Onderhoud: Clinton V du Plessis gesels met Philip John

  • 1

Clinton V du Plessis vertel vir Philip John oor Woorde roes in die water.

Clinton V du Plessis
Philip John

Clinton, waar dit poësie aangaan, lyk dit soms, hoe dieper die moed sak en hoe donkerder die toekoms, hoe skerper (en besiger) raak die digterpenne en -vingers: as mens die afgelope twee jaar se Kaar, Karnaval en Lent en Katalekte bymekaar sit, met daarby jou Rangeer van 2013 en nou Woorde roes in die water, dan het jy byna ’n duisend bladsye poësie. Is dit bloot omdat daar nou ’n klomp digters is vir wie die ouderdom (en die dood) ’n werklikheid geword het, of wat? Kan jy sê waaruit Woorde roes in die water voortgekom het (of ten minste of jy dink jy beïnvloed is deur hierdie “moeilike tye van ons)?

’n Groter bewuswording van sterflikheid is vir ’n skrywer soos ’n terpentynkwas onder ’n steeks donkie se stert. Daar is baie om te sê en die tyd raak min – daar is ook dit wat jy verswyg het (jy onthou mos maar selektief), wat nóú gesê móét word.

Ek het ná die vorige bundel weer (nadat ek my lank aan openbare optredes onttrek het, en op ’n tydstip selfs van die taal) direkte kontak met lesers begin hê. In die gehoor was daar meestal ouer mense. Ek het begin aanklank kry by hulle gevoel van ontheemding. Hulle wat kom uit ’n era van briewe skryf en ontvang, is soms, net met behulp van die tegnologie (internet, Skype, ens) in kontak met kinders wat ver van hier sit, kleinkinders wat vreemde tongvalle aanleer.

Woorde roes in die water wil, onder andere, praat oor dáárdie komende afwesigheid, die sekerhede wat vervaag, die dwingende besef van “afskeid en vertrek”; ook die verrotting van die taal, selfs die dood van ’n droom na Mandela se afsterwe.

Ek moet jou sê, die gedigte in die eerste afdeling van Rangeer het my geraak soos min poësie vantevore. Iewers het jy gesê jy skryf om te onthou. Nou lyk dit vir my asof Woorde roes in die water nader aan die hede staan, nader aan die self, die persoonlike en intieme, soos in die eerste afdeling, “Geloofsbriewe”. Kan jy sê hoe jy by die organisasie van die bundel uitgekom het, as jy kan onthou?

Onthou is soms net ’n verbeelde turksvy – sonder die dorings. Veral in ons Suid-Afrikaanse konteks is onthou ’n gekompliseerde konsep, want ons sit met ’n versplinterde samelewing. Die een groep wil onthou, die ander groep wil vergeet. Ek dink hier byvoorbeeld aan Dan Roodt se publikasie Om die Waarheidskommissie te vergeet teenoor ’n Don Mattera se Memory is the Weapon.

Die jongste bundel was, net soos die vorige een, ’n geval van gaan sit en doelgerig skrywe aan ’n publikasie wat ek binne ’n sekere tydperk wou uitgee. Toe ek by ’n stadium kom dat ek voel ek genoeg materiaal het, het ek een middag al die verse op my kantoor se vloer uitgepak. Daarna dit op grond van tema in hopies gestapel. Ek het toe eers die titels vir die verskeie onderafdelings uitgedink, en nog een of twee gedigte tussen die afdelings rondgeskuif. Daarna die rangorde in die bundel bepaal. Die tydsverloop dek dan pro- of regressief die tydslyn vanaf die liefde, werk, voorstedelike huishoudelike bestaan, ontnugtering en sterwe.

Geloofsbriewe bevat ook liefdesgedigte uit ’n veel vroeër tydperk, maar wat nie gepubliseer is nie omdat dit nie by vorige bundels in kon pas nie.

Dit is soms pynlik naby aan die lyf, erg persoonlik, amper soos iets wat Jonathan Franzen in ’n onderhoud oor sy boek Freedom teenoor ’n joernalis kwytgeraak het:

To construct a story that will be sufficiently compelling, it is imperative, he says, to draw from “the parts of yourself you least want to look at, the things that make you the most anxious, the worst things you’ve done in your life, the most shameful parts of yourself”. That “is where the living material is”.

Ek sou ook wou sê dat beide Rangeer en Woorde roes in die water spreek van ’n meer volwasse, of ’n meer beleë, aanslag as in jou vroeër, meer eksperimentele werk, soos in in god’s country: no 2–21 (daar is ’n kopie in die Nasionale Biblioteek, glo dit as jy wil) en Tussentydse verslag. Sulke poësie werk meer soos ’n gebaar, die wys van ’n gebalde vuis, terwyl die onlangse werk nog steeds spreek van woede en frustrasie oor die ongevoeligheid waarmee ons leef, maar nou in oënskynlik meer “gematigde” en konvensionele vorm. Wat dit eintlik nog meer skrynend maak, vir my, ten minste. Watter rol speel woede en verontwaardiging by jou werk?

Ja, ek onthou op Tussentydse verslag se voorblad was daar die motto uit een van Alanis Morissette se liedjies:

I’m frustrated by your apathy
And I am frightened by the corrupted ways of this land.

Die woede is getemper, die verontwaardiging skreeu nog ten hemele, maar die besef is daar: die selfmoordbommer of die poefstrooier praat harder, met meer oortuiging en duideliker as die digter.

Die meeste resensente verwys na die empatie met werkersklasmense en verskoppelinge in jou werk, soos in “Memoranda”, die tweede afdeling van Woorde roes in die water. Dit lyk egter vir my asof dit ’n empatie is wat verder strek en ook die witboordjiewêreld van bankiers soos in “Bankiers Bpk”, fiksheidfanatici in “Jaag” en ouditeure in “Ruitens” insluit. Kan dit wees dat sommige resensente die klem op die “werkersklas” plaas om hulleself uit te sluit van die wêreld soos jy dit aanbied? Miskien sny dit bietjie te na aan die been?

Jy kan dit so lees. Maar ek vind dat ek meer oorhel na die werkersklas en die witboordjies meer sinies sien – dat hulle willens en wetens meewerk aan hierdie skeefgetrekte ekonomiese bedeling. Dat hulle gewilliger inkoop, dat die materialisme se koplig hulle makliker verblind.

Om aan te sluit by die vorige vraag: ’n gedig wat almal insluit – en impliseer – in hierdie ongevoelige wêreld is “Slave to the rhythm”, wat eindig: “Die bank is lankal die nuwe kerk/ die engel, het ’n kredietkaartvlerk/ die munt, troef die kruis.” Wat my hier tref, is klanke van Opperman, soos in die reël “sing ons, nootvas, sonder verset, in hierdie slawekoor”. (As mens dié woorde “metapoëties” lees, sou ook baie digters saamsing in hierdie koor.) Hoe bewus is jy van jou voorgangers – as padwysers én antagoniste?

Ek dink enige skrywer kies aan die begin van sy loopbaan vir hom twee ander skrywers uit. Hy skryf dan teen die een se tradisie, en die ander een skryf hy na. Jy skryf dus nie in ’n vakuum nie en jy moet kennis neem van dit wat alreeds vermag is, nie net binne die Afrikaanse poëtiese landskap nie, maar ook buite.

In “Verwysingsraamwerke” kritiseer jy duisterheid in poësie soos volg: “Sommige gedigte het te veel brein/ te veel uitmekaarhaal/ en weer aanmekaarsit/ eindelose intertekstuele parings/ hermeties, klei-osdig/ te veel wortels wat groei/ uit en aan ander tekste/ obskure dooie Franse en Griekse verdigsels/...” Jou werk is die teenoorgestelde hiervan. Lees jy enigsins “komplekser” poësie?

Ja, ek lees dit ook, maar ek is altyd bewus van Bob Dylan se liriek: “They say in your father’s house, there’s many mansions/ each one of them got a fireproof floor.”

Daar is ruimte vir vele style; dit voel net vir my asof die Afrikaanse Literêre Mafia soms selfvoldaan en wydsbeen oor die Woord staan en met hande op die heup verklaar: “Híérdie is die Suiwer Woord – tydsaam uitgehoer in daardie uitkomsgebaseerde bordeel met die rook en spieëls, die swepe en die opblaaspoppe – die kreatiewe skryfskool …”

Ek vind onlangs die volgende aanhaling uit ’n onderhoud met die Amerikaanse digter Philip Levine (toevallig ook iemand met simpatie vir die werkersklas): “One of the aspects of my own poetry I like best is the presence of people who don’t seem to make it into other people’s poems. Much of our recent poetry seems totally without people.”

’n Voordeel van eenvoud is dat dit die gedig onmiddellik maak en jy seker is van die trefkrag daarvan. In Woorde roes in die water is daar ’n hele klomp gedigte oor die dood (in die “Aantekeninge”-afdeling die bewussyn daarvan soos in “Klein momente”, “Moer” en “Atleet, vroegoggend” en in die “Grafskrifte”-afdeling die dood van mediafigure). Wat is die belangrikste funksie van gedigte oor iets so ontstellends as die dood?

Hoe meer jy oor die dood dink, hoe intenser leef jy. En hoe intenser jy leef, hoe makliker kyk jy die kaf mis, hoe beter (hopelik) word jy as skeppende kunstenaar en mens.

Daar moet egter ook gesê word daar is ’n hele paar ligter momente in Woorde roes in die water, soos in van die liefdesgedigte, vir my die treffende “Nagwag”, “Waterverf” en “Visum”. Waar pas hierdie meer optimistiese oomblikke in jou werk?

Ek probeer lig en donkerte balanseer – kry dit nie altyd reg nie; neig maar van nature na die skemerte, die donker stegies in die gemoed.

Die musiek van Bruce Springsteen is klaarblyklik ’n belangrike element in jou lewe en werk. Kan jy iets sê oor wat sy musiek vir jou beteken?

Sedert Springsteen die eerste keer in my jeug sy opwagting gemaak het, was dit fassinerend hoe goed hy die drome en verwagtinge asook die versugtinge van die Amerikaanse werkersklas kon verwoord. Sy liedjies oor fabrieks- en konstruksiewerkers, die rassekonflik, kelnerinne en rooikopvroue is gevul met patos, begrip en soms woede. Hy dokumenteer ’n stuk Amerikaanse lewe so realisties. Hoe die veles, ten spyte van die slegte hand wat die lewe se pokerspel aan hulle deel, tog nog met blinde vertroue voortploeter:

At the end of every hard-earned day, people find a reason to believe.

In sy “Hungry Heart” is daar ’n blik op die lewe van iemand wat vasgevang is in sy kleinburgerlike bestaan en graag wil uit- en wegbreek en dit dan ook net op ’n dag doen:

Got a wife and kids in Baltimore
I went out for a ride and never went back.

Op sy onlangse Suid-Afrikaanse toer het ek die voorreg gehad om hom in Bellville te sien optree … Dit was die moeite werd.

In ’n gedig soos “Die rewolusie begin op die plase” sny jy ’n brandpunt van ons samelewing aan, iets wat Wopko Jensma reeds in “Noudat dit te laat is” (ook in Groot verseboek) gedoen het en die Genuines met “Ou kleine Jannie”. Jou “e-pos aan Ulrike Meinhof & Andreas Baader” in Rangeer eindig: “kom, laat die bomme blom”, en nou is Dookom in die nuus met hul video “Larney, jou poes” as gevolg van die woorde “Farmer Abrahams had many farms/ .../ So let’s go burn ’em down.”  Moet daar beperkinge wees op wat of hoe mense hulle uitdruk?

Nee, mense moet hul menings kan lug, onbevange. Ons kom uit ’n era toe daar muilbande en allerhande beletsels was, maar tog kon ’n karakter in Koos Prinsloo se prosa daardie “gevleuelde woorde” oor PW Botha uiter. Jy het natuurlik ook die reg om nie met daardie uitlating saam te stem nie, maar ons moet versigtig wees om mense se monde te snoer, selfs as die uitsprake sogenaamd “afstootlik” is – ons is hopeloos te fyngevoelig. Sensuur kom telkens in nuwe en sluwe gedaantes – die diktator dra graag die mombakkies van die demokraat.

Die meeste resensies van jou werk begin met die melding dat jy jou werk self uitgee en afkerig teenoor die Afrikaanse literatuurstelsel gestaan het, iets wat lyk of dit bietjie verander het. In resensies van Rangeer en Woorde roes in die water wat al verskyn het, kritiseer die resensente, en Bernard Odendaal die mees uitdruklike, die teksversorging. Pla dit jou? Voel jy nog steeds dat “kritici op jou kop kak”? Dink jy dis ’n gesonde situasie as digters mekaar se werk resenseer, soos die geval is in Afrikaans?

Ek neem kennis van Odendaal se kritiek rondom teksversorging, maar ek dink met my matriek-Afrikaans en die Groen ghoen-insident het ek nie te sleg gevaar nie (dis net tong-in-die-kies bedoel).

Oor die kwessie van teksversorging – daar is ’n baie interessante artikel op LitNet gepubliseer: “Die produksiegehalte van Palindroom en Kladboek deur Joan Hambidge as gevallestudies binne die uitgewersbedryf” deur Reinhardt Fourie. Selfs die grotes doen dit (soms) verkeerd …

Hoe ouer jy raak, hoe makliker verwerk jy kritiek – hierdie is in elk geval my heel laaste publikasie, so die kritici kan ontspan, ek pak my kop vol poësie weg.

Ek het nie juis probleme met digters wat ander digters se werk bespreek nie, solank die nodige afstand net gehandhaaf kan word.

Henry Jack Cloete het onlangs op LitNet in sy Poolshoogte-artikel (Call girls maak nie lekker ontbyt nie) geskryf dat selfpublikasie (veral op die internet) nie die skrywer “uitdaag” soos wanneer hy of sy met ’n redigeerder/uitgewer werk nie. Wat is die voor- en nadele van selfpublikasie?

Ek het Cloete se kritiek aan die hand van die verwysing na Fourie se studie hier bo beantwoord.

Selfpublikasie het die voordeel dat jy kleiner oplae kan druk, regstellings kan maak in daaropvolgende uitgawes, dat dit finansieel meer lonend is en dat jy baie meer direkte kontak met jou lesers het.

Die resensente het gewys op die nadele, maar ook dit kan reggestel word.

Iewers het jy gesê ’n Afrikaanse digter het gearriveer as 1) Joan Hambidge jou gunstig resenseer, 2) Daniel Hugo jou gedigte lees op RSG se Vers en klank en 3) Fanie Olivier gedigte van jou opneem in Die mooiste Afrikaanse liefdesgedigte. Toe het jy gesê jy’s een-derde daar. En nou?

“Two out of three ain’t bad”, sing Meat Loaf iewers. Maar soms wonder ek of ek werklik wou arriveer?

Lees ook 'n vroeëre resensie van Philip John omtrent Clinton V du Plessis se Tussentydse verslag (die resensie het elders verskyn).

  • 1

Kommentaar

  • Wanneer 'n onderhoud uitmuntend sin in sinne plaas slaag dit voortreflik. Dit was toe nie vir my nodig om 'n woordeboek te raadpleeg om kunsmatige literêre verhewenheid te ontsyfer nie. Ek neurie Human Touch van Springsteen. 

  • Reageer

    Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


     

    Top