Nuwe Stories-kortverhaalwedstryd 2014: Tweede keurverslag van "The day Madiba died"

  • 0

The day Madiba died: Die tweede keurverslag deur Suzette Kotzé-Myburgh

 


 

Tweede verslag: The day Madiba died

Werklik ’n goeie verhaal, met ’n wonderlik onderbeklemtoonde slot. Daar is nie meer groot verstellings aan die teks nodig nie, dus gaan ek ’n paar stylkwessies uitwys.

Heel eerste: enige veranderings wat jy nou nog doen, moet versigtig oorweeg word. Anders gestel: moenie nou in die verhaal inklim en links en regs snoei nie. As my aanbevelings jou laat sukkel, los liewer die teks net so, dan kan die teksredakteur eerder die laaste fyn skaafwerk doen. (Sommige skrywers kan genoeg afstand kry om hulle teks te hersien, vir ander is dit baie moeilik om terug te gaan na die teks en weer daaraan te werk.)

Met bostaande in gedagte: let ’n bietjie op stelwyses wat té styf en formeel is. Die innerlike dialoog van ’n ek-spreker is amper asof die ek met homself praat, en dit doen ’n mens tog nie in verhewe taal nie. Aan die ander kant gebruik jy verhewe taal perfek vir satiriese en ironiese effek – dit werk. Dis ’n kenmerk van Afrikaans dat ’n mens aansienlike registerwisseling (die spektrum van informele taal tot formele taal) in dieselfde teks kan hê, en om die balans te vind is soms baie moeilik. Daarom my waarskuwing: When in doubt, leave alone!

Vervolgens voorbeelde van wat ek bedoel met té formele taal, teenoor formele taal wat reg gebruik word vir satiriese effek:

My oë is op die televisieskerm gerig. Al vier die SAUK-kanale beeldsend dieselfde nuus. – dis darem erg styf, stel dit in padlangse Afrikaans: Ek val op die bank neer en sit die TV aan – so iets. Nog ’n voorbeeld: Ek verpes die liedjie.  Ek vind dit heeltemal té sentimenteel.  – wat van iets soos: Ek verpes die liedjie. Blerrie sentimenteel. 

Formele taal vir satiriese effek – los dit net so: Traktaatjies het ons gewaarsku oor die naderende onheil. Wees paraat, broeders en susters. Wees op julle hoede, medeuitverkorenes.  Tref voorsorg, geliefde stormjaers.  

Vervolgens ’n voorbeeld van “showing” en “telling” (afgesien daarvan dat die stelwyse ook erg formeel is):

My motor neem my na Parkhurst, Greenside en Melville, maar die verbysterende energie so eie aan hierdie voorstedelike buurte is nêrens te bespeur nie.

Let op die onderstreepte. In Afrikaans is beskrywende woorde, spesifiek adjektiewe, te maklik ’n kortpadmanier van skryf – ek noem hulle valse vriende. Moenie vir my vertel van die plekke se energie nie, wys dit vir my, beeld dit uit.

Let ook op herhaling van woorde (soos “skielik”) of beskrywing (hy skiet twee keer sy sigaretstompie onder die struike in – terloops, die stukkie detail dat hy later die sigaretstompies gaan optel, is pragtig).

’n Laaste punt: die verteller dink aan “die publikasie van my eie skeppende werk” – hoekom so afstandelik? Die ek sal tog nie só met homself praat nie. Wees spesifiek oor die skeppende werk, noem dit.

Samevattend dan: in ’n kortverhaal tel elke enkele woord, en jy kan nou rustig gaan sit met ’n uitdruk van die verhaal en kyk waar jy nog fyn skaafwerk kan doen om dit ten beste af te rond.

 


 

Lees die tweede weergawe: "The day Madiba died"

Lees die eerste weergawe: "The day Madiba died"

Lees die eerste keurverslag oor "The day Madiba died"

Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale: Tweede weergawe

 

Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

  • 0

Reageer

Jou e-posadres sal nie gepubliseer word nie. Kommentaar is onderhewig aan moderering.


 

Top