Die netjies-geklede kaalkop omie se naam was dalk Antonius of so iets, maar vir almal in Brixton hier gedurende die sestigerjare was hy oom Toon.
Jy kon behoorlik jou Timex teen sy komme-en-gane gestel het. Wanneer ons vroegoggend om die ontbyttafel die ritmiese getik van sy wit stok teen die oorkantste randsteen hoor, het ons Steyntjies in ’n koor uitgebars met “Daar gaat oom Toon alweer.”
Hy het per bus na die Mynhospitaal in die stad gependel om in sy perfekte Afrikaans en droë humor die telefoonskakelbord te hanteer.
Saterdae-oggende het hy stoksielalleen sy inkopies in Hoofstraat gedoen en almal beleefd teruggegroet.
Ek het, tot goedige gespot van my boeties, ’n vriendskap-in-die-verbygaan met hom aangeknoop.
Smiddae so net na vyf het die bus hom verder af in Collinsstraat afgelaai. Dan het ek die besige pad oorgesteek en so in die loop met hom gesels. Gewoonlik net ’n kort entjie, want daardie jare het ouers geen laatkommerry om die etenstafel geduld nie.
Dit wou voorkom of hy geen vriende of familie gehad het nie en dat hy die meeste van sy tyd verwyl met sy bandmasjien waarop hy klassieke musiek en radiodramas luister.
Ek wou meer omtrent oom Toon uitvind. Waar en hoe hy woon, sy familiekring, of ten minste hoe sy huis lyk. Maar ek was te skaam om te vra en hy het nooit aangebied nie. Dit het ’n obsessie by my geword.
Een middag nadat ek my ma oortuig het dat ek laat gaan wees vir ete, posisioneer ek myself op die sypaadjie. Toe hy reg oorkant my kom, verander die ritme van sy getik vir ’n oomblik en sy kop draai halfskuins in my rigting. Ek het botstil gestaan en skaars asemgehaal. Ek was bang dat hy die harde slae van my hart sou hoor. Maar hy het net aangeloop en ek het hom versigtig van die oorkantse sypaadjie begin volg. ’n Paar blokke verder het hy by ’n hekkie gestop en in sy baadjiesak gevroetel.
Ek was effe teleurgesteld met die huis, want ek het iets anders verwag. Iets eie aan ’n enkelblywende blinde ou man. Maar dit was doodgewoon, soos die meeste van die huise in die omgewing. Siersteen, sinkdak … en ’n klein, netjiese tuintjie.
“O,” dink ek toe, “dan is dit nie net die bandmasjien wat hom besig hou nie.”
Skielik los hy die hekkie, draai sy kop skuins, en die donkerbril staar in my rigting. “Is dit jy Hannes?” roep hy hard uit en ek voel soos ’n winkeldief wat in ’n speelgoedwinkel betrap word. Paniekbevange kies ek die hasepad terwyl die slae van my kaalvoete soos ’n masjiengeweer in my ore klink.
Vir die res van die week het ek soos ’n skelm in die kamer gewag en skuldig geluister hoe sy stok my van oorkant die straat roep.
Die daaropvolgende Maandag staan ek op die stoep en wag. Ek was onseker wat om te doen.
Soos hy naderkom, het ek die gevoel gekry dat iets verander het. Die ritmiese getik het sy selfversekerdheid verloor. Dit was meer huiwerig – of verbeel ek my? Ek staan doodstil en wag dat hy verbyloop. Vir die eerste keer sien ek hoe sy lippe prewel soos hy die treë tel. Dan stop hy. Reg oorkant my. Hy draai in my rigting en begin al hoe harder teen die randsteen te klop. Iets skort. Ernstig!
Sonder aarseling roep ek uit: “Oom Toon, wag, ek kom!” en hardloop oor die straat.
“Ag my maat, ek is jammer om te pla maar … maar … ek is in die sop.”
“Sop? … Wat bedoel Oom, in die moeilikheid?” Dat hierdie man, wat selfs weier om gelei te word, nou om hulp vra, maak my erg bekommerd.
“Ja, man,” verduidelik hy in ’n apologetiese toon. “My bandmasjientjie het opgepak. Sommer net so”, en hy kap driftig teen die randsteen, “sonder enige waarskuwing.”
“O,” antwoord ek verlig, want vir my was ’n stukkende bandopnemer nie ’n krisis nie. My kamer het gereeld vol elektroniese onderdele rondgelê terwyl ek my matriektjoms se radio’s reggemaak het. “Ek sal vir Oom daarna kyk sodra ek ’n kansie kry.”
Die teleurstelling was duidelik op sy gladgeskeerde gesig te bespeur en ek neem ’n vinnige besluit.
“Môreaand, na ete. Sal dit reg wees met Oom?”
“Maar natuurlik, my ou maat,” antwoord hy verlig. “Ek woon in Collins 194 – jy … jy weet mos?” Verbeel ek my, of was hy goediglik sarkasties?
“E … e … nee, maar ek sal dit kry. Ek sien Oom so by sewe-uur rond.”
Toe ek my ma inlig, was sy erg bekommerd. “Alleen met ’n vreemde blinde man in sy huis? Oor my dooie liggaam! Wat as hy aan jou begin … vroe … aan jou begin vat? Jy weet mos dis hoe hulle kamstig sien.”
“Ag Ma, moenie verspot wees nie. Oom Toon is my vriend. Hy is nie daai tipe nie,” stel ek haar uiteindelik gerus.
Dit was al diep skemer toe ek uiteindelik die straat afdraf 194 toe. Groot was my teleurstelling toe ek daar aankom en die huis donker en verlate vind. “Dan het die oukêrel tóg iemand wat hy soms besoek,’ dink ek half jaloers en druipstert terug huis toe.
Die volgende middag kon ek nie wag om hom aan te vat nie. “Maar ek was daar. Ek het tot laat vir jou gewag,” skerm hy.
Ek beteuel my humeur met moeite.
“Nee Oom, dit kan nie wees nie. Als was donker en … en doodstil,” snou ek hom ongeskik toe en mik om die straat terug oor te steek.
Toe oom Toon hard uitbars van die lag, draai ek geïrriteerd terug. “My ou maat,” bulder hy, “van wanneer af word van ’n blinde man wat alleen woon, verwag om ligte in sy huis aan te sit?”

