
Die tweede weergawe van Human & Rousseau en LitNet se Nuwe Stories 2014-kortverhaalwedstryd.
Die koekie-tannie
DERDE KIND VERMIS. DORP GESKOK. Die plakkaat wat boaan háár lamppaal hang, maak Koeks onrustig. Iemand is besig met dinge van die nag – dinge waaroor sy nie beheer het nie. Sy sal vanaand onder haar lamppaal, voor Ramos se kafee, bid vir die monster, soos een van die goeie dorpsmense. Nes die vorige keer, toe sy op haar knieë gegaan het ná die Renoster-tweeling Paasnaweek onder vreemde omstandighede verdwyn het. Straatkinders bly nie lank hoofopskrifte nie en binnekort sal dié plakkaat plek maak vir een met iets belangriker. Oor iemand wat nie smeek-smeek agter jou aankom tot by die kar nie en wat jou nie binnensmonds vloek as jy “Gaan terug skool toe!” antwoord nie.
Koeks; dis hoe die dorpenaars haar ken. Haar wit rok met die bruin fraaiings fladder teen haar bene, hier waar sy ’n pak koekies hou. Altyd getooi in wit, die lippe granaatrooi teen die aanslagte van die lewe. Ramos-kafee se deure staan al ’n halfdag oop; die reuk van slaptjips meng met die Caltex-vulstasie oorkant se petrolwalms.
Sy was ook op ’n tyd ’n straatkind. ’n Straatkind sonder ’n stem in ’n tyd toe sierletters oor haar dae op Koster nie die lamppale gehaal het nie. Sy het haar voorgeneem dat waar ookal sy gaan, dié kinders altyd ’n bietjie soet by hulle sal dra in die lewe. Haar soet het gekom toe ’n bleskopman haar op 15 na ’n blyplek in die Noord-Kaapse platteland geneem het en haar as sy eie ingeneem het. Koeks kan nie meer onthou saam met hoeveel bleskopmans sy al voorheen in ’n kar geklim het nie.
Die straatkinders prys haar vrygewigheid. Sommiges noem haar die koekie-tannie en dié wat meer straat-savvy het, noem haar sommer Koeks, of groet woordloos deur met die vinger te klap. Altyd ’n pak koekies in die hand, is sy – gereed om uit te deel vir die hongeres én nuuskieriges. Die dorpenaars herken haar seker al aan haar geneurie. Dieselfde trekkerige deuntjie, dag-in en dag-uit.
“Die straatengel,” het die plaaslike koerant langs haar prentjie geskryf. Sy weet steeds nie wat die groot woorde in die berig beteken nie, maar die foto van haar was mooi – dalk effentjies té mooi, want deesdae staan die middel-vyftigrondlopers, bles, en leepoog-, ook bakhand vir ’n Zoo-koekie. Na sy haar welsyn-grant so te sê op Camels en sardiens geblaas het, is daar darem altyd ’n paar silwer munte oor vir ’n pakkie Zoo-koekies. As kind het sy altyd gesmag na een van daai pakkies op die winkelrakke. Die meeste straatkinders was nog nooit by ’n dieretuin nie; Koeks het besluit dat al die kinders die dieretuin op haar koekies sal sien voordat hulle hierdie hartseer lewe agterlaat. Dis die minste wat sy kan doen.
“Gesigte, drome, name
mm-mmm-mm-mmm-mm-mmm
mm-mmm-mm-mmm-mm-mmm-mm”
“Antie Koeks.”
“Jinne, Stompie. Het jy nie respekte vir ’n vrou wat sing nie?”
“Sorry, Antie. Wou net sê Antie moet waai. Ek het een van die lanies hoor sê dis nie meer safe hier nie.” Deesdae staan die sterkgeboude Stompie bo haar uit. Hy’s nie meer die skaam straatkind wat aalmoese met sy hartseeroë inpalm nie. Hy was nou kar vir ’n lewe, en blêddie goed ook – hy betaal onderhoud vir drie van sy vier kinders. In ’n perfekte wêreld sou hy ’n ingenieur wees. Niemand bou ’n bokshuis soos Stompie Matras nie.
“Dis lankal nie meer veilig nie, maar niemand luister mos vir Koeks nie. Sy deel mos net koekies uit.” Niemand het haar ooit op Koster gewaarsku teen die gevaar nie.
“Antie moet skedads.”
“Wat sal hy by ’n ouvrou soek? Ek wil hierdie rubbish in die oë kyk en onse kinders terugeis. My ma het altyd gesê optelgoed is nie hougoete nie. Hoekom doen niemand iets nie?”
“Ai, Antie. Dis die lewe. Die cops raak vetter en die crime raak meer. Ek’s sad oor Klara.”
“Wat het gebeur? Ek lees mos nie die papers nie. Lat my dom voel met hulle fênsie woorde.”
“Sy doen business by daai stop.” Hy wys poskantoor se kant toe, wat nog niks skade gekry het van die dinge van die nag nie. “Niemand het iets gesien nie. Behalwe Ziggie, maar hy praat niks. Net haar pêntie opgetel en vir die polieste gesê van iemand met ’n donker jersey en toe OBS loop steel. Daai een praat my deurmekaar.”
“Ziggie is trouble. Hy’t altyd meer koekies gegryp as wat hy mag.”
“Ek dink hy’t daai Renoster-twins ook gepoach. Toe Klara die vette se jersey opgetel het, het hy gesê hy’s bly hulle is geoes. Gesê hulle is meer pens as mens.”
“Stuk gemors. Daai goue tande van hom kan nie ’n swart hart loop wegsteek nie.”
“Het Antie vir Klara geken?”
“Nee. Net altyd die perfume geruik. Sy’t nooit kom koekies vra nie. Altyd gesê soetigheid is moeilikgeit in haar job, want die omies los dan juis die vroue met die dik gatte by die huis.”
“Sy was te goed vir die streets. Maar jinne, sy was kwaai, Antie. Altyd gesê R300 per uur, of jy hou jou bek van haar af. Sy het maar sestien geraak dié jaar. Ek het nog nooit R300 in my hande saam gevoel nie.”
“Die straat is nie ’n plek vir onse kinders nie. Miskien is hulle almal nou op ’n bieterder plek. Ons outies hoort nie op straat nie.” Koeks het ’n broertjie dood aan “boemelaars” en “haweloses”. Outsiders, dis wat hulle is. Die kameraadskap wat sy rondom haar kartonkomberse op straat gekry het, is meer as wat baie rykes met Russel Hobbs in hulle kombuise kan sê. “Daar’s nie meer bleskopmanne wat onse straatkinders red nie.”
“En eindelik was mmm-mm-maar
Net mmm-mm-mmm-mm-mmm...”
Stompie weet al om nie verder te pla nie, al weet hy duidelik nie mooi wat bleskopmanne is nie. Hy het iewers gehoor iets is nie verby tot die vet tannie sing nie. Hierdie vet tannie was besig om te sing, nou uit volle bors:
“Swerwers sonder rigting
Soekers wat nooit vind!”
“Owe my ’n koekie.” Die hande lyk bekend. Harde hande, vol littekens, wat wys hoe lank op straat hulle baas al is. Die oë is vol rooi aartjies; die OBS van die vorige aand se spoortjies.
“Waar’s jou donnerse maniere? Jy moes al lankal van die strate af gewaai het.” Koeks stop Ziggie ’n koekie met ’n versiersuikerbuffel op in die hand.
Af en toe ry daar ’n kar verby, met die laaste sonlig wat skalks teen die ruite dans.
“Nou dink Antie oek dis ek wat moeilikgeit gemaake het.” Die krummels val by die gat uit waar die voortande moet sit.
“Is dit jy?”
“Ek sou nooit so iets doen nie. Klara is soos myse family.”
“En die Renoster-twins?”
“Nei, man, wat sal ekke met daai pavement specials maake? Ek sal nie eens R10 kry vir hulle nie. Klara was my enigste view in die aande. Hoekom sal ek die curtains close?”
“Ek praat van die twins.”
“Hulle was soos gatvlieë, maar dit betieken nie ek’t ’n vlieëplak loop koep nie.” Sy gekneusde hande praat saam as hy verduidelik.
“Hou op in raaisels praat; jy loop al lankal nie meer skool nie.”
“Weet Antie wat. Antie is yesterday’s news. Pasop dat hulle nie vir Antie kom nie. Antie weet fokol van die streets.”
“Wat sê jy daar?”
“Antie het reg gehoor.”
“As ek reg gehoor het, het jy ’n pêntie naby die gholfklub opgetel?”
“So what?”
“Ek wiet waar jy vir Klara kan kry.” Skaakmat. Sy het hom presies waar sy hom wil hê. Tussen gisteraand en die babelas is daar iets wat omgee. ’n Tikkie menslikheid wat op die teer van strate behoue gebly het.
“Wa?” Hy gryp na die lamppaal vir balans, maar tevergeefs. Sy kop tref die harde sement, terwyl ’n effense glimlag om Koeks se mondhoeke speel.
“Kom saam met my,” sê Koeks terwyl sy hom ophelp.
Hulle stap deur Hartswater se strate. Verby die slaghuis waar die vooraanstaande manne vuil grappe vertel, verby die Spar waar die vroue met die ge teasde hare kla oor die prys van botter. Hulle stap oor dubbeltjies en leë Coke-blikkies, na die bebosde gholfklub toe – dáár waar die Renoster-tweeling en Klara se spore al weggevee is, vergeet se land toe. Die 19de “gat” is ’n gunsteling. Die Callaways is al netjies in hulle sakke. Rommel het oor kinderspore kom lê sonder dat iemand ’n oog geknip het.
Nog ’n week sal die hoofopskrifte aan ’n lamppaal hang – om háár lamppaal voor Ramos-kafee met die tjips-reuk. Hierdie keer gaan hulle ’n kous kry, en steeds geen eyewitnesses nie. Dit is asof Ziggie nie eens bestaan het nie. Een van haar ou kamerade op Koster het eenmaal gesê: “It takes a village to raise a child.” Maar hoe gemaak as die “village” jou in die steek laat?
Terwyl Ziggie hier langs haar stap, trek Koeks haar swart baadjie bo-oor haar wit rok met die bruin fraaiings aan. Dit raak skemer; die herfswindjie wil sny. Sy korrel die lug in; die maan lê sekel. Dit gaan ’n koue, donker nag op straat wees.
Lees die eerste weergawe van "Die koekie-tannie"
Lees die eerste keurverslag oor "Die koekie-tannie"
Terug na die lys Nuwe Stories-kortverhale: Tweede weergawe
Teken in op LitNet se gratis weeklikse nuusbrief. | Sign up for LitNet’s free weekly newsletter.

