe teenvoeter vir haat, is vergewensgesindheid … want die Liefde is die fondament, die grondslag, die Hoeksteen, van vergiffenis. As die mens die Liefde in hom het, sal hy die Johan Kotzé’s van die lewe kan vergewe, want die Liefde stel mens in staat tot daardie oënskynlik onmoontlike, maar as die mens die sluimerende haat in hom het, sal hy nie kans sien vir vergiffenis nie. Dáárom dat die HERE Jesus Christus só onomwonde aandring op onvoorwaardelike vergiffenis. Vrede begin by vergiffenis.

“21 Toe kom Petrus na Hom en sê: Here, hoe dikwels sal my broeder teen my sondig en ek hom vergewe? Tot sewe maal toe?
22 Jesus antwoord hom: Ek sê vir jou, nie tot sewe maal toe nie, maar tot sewentig maal sewe toe.
14 Want as julle die mense hulle oortredinge vergewe, sal julle hemelse Vader julle ook vergewe.
15 Maar as julle die mense hulle oortredinge nie vergewe nie, sal julle Vader julle oortredinge ook nie vergewe nie.”

Na alles, is dit nie juis die HERE Jesus Christus, Wie onskuldig tot die dood toe deur Sy antagoniste getormenteer en gemartel is, Wie aan die einde van dit alles, vir hulle gebid het “34 … Vader, vergeef hulle, want hulle weet nie wat hulle doen nie…”

Groete,
Kobus de Klerk

  • 4

Kommentaar

  • CorneliusHenn

    Hallo Kobus. Wat 'n aangename verassing. Ek is opreg dankbaar vir jou geesverandering. Ek het ook iets wou bydra oor die pleidooi deur emeritus-aartsbiskop dr Desmond Tutu rakende ’n skrywe wat hy aan The Star gerig het. Ek oefen nog op ons nuwe werf en het waarskynlik die verkeerde deur gebruik. Nietemin, dis nog altyd 'n belewenis om ons geliefde Desmond Tutu in lewende lywe te hoor en sien praat. As jarelange hoof van ons gemeente in die Heilige George Katedraal in Walesstraat Kaapstad, is hy 'n beminde en lewende voorbeeld van 'n sinkretiese (hutspot) uitdra van die Evangelie aan alle mense op aarde. Elke 16 Deser gaan kuier ons gemeente in 'n opmars by die sinagoge, moskee en hindoe-tempel in die omgewing. Vandaar ook dr Desmond Tutu se algemene Anglikaanse en Katolieke standpunt teenoor iemand soos Johan Kotzé. Wat ek wel in my bydrae uitgesonder het is die standpunt van dr Isak Burger, president van die Apostoliese Geloof-sending. Dr Isak Burger verskil met dr Desmond Tutu oor die gebruik van die term “kind van God”. Volgens dr Burger reseveer die Bybel dit vir mense wat met God versoen is deur hul aanvaarding van Jesus se soenoffer aan die kruis. Hierdie standpunt deel na my mening grotendeels met jou en Erika Henn in jul en menige ander Afrikaner Protestant se neerhaling van ander se diens tot ons almal se Almagtige Lewende Skepper. Sou jy werklik ook eens wees met dr Desmond Tutu se hart daarin dat alle mense na God se beeld geskape is; dat wat jou en my betref God almal selfs voor hul geboorte geken het (hoe weet jy of ek wie uitverkies is); dat iemand soos Johan Kotzé gedoop is en 'n dogter het wat lief is vir hom; die liefde-boodskap in die redding van die Heilige Sondaar aan die kruis saam met Jesus Christus onse HERE; die verhaal van die Verlore Seun op iemand soos Johan Kotzé beskou en vele ander sulke genade in die Goeie Nuus?

  • Dankie Kobus, ons is besig om te verdwaal in die besige geldgierige gehaas na alles tydperk en vergeet soms hoe ons ouers en voorouers geleef het. Kom ons vergeet van politiek ensovoorts. Daar was altyd 'n klop aan die deur van mense wat kom hoor hoe dit gaan. Ons voorsate het gereeld met mekaar gekommunikeer en ek glo as daar familieprobleme was, het soos ons dit noem die Grootmense altyd 'n oplossing gevind. Ons groet nie eens die bure nie, ons kompeteer net met hulle op alle vlakke. Dstv, 4x4, vakansies, duur partytjies sommer vir kindertjies van 'n jaar oud. Selfone en Playstation is wat ons kinders besig hou en Ma of Pa werk laat praat nie meer met die kinders nie. Die Grootmense is in ouetehuise en ons sien hulle so nou en dan. Ek weet ons is in die jaar 2012 en ek weet die Aarde is nie plat nie, ek glo miskien as Johan Kotzé se familie en gemeenskap deel was van sy lewe en sy kerk die geestelike bydrae kon lewer, dinge miskien nie so verkeerd uitgedraai het nie.

     

     

    Dankie

    Derrick January

  • Kobus de Klerk

    Cornelius,

    Ek dink dat jy maar min omtrent my verstaan. Daarom is daar nie ’n “geesverandering” by my, soos jy te kenne gee nie, maar deur die genade en leiding van die HERE kan ek wél onderskei deur Sy leiding.

    Elke mens is deur God geskape vir elke bepaalde doel en ek glo dat God almal ewe liefhet, omdat Hy geen aannemer van persoon is, geen witbroodjies het nie. Daarom en in daardie sin, is die Johan Kotzé’s, Cornelius Henn’e, Angusse, Kobus de Klerk’s, Erika Henn’e, ens, ook almal kinders van God, uit Sy liefde en volmaaktheid geskape.

    Maar dinge loop skeef, Cornelius. En die probleem lê nie by die HERE nie, maar juis by die kinders. Dit is die kinders wat halsstarrig raak, die pad byster raak, verwaand en arrogant raak, mekaar selfs probeer van kant maak … ons weet mos hoe die satan werk, hoe hy ongesiens insnuffel en die mensdom wil laat struikel en die HERE só teleurstel. Daarom het Hy besluit om ons nie meer te laat stenig en uit te delg vir ons ongeregtighede nie, maar om vir ons Sy Lewe as finale offer te gee as instrument van verlossende, verheerlikende vergiffenis – Vergiffenis. Die kosbaarste en wonderlikste Genadegawe aan die mens … want deur vergiffenis kan mens dié dinge laat staan hom ons in die eerste plek van die HERE verwyder het …

    God weet hoe om met sy halsstarrige kinders in Sy Geregtigheid en Liefde te handel en te werk, Cornelius – want Hy het hulle algar ongetwyfeld lief. Hy is streng, maar liefdevol. HY tugtig, maar staan by en troos. Dit is nie vir ons om die verwaandheid en arrogansie te hê, om diegene onder ons wat verwyderd raak, struikel en selfs afvallig raak, te verdoem nie, maar dit is vir ons beskore om mekaar onderling met álles tot ons beskikking, ook berisping, teregwysing, leiding en wát ook al, te probeer reghelp, omdat ons mekaar liefhet en ons weet, ons Hemelse Vader ons ook almal liefhet. As die Vader ons nie liefgehad het nie, sou hy nie Sy geliefde Seun, ons geliefde HERE, gestuur het om in die vlees spesiaal vir ons gebore te word en sondeloos vir ons onthalwe te ly, nie. Kan ons, ons die intensiteit en kwaliteit van dié liefde indink?

    Daarom steur ek my nie aan die Tutu’s en die Burger’s en die wie ookal’s nie, maar aan die HERE , die Lewende Woord van God en is ek geneë om algar wie reg praat en doen voor die HERE, te ondersteun, maar ook om te onderskei, deur middel van die gawe van die HERE, wanneer hulle dit nié doen, nie. Ook met myself.

    Ek is ’n báie nietige mens, maar ’n mens wie die onbeskryflike voorreg het om in die aangesig van die HERE te wandel – nie omdat ek so goed of oulik is nie, maar omdat ek Hom sê nodig het en HY, in Sy onbegryplike volmaakte liefde, bereid is om Homself in Sy onbeskryflike Heerlikheid, aan my beskikbaar stel – ’n louter gawe.

    Groete,

    Kobus

  • Kobus de Klerk

    Oom Jan/Derrick,

    Jy is reg in jou opsomming. Ja, insidente soos Johan Kotzé se beweerde gruwels, ruk ons tot stilstand … en laat ons opnuut besin oor die lewe, waarheen dit alles, elkeen van ons inkluis, heen op pad is. En dan besef ons, daar is fout. Gróót fout. Daar is nie meer Liefde nie, want te min daarvan word gesien en beleef.

    Liefdeloosheid versprei soos, maar die Liefde is soos ’n groot boom wat stadig maar sterk groei.

    Laat elkeen van ons dan sê ’n boom plant, eerder as om deel te hê aan vernietigende onkruid.

    Ja, dit begin nie by die buurman, by die kerk, by die werk, of by die lewensmaat nie – dit begin by mens self - ek, jy, elkeen anders is self verantwoordelik om die boom van Liefde te plant en dan te versorg.

    Interessant – ek het al in daardie groot woude van MTO rondgeloop – die bome floreer en omdat daar so baie is, is die onkruid feitlik uitgewis – jy sien, die onkruid groei laag en die boom hoog – weens die oorheersende bome, kry die onkruid nie genoeg sonlig om te oorleef nie.

    Kom ons elkeen plant ’n boom van Liefde. Dit begin by vergiffenis – onvoorwaardelik.

    Groete,

    Kobus

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top