
Binnekort: Die eerste keurverslag deur Suzette Kotzé-Myburgh
Tweede verslag: Binnekort
Die verhaalopset is nou duideliker, en daar is ’n paar sekondêre betekenislae bygevoeg deur Moedersdag in te bring – knap gedaan.
Deur die nuwe verhaalinhoud word die skrynende posisie van bejaarde mense sterker uitgedruk: al die ou vrou se kinders is ver van haar kort voor Moedersdag, en al spreek daar deernis uit die haarkapper se waarnemings van die ou vrou en hoe sy haar behandel (die gratis behandeling vir Moedersdag is veral mooi), is die haarkapper se een oog op die horlosie ’n bevestiging van hoe die lewe teen ’n snelle pas voortgaan, vol toekomsbelofte en geleenthede, vir almal behalwe die bejaarde.
Die slot is egter nog steeds nie duidelik nie – daar is teenstrydigheid, soos ek ondertoe verduidelik. So ’n “stil”, skynbaar doodgewone verhaal soos hierdie se einde moet ’n uitklophou wees – daar is geen sin daarin om ’n kortverhaal te lees wat gelykmatig verloop en net so gelykmatig, “alles is pais en vree”, eindig nie. Die slot moet ’n definitiewe wending bring wat al die voorafgaande in ’n nuwe lig stel. Die huidige slot lyk steeds na ’n geval van enkele woorde wat die leser op ’n dwaalspoor lei.
Wat ’n sterk slot vir die verhaal sal wees, is as die ou vrou se slotwoorde (“Hulle almal gaan binnekort móét kom kuier”) op haar dood sou dui. Nou hoop sy nog dat hulle sal kom kuier (dis waarom sy haar hare laat doen), maar sy weet hulle sal haar begrafnis móét bywoon. Dan sal hulle hul eie belange en besige lewens móét onderbreek om na haar te kom, maar die bitter ironie is natuurlik dat sy nie meer die ontmoeting sal beleef nie. Haar liggaamlike broosheid wat die haarkapper heeltyd raaksien, en die feit dat sy in die tagtig is en reeds met ’n kierie loop, ondersteun so ’n slot volledig.
Tans word dit egter weerspreek deur die sinne net bo die genoemde: “Haar oë is soos dié van ’n jongmens. En daar is hoop.” Daar kan nie hoop en jeugdige entoesiasme in haar oë wees as hulle eers na haar sal kom wanneer sy reeds dood is nie. In haar oë moet eerder hartseer en fatalistiese aanvaarding wees van die werklikheid dat haar kinders ver en verwyder is van haar. Laat die hoop van hierdie sinne vroeër blyk, wanneer sy inkom om spesiaal haar hare te laat doen omdat sy goed wil lyk vir haar kinders wat hopelik gaan kom kuier.
Ek stel dus voor dat die slot aangepas word en eindig met die haarkapper se perspektief: hoe sy die ou vrou agternakyk en besef dat sy nie meer lank het om te leef nie. Dit moet egter net gesuggereer word, byvoorbeeld deur ’n letterlike beskrywing van haar brose liggaam. Let wel: hiervolgens sal die tannie beslis nie met ’n sprongetjie op die stoel by die wasbak kan wip nie. Dis in elk geval onwaarskynlik vir ’n ou mens met ’n kierie – dié word juis gebruik omdat sy nie meer maklik beweeg nie.
Nog iets: laat blyk op watter dag die storie afspeel – is dit Vrydag? Aangesien daar gepraat word van Moedersdag as “Sondag” en nie “môre” nie. Daar moet ook ’n rede gegee word waarom die haarkapper en verloofde sy ouers besoek vir Moedersdag vóór Moedersdag – met ander woorde, wat gaan hulle dan op Moedersdag doen? Na haar ouers gaan?
Laastens, die begin van die verhaal sal sterker wees as jy die sinne omswaai: Sy skud haar grys kop. “Nee. Ek wil nie hê jy moet dit korter sny nie. Ek wil net hê dat jy dit perm.”
• Lees die tweede weergawe: "Binnekort"
• Lees die eerste weergawe: "Binnekort"
• Lees die eerste keurverslag oor "Binnekort"
• Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale: Tweede weergawe
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet's free weekly newsletter

